Video: TMPD-lede probeer glo videonemery stuit ná hofverskyning

Skermgreep uit die video.

Beamptes van die Tshwane-metropolisie (TMPD) het ʼn lid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede week glo hardhandig behandel nadat hulle op korrupsieverwante aanklagte in die Pretoriase landdroshof verskyn het.

Barry Bateman, woordvoerder van dié eenheid, is Donderdag buite die hofsaal voor stok gekry toe hy ná die hofverrigtinge ’n video van Johnson Lebombo, Aubrey Phalane en Makgoba Raboshacia met sy selfoon wou neem.

Die drie beamptes het minute vantevore op aanklagte van afpersing, roof, ontvoering en intimidasie in die beskuldigdebank verskyn.

Lebombo en Phalane was oënskynlik nie beïndruk met Bateman se videonemery nie en het klaarblyklik probeer om Bateman se selfoon by hom af te neem.

Bateman sê hy is tydens die voorval hardhandig behandel en met inhegtenisneming gedreig.

Hy sê die metropolisiebeamptes se optrede is egter nie verbasend nie.

“As dít die optrede van beskuldigde polisiemanne is, stel jou net die bravade van polisiebeamptes voor wanneer hulle in uniform is, gewapen en met blou ligte ry.”

Verskeie getraumatiseerde motoriste het Maroela Media die afgelope paar weke genader nadat lede van die TMPD hulle voorgekeer, gedreig en uiteindelik gedwing het om duisende rande aan die beamptes te betaal.

’n Direktief is verlede week – slegs ʼn dag voor die voorval by die Pretoriase landdroshof – uitgereik ingevolge waarvan motoriste toestemming verleen word om ʼn metropolisiebeampte se aanstellingsertifikaat aan te vra en selfs ʼn foto van die beampte of van sy of haar voertuig te neem.

Volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan die betrokke drie verdagtes ook in vyf ander sake tereg, terwyl die moontlikheid van nóg aanklagte teen hulle ondersoek word.

“Ten spyte hiervan is hulle steeds aan diens as dienende Tshwane-metropolisiebeamptes,” sê Bateman.

Die drie beamptes word in die saak daarvan beskuldig dat hulle in September verlede jaar ’n motoris afgetrek en hom daarvan beskuldig het dat hy die spoedgrens oorskry het. Die motoris se lewensmaat en hul tienjarige dogter was saam met hom in die voertuig.

Die beamptes het glo die motoris se persoonlike vuurwapen by hom afgeneem voor hulle gedreig het om hom in hegtenis te neem. Die man is daarna glo gedwing om kontant by ’n kitsbank by ’n vulstasie in Rigellaan in Pretoria te onttrek.

Die man is daarna na bewering agterin die metropolisievangwa geboender en na ’n verlate gebied geneem. Daar het hy die R4 000 wat hy by die kitsbank onttrek het aan hulle oorhandig en het hulle hom van ’n verdere R1 000, wat in sy beursie was, beroof.

Die drie beskuldigdes verskyn weer op 18 Julie in die hof in verband met dié saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Stuur hulle na die Wagner bataljon in die Donbas.

Brombeer80 ·

Ongelukkig word daar min gedoen aan sulke beamptes wat dink hulle is verhewe bo die wet wat hulle moet toepas en onderhou en dit maak dat onskuldige mense die wetstoepassers laat wantrou uit vrees vir sukle misdade wat gepleeg word. Hoeveel mense moet nog vir die ongeregtiheid afgerokkel word voordat die wet meer streng op mense toegepas kan word op mense wat die reg en geregtigheid so verydel?

Paul ·

TMPD is buite beheer! Wat doen die bevelvoerders om dit te stop of deel hulle ook in die afpers geld. Hulle is veronderstel om die mense te beskerm maar hulle is ons grootste vyande op die strate!

Roek ·

Ek dink werklik meestal van die metros is buite beheer , dit is soos ‘n video spelejie om te kyk wie kan die meeste verdien en die abso;ute minste te doen !

Kokerboom ·

Vir baie jare is die TMPD buite beheer en tree op soos ‘n mafia. Ek stel voor Cilliers Brink knip bietjie hul draadjie! Vraag bly ook: Wat maat Tshwane met 4000 beamptes!!!!!

Danie ·

Jy kan eerder vra waar is die 4000 beamptes, want jy kry hulle nie waar daar verkeersopeenhopings is of wanneer die krag af is by dienspunte nie, hulle sit eerder by die snelwee met n kamera en vang die wat dalk te vinnig ry , gaan kyk by die baie besige gedeeltes daar is niemand want dan moet hy entlik buite sy voertuig wees en vir n slag werk

Henk ·

4000 beamptes ? Ongelooflik waar is hulle?
Nee man maak hulle minder,hulle doen nie hulle werk nie !!!

Henk ·

4000 beamptes ? Ongelooflik.
Waar is hulle almal ?
Sny met die helfte en spaar baie geld wat weer elders aangewend kan word.

Anel ·

En die ergste is, hulle word betaal met ons munisipale rekeninge se geld!!

August ·

Dink ons het die reg om te weet wie die is en ook om uit te kyk vir hulle! Daar moet sommer n klag van aanranding met die doel on te beseer teen hom gebring word, en saak beskadiging

MARELIZ ·

Terwyl ons nou besig is met die TMPD, klomp van hulle sit baie aande op die Moloto pad by die OK ? Algemene winkel se ingang – Na ure, vernaam einde van die maand en stop net karre vanaf Suide.
Geen bus of trok wat by hulle verby jaag, word ooit voor gekeer nie.
Stop niks vermoendende mense, veral ouer bestuurders, wat dalk nie die wet soo goed ken nie. Ek is ookal afgetrek. Nooit ooit is daar ‘n boek vir oortredings/Boetes te sien nie, of, is ek al ooit gevra of ek iets gedrink het nie.?? Geen apparaat. As dit regtig wets toepassing is, waar is die
“Tools of the trade” ??? Net daar vir intimidasie en koeldrank geld.
Ek daag die TMPD uit om vir MAROELA EEN kopie te laat kry van boete wat die afgelope 2/3 weke daar uitgereik is, of nog beter, die wat oortyd betaal is vir daardie laat aande. Sal nie my asem ophou vir die bewyse nie.

christo ·

Tshwane Metropolisie is ‘ want to be police’ wat nie die gewone SAPD keuring kon slaag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.