Video: Slik steeds enkeldiep jaar ná ramp

Daar heers kommer oor die gesondheidsgevare wat die slik vir inwoners kan inhou (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Op plekke lê die slik nog só diep dit lyk asof die myndam in Jagersfontein in die Vrystaat se wal gister gebreek het. Dele van die nedersettings buite die dorp is ook steeds verlate nadat sowat 50 huise hier in die slag gebly en die regering skynbaar steeds nie nuwe huise gebou het nie.

Die meeste huise staan soos ou murasies: halfgebou en onbewoonbaar. Van die huise is tot op die fondasie afgebreek.

Dit is reeds 13 maande sedert daardie rampspoedige dag, maar vir inwoners wat deur die Jagersfontein-slikramp geraak is, voel dit soos gister.

“Daai ding bly in jou kop en gaan nie weg nie. Ons is daai dag met net die klere aan ons lyf uit die huis weg,” sê January Ghaba (69), een van die mense wie se huis in die ramp verwoes is.

Drie mense is dood, een steeds vermis en sowat 186 inwoners van die Charlesville- en Itumeleng-nedersetting is dakloos gelaat toe die slikdam op 11 September verlede jaar gebars het. Sisi Ntombela, destydse premier van die Vrystaat, het toe beloof dat inwoners wat geraak is, nuwe huise sou kry.

Daar is egter tot dusver net een enkele huis voltooi wat die regering as skouhuis gebou het, maar dié is kleiner as ʼn standaardgrootte motorhuis.

Die enkele skouhuis wat die regering in Charlesville opgerig het (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Verder is agt huise tot dakhoogte gebou en 37 se fondasies is gegooi. Maroela Media het Saterdag berig dat werk aan huise tydelik gestaak is ná ʼn waarskuwing dat nóg ʼn damwal buite die dorp aan die kraak is. Bouwerk is op 4 Oktober hervat, maar niemand sal toegelaat word om die huise te betrek voordat al die slik nie uit die dam gepomp is nie.

Van die huise wat gebou gaan word se fondasies is nog net gelê (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Van die huise staan halfgebou in die Itumeleng-nedersettings effens Jagersfontein (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Jagersfontein Development (JD), die maatskappy wat die diamantverwerkingsaanleg besit, het ook drie skouhuise in die middedorp gebou. Dié huise word egter ook nog nie bewoon nie.

Jagersfontein Development het drie skouhuise in die middedorp van Jagersfontein gebou (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Een van die skouhuise wat in die middedorp van Jagersfontein gebou is (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Nog geen poging is aangewend om die inwoners se situasie te verbeter of verligting te bring nie. Geen of bitter min vordering is tot dusver gemaak met die oprig van infrastruktuur en die opruim van slik en niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie, sê Adriaan de Bruyn, VF Plus-LP in die Vrystaat. “Dit is onaanvaarbaar om te dink dat ʼn enkele huis ná ʼn jaar gebou is.”

Inwoners onseker oor toekoms

Betta en January Ghaba het al hul besittings ramp verloor (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Ghaba en sy vrou, Betta (68), woon tans in ʼn kamer in January se broer se huis. Hulle het geen idee wanneer hulle weer ʼn huis sal hê nie.

“Ons weet nie wat aangaan nie. Ons is gestres. Al wat ons nou kan doen, is om in hierdie klein kamer te sit en wag en te bid. Ons bid dat die Here ons hartseer wegvat,” vertel Ghaba.

Hy het die dag voor die ramp sy motorhuis klaar gebou en was baie trots op die huis wat hy oor die jare opgebou het. Dit sou sy aftreehuis wees.

“Ek is te oud om nou só te sukkel. Ek moes eintlik nou gerus het. Nou het ek nie meer ʼn plek om rustig te sit nie. Ek is soos iemand wat nog nooit gewerk het nie. Ons het niks meer oor nie.”

Ghaba se twee geliefkoosde motors is ook deur die ramp beskadig. Hy moes sy Volkswagen Jetta uit die slik haal en dié staan nou onklaar by hul nuwe tuiste.

Hy het ook al sy varke en hoenders in die slik verloor. Dit was sy enigste bron van inkomste.

Rio-Rita Breytenbach (40) is destyds deur die slik meegesleur en het 12 km verder op ʼn boer se plaas uitgespoel. Sy en haar broer, Theo, ʼn werktuigkundige, woon tans by ʼn familievriend in Charlesville. Hul huis is erg deur die ramp beskadig.

Rio-Rita Breytenbach is 12km met die slik meegesleur (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Ek mis my huis en wil terugtrek. Ons is dankbaar vir die dak oor ons koppe, maar dit voel nie soos ons huis nie. Ons kan nie kom en gaan soos ons wil nie. Ons weet ook nie wanneer ons weer sal kan terugtrek nie en ons kry geen antwoorde hieroor [vanaf die regering of myn] nie,” vertel Breytenbach.

Nondyebo Moeng van die Rebonelesedi-crèche in Charlesville het kort ná die ramp die crèche van haar huis af bestuur omdat die crèche se geboue vernietig is. Die geboue is in Julie vanjaar herstel, maar die skooltjie het omtrent al sy besittings verloor.

“Ons sit sonder swaaie, matte vir die kinders se speelkamer, matrasse waarop hulle slaap en selfs ʼn stoof om vir die kinders kos te maak,” vertel Moeng.

Die slikwater staan nog enkeldiepte n jaar ná die slikramp (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Mense is ontevrede dat die opruimwerk nog nie verder gevorder het nie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

De Bruyn sê al word daar vir die inwoners huise gebou, is hul kosbare besittings (soos erfstukke en foto’s) vir ewig verlore.

Hy sê indien daar nie nalatigheid en agterlosigheid van die Vrystaatse regering se kant was nie, sou die mense se lewens in die eerste plek nie so omvergegooi gewees het nie.

“Die gemeenskap het lank voor die ramp gewaarsku dat die damwal besig is om te kraak en nie aan die nodige veiligheidsmaatreëls of -gehalte voldoen nie, maar dit het op dowe ore geval.”

Volgens De Bruyn het die regering nie die politieke wil om die mense te help nie.

“Die grootste probleem is dat daar geen deursigtigheid is oor wat aangaan nie. In hierdie stadium is dit vir hulle [die ANC] belangriker om hul hande skoon te hou en vinger na ander te wys te hou as om die probleem op te los.”

Nog foto’s ‘n jaar ná die slikramp:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mattk ·

Dit is maar net te wonderlik hoe vinning die regering is met hulle beloftes en dit dan net nakom nie. Wonder in wie se sak het die beloofde geld beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.