Video: Sywurmplaas gedy in Laeveld

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die meeste Suid-Afrikaanse kinders het sekerlik al met sywurms in skoendose “‘geboer”. Hoewel dit op die oog af soos ʼn “doodnormale wurm” lyk, was die sy wat dit gespin het in die verlede net so waardevol soos goud en silwer.

Dié wurm se spinvermoë word al van 3 000 v.C. gebruik om materiaalprodukte te maak en die mark het die laaste paar jare ʼn nuwe era betree, waar die waarde van sy ook in die mediese wêreld begin ontgin is.

In Suid-Afrika is die enigste en vernaamste syplaas, genaamd Africa Silks, in die hartjie van die Laeveld in Mpumalanga geleë. Dié plaas is sowat 23 km buite Graskop en word al die afgelope 20 jaar deur die eienaar, Ronel Swart, wat ʼn sywurmboer in murg en been is, bestuur.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Swart het aanvanklik op kleinskaal begin en gehoop die boerdery “sal eendag iets vir iemand beteken”. Vandag is daar ongeveer 6 ha se moerbeibome en honderde duisende sywurms (die plaas kan een generasie van 115 000 sywurms op ʼn slag hanteer).

Daar word regdeur die jaar geproduseer en die onderneming vervaardig sy eie syprodukte. Daar is ʼn wewery in Graskop waar die sy met die hand in produkte ingeweef word. Die produkte word dan in sewe Africa Silks-winkels reg oor die land verkoop.

Swart se reis met sywurms het in 1992 begin, toe sy saam met die regering aan ʼn sywurm-projek op ʼn navorsingsplaas in Bosbokrand, wat aan die staat behoort het, gewerk het. Die plaas is na drie jaar geprivatiseer en die projek het tot ʼn einde gekom. Swart het besluit om in Thailand opleiding oor sywurms te kry, met die doel om eindelik haar eie sywurmboerdery aan die gang te kry.

Sy het met sywurms begin boer op die plaas waarop Africa Silks tans bedryf word. Die plaas het aan haar ma behoort.

Swart boer met die Bombyx mori (huishoudelike sywurm), wat groot wit, geel of selfs groen kokonne spin. Swart het oorspronklik wurms van China en Indië af ingevoer, maar oor die jare haar eie “Afrika-wurm” geteel.

“Ons het ons eie wurm geneties gemanipuleer om in die Suid-Afrikaanse weersomstandighede te oorleef,” verduidelik Swart.

“Met die invoer van wurms weet jy nie altyd wat jy kry nie. Dit is ook ʼn proses om die wurms wat ingevoer word eers in kwarantyn te plaas om seker te maak dit dra nie siektes of virusse nie.”

Die wurms kan maklik virusse opdoen en is sensitief vir swamme, sê Swart. Daarom is dit van kardinale belang dat die wurms se hokke so skoon as moontlik gehou word en dat hulle skoon, vars en droë blare gevoer word.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Besoekers kan toere van sowat ʼn uur op die plaas meemaak, waar hulle die sywurm se hele lewensloop waarneem – van die eier na die larwe, wurm, papie tot mot.

Die wurm se lewensloop duur 26 dae en gaan deur vyf verskillende stadiums. Die wurm vermeerder sy gewig 10 000 maal in dié 26 dae.

Die wurm word tussen drie en vier keer per dag gevoer – ʼn generasie wurms vreet sowat 0,5 ha se moerbeiblare.

Die blare van drie verskillende moerbeibome, naamlik die Thaishang-, Waterkloof- en Noi‑moerbeiboom, word in verskillende stadiums vir wurms gevoer.

Verder is humiditeit, die regte temperatuur en die gehalte van die blare belangrik om uiteindelik ʼn wurm (en kokon) van goeie gehalte te kry.

Die wurm rus tussen die verskillende stadiums, wanneer dit dan ook vervel en nie eet nie. Wanneer die wurm in sy russtadium is, is sy kop hoër as sy lyf en moet hy glad nie gesteur word nie.

Net voordat die wurms in papies verander, spin hulle hulself toe in ’n kokon. Die spinproses duur vir sowat drie dae en drie nagte. Die kokon bestaan uit ’n enkele sydraad (van sowat 1,3 km lank), wat in warm koeksoda-water uitgerafel word voordat die sy geweef en in syprodukte omskep word.

Dit neem sowat 4 800 afgekookte sywurmkokonne om 1 kg sy te vervaardig en daarom is dit volgens Swart ʼn “arbeidsintensiewe” bedryf.

Wat Africa Silks uniek en eties maak, is die feit dat die wurm toegelaat word om met sy natuurlike lewensloop voort te gaan voordat die sy gebruik word.

Kyk hier na die wurm se lewensloop en proses van syproduksie:

Voordele en gebruike van wurms, kokonne en sy

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Swart is sy die sterkste, beskikbare natuurlike vesel. Sy se lae digtheid maak dit ideaal vir die vervaardiging van ligte, gemaklike klere. Dit het ook goeie isolasie-eienskappe wat ʼn persoon warm in die winter en koel in die somer hou.

ʼn Kokon bestaan uit twee proteïene, genaamd fibroïen en serisien . Kunsmatige hartkleppe, knie-implantate en chirurgiese gare word uit die fibroïen van die kokonne gemaak

Serisien word gebruik as bestanddeel in medisyne en sekere lyf- en gesigrome. As gevolg van sy elastisiteit en treksterkte, tesame met ’n natuurlike affiniteit vir keratien, word dit hoofsaaklik in die behandeling van die hegting van wonde gebruik.

In Oosterse lande, veral in Thailand, word serisien in poeiervorm vir bejaarde persone gegee om spier- en beenderepyne te verlig.

Van Africa Silks se kokonne word oorsee gestuur vir navorsing vir mediese doeleindes.

Die sywurms self word as terapiemiddel gebruik vir onder meer kinders wat aan outisme of hiperaktiwiteit ly. “Die sywurms maak kinders rustiger en kalmer. As hulle mooi na die wurms kan kyk en versorg, het dit ook ʼn rustige uitwerking op dié kinders.”

Geskiedenis

Syproduksie het sowat 3 000 v.C. in China begin en dié industrie was vir sowat 2 000 jaar eksklusief in dié land bedryf. Buiten kledingstukke, is sy ook vir verskeie produkte soos vislyn, boogsnare, musiekinstrumente en papier aangewend.

Sy was uiters waardevol en om sykledingstukke te dra was ’n belangrike statussimbool. Aanvanklik is slegs lede van die koninklike familie toegelaat om sy te dra. Later is syklere tot slegs die adellike klas beperk en handelaars en kleinboere is nie toegelaat om sy te dra nie. Sy is selfs in ’n stadium as geld gebruik.

Enigiemand wat enige inligting rakende sy uitgelek het, is swaar gestraf (selfs die doodstraf opgelê).

Soos die mark in China vergroot het, is sywurm-eiers later uit China gesmokkel, wat daartoe gelei het dat dit ook ʼn handelskommoditeit buite China geword het.

Die boer met sywurms het in 1866 in Suid-Afrika begin met ʼn onderneming in Stellenbosch, genaamd The Silk Culture Company, wat gestig is om werk vir bevryde slawe te skep. Daar is nie veel inligting oor die onderneming bekend nie, met slegs ʼn paar moerbeibome, bekend as die Waterkloof-moerbeiboom, wat nog vandag in Markstraat in Stellenbosch te sien is.

Die regering het toe in 1987 sy sywurmplaas in Bosbokrand begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Vandag het ek ook iets geleer wat ek nooit van geweet het nie. Merkwaardig!

Rudolph ·

Nog ‘n ‘boerdery’ geskoei op die uitbuiting mishandeling en ‘moord’ op weerlose, onskuldige diere. Sy is ‘n luuksheid waarsonder die mens kan klaarkom en daar is in elk geval vandag baie plaasvervangers daarvoor. Vermy asseblief die en ander diereprodukte sovêr dit prakties moontlik is

Miskruier ·

So n lewe in plastiek is beter as om natuurlike stowwe te gebruik. Ons stortingsterreine getuig daarvan.

OW ·

Ek dink nie jy ken die vier stadiums waardeer sywurms gaan nie.Daar is geen mishandeling en moord betrokke,wanneer sywurms aangehou word nie.Dit is nie ‘n dier nie,maar ‘n insek wat deur die goeie Vader aan die mens gegee is om “sy” te produseer.Dit is nie diere wat gejag word vir pelse nie.

Gerda ·

Rudolph, jy het duidelik nie mooi gelees of geluister nie. By die Africa Silks Plaas word alles op ‘n natuurlike manier gedoen. Sywurms word nie mishandel of vermoor nie. Die kokkonne word nie in kookwater gegooi nie, maar wel oopgesny sodat die motte lewendig kan uitkom en eiers kan lê. Daar word nie eens gif op die betrokke plaas gespuit nie. Alles is natuurlik, van die hoenders wat vrylik rondloop om natuurlike plaagbeheer toe te pas tot by die sywurms wat net die beste blyplek en blare het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.