Video: Trane vloei toe renosterwesies terugkeer na natuur

Gertjie as ‘n jong bulkalfie kort nadat hy gered en na Hesc geneem is. (Foto: Verskaf)

Toe twee renosterwesies onlangs ná vyf jaar in aanhouding by die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) in Limpopo in die natuur vrygelaat word, was dit ʼn emosionele oomblik om die logge lywe te sien wegstap na hul tweede kans op die lewe.

Dit was ʼn uitsonderlike reis tot hier – vyf jaar van trane, nagte vol kommer en baie vasbyt. Maar ongetwyfeld al die moeite en harde werk werd, sê Janelle Genis, ʼn veeartsassistent by HESC.

Die renosterbulletjies, Gertjie en Matimba, het in 2014 inwoners van HESC geword toe hulle ma’s slagoffers van die vlaag renosterstroping in die land geword het.

Gertjie was net drie maande oud toe sy ma op 7 Mei 2014 reg voor hom op ʼn plaas naby Hoedspruit in Limpopo vir haar horings doodgemaak is. Gertjie is enkele ure ná die voorval gevind. Hy het die beproewing oorleef, maar was erg getraumatiseerd. Boonop was hy nog so klein dat hy 24 uur van die dag gemonitor en elke drie ure gevoed moes word.

Die jong renosterbulletjie se eerste dierevriend by HESC was Lammie, die skaap. Dit was ʼn ongewone, maar hegte vriendskap wat almal wat dit aanskou het se harte gesteel het.

Karen Swiegers, algemene bestuurder by HESC, verduidelik Lammie kon permanent aan Gertjie se sy bly, wat baie gerusstellend vir die klein renostertjie was. Dit was byna onvermydelik dat ʼn spesiale band tussen die twee sou vorm.

Matimba was net een maand oud toe sy ma doodgemaak en hy na Hesc geneem is. (Foto: Verskaf)

In November 2014 het nog ʼn renosterbulkalfie by HESC aangekom nadat dieselfde lot sy ma getref het. Matimba is op 18 November 2014 na HESC gebring nadat sy ma doodgemaak is terwyl die twee onverhoeds deur stropers oorval is terwyl hulle saam ʼn modderbad gevat het.

Matimba was maar net een maand oud en het ʼn skrale 60 kg geweeg toe hy gered en na HESC gebring is.

Gertjie en Matimba se eerste ontmoeting was komieklik met Gertjie wat aanvanklik effe versigtig was vir dié vrolike renosterbulletjie wat al te graag wou kennis maak. Dit was egter nie lank voor die twee mekaar leer ken en ʼn band gevorm het nie.

“Hulle is nou soos broers,” sê Linri Janse van Rensburg, hoofkurator by HESC. “Gertjie het die natuurlike rol as Matimba se ouer broer ingeneem; dit het gelyk asof hulle reg van die begin mekaar se pynlike verlede verstaan het. Daar was ʼn melankoliese dierbaarheid aan hul vriendskap.”

Die twee renosterbulletjies het van krag tot krag gegaan, is uiteindelik van bottelmelk gespeen en het begin om te wei en aan lusern te smul. In Junie 2016 is Gertjie en Matimba na ʼn groter stuk grond geskuif waar hulle minder interaksie met mense gehad het en ʼn meer natuurlike omgewing vir hulle geskep is. Die twee renosters is deurlopend aan ander renosters by HESC, wat ook stropingsvoorvalle oorleef het, voorgestel, maar dit was duidelik dat die duo mekaar se geselskap verkies het.

Gertjie met sy eerste dieremaat, Lammie, die skaap. (Foto: Verskaf)

Verlede maand het die oomblik uiteindelik aangebreek – Gertjie en Matimba was gereed om terug te keer na die natuur toe.

“Wanneer ons oorweeg om ons renosters vry te laat, bespreek ons dit eers met ʼn veearts voor ʼn finale besluit geneem word,” verduidelik Swiegers. “Die meeste renosters wat met die hand grootgemaak is, is vanaf die ouderdom van vyf jaar gereed om vrygelaat te word. Dit verseker dat hulle oud genoeg is om in die natuur na hulself om te sien. Ons hou ook ʼn oog op hul gedrag om te bepaal of hulle in die natuur sal oorleef.”

Die twee renosters is in ʼn reservaat vrygelaat waar daar uitstekende teenstropingsmaatreëls en -veiligheid ingestel is.

“Jy kan nooit ʼn dier vrylaat en sê hy sal nou vir die res van sy lewe veilig wees nie, maar hierdie diere móét vry in die natuur wees,” sê Corlet Grobler, ʼn honde-afrigter by HESC se teenstropingseenheid. “Ons hoofdoelwit is altyd om diere weer vry te laat. Die rehabilitasie is net helfte van die werk. Ons kies egter altyd ʼn eiendom waar daar die nuutste omheining en ʼn uitstekende teenstropingseenheid gereed is om hulle so veilig as moontlik te hou,” sê Grobler.

Gertjie en Matimba is baie geheg aan mekaar en bly selfs in die natuur aan mekaar se sy. (Foto: Verskaf)

Janse van Rensburg sê op haar beurt dat die sentrum nooit eers sou oorweeg om Gertjie en Matimba apart vry te laat nie. “Jy sien die een nooit sonder die ander nie. Matimba was die meer beskermende en aggressiewe een van die twee, terwyl Gertjie ʼn kalmerende effek op Matimba gehad het,” sê sy.

Toe die hekke oopgemaak word, en die twee renosters hul eerste versigtige treë na die vryheid van die natuur neem, het trane van blydskap onder die HESC-personeel gevloei. Dit was die twee renosters se tweede kans – ʼn tweede kans op die lewe en voortplanting.

Vir Lente Roode, stigter en besturende direkteur van HESC, was dit ʼn oorweldigende oomblik. “Ek is so gelukkig vandag, dit is regtig ʼn emosionele gebeurtenis. Om te sien hoe hierdie twee renosterwesies, wat ons met die hand grootgemaak het, nou vry in die natuur is – dit is oorweldigend,” het Roode gesê.

Gertjie wei rustig met Matimba nie ver weg nie. (Foto: Verskaf)

Swiegers vertel Gertjie en Matimba is al ʼn paar keer opgemerk sedert hul vrylating en dit gaan goed met die renosterbroers wat deurentyd sorg dat hulle by mekaar bly.

Intussen gaan HESC voort om baanbrekerswerk te doen in die beskerming en rehabilitasie van bedreigde dierespesies, insluitend renosters. Hoewel die renosterstropingsvoorvalle in die afgelope drie jaar afgeneem het, is die krisis nog ver van verby.

Meer as 1 000 renosters is jaarliks tussen 2013 en 2017 vir hul horings doodgemaak. In 2015 het dié getal afgeneem tot 769 renosters wat doodgemaak is.

Daar is egter nog geen rede om die aftog te blaas in die stryd teen renosterstroping nie. By HESC word daar geglo dat elke renoster saak maak en dat elke renoster wat gered word, ʼn suksesstorie is.

Lente Roode, stigter en besturende direkteur van Hoedspruit Endangered Species Centre, tydens Gertjie en Matimba se vrylating. (Foto: Verskaf)

Investec is een maatskappy wat baie doen om by te dra tot algemene natuurbewaring en die stryd teen renosterstroping in Suid-Afrika. Die maatskappy se bewaringstrategie behels die befondsing van ʼn aantal biodiversiteitsprojekte wat help om die volhoubare voortbestaan van Afrika se ryk natuurlewe en beperkte hulpbronne te verseker.

Deur Investec Rhino Lifeline werk Investec saam met kenners soos dié by HESC om die redding van renosterwesies, hul rehabilitasie en uiteindelike vrylating in die natuur die ondersteun.

“Die kans om te kon sien hoe hierdie renosterwesies vrygelaat word, was werklik spesiaal,” sê Tanya dos Santos, groepshoof vir volhoubaarheid by Investec. “Hierdie is bewaringsoomblikke wat vasgevang, gedokumenteer en gekoester moet word, want dit speel ʼn belangrike rol in die toekoms van die mensdom.”

Hou Maroela Media dop vir nog beriggewing oor die Hoedspruit Endangered Species Centre en die werk wat daar gedoen word.

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarel ·

Fantastiese werk maar maak my bekommerd. Moes dit nie maar net stil stil gedoen geword het nie. Nou weet die Stropers van hulle

VanAfrika ·

Ag tog, ek sit sommer ook emosioneel en my hart voel groot in my borskas. Dis so lekker om te sien dat daar so vir ons wild baklei word. Ek het ook nou net aangesluit by Four Pawa en gee R150.00 per maand om ons mishandelde leeus te beskerm. Gaan google julle gerus en sluit aan. Die dame wat my terug gebel het om dankie te sê vir my 12 maande bydrae was so dankbaar en ek kon dit in haar stem hoor. Die mense het die fondse brood nodig en elke bietjie van ons kant af sal help al is dit net R150.00 n maand.

Maria ·

Eeste wil dankie se vir hulle harde werk en omgee maar soos Sarel se is ek ook maar bekommerd dalk klink weerd maar dit veilig om sy horing afsny voordat hom ook doodmaak .

Anoniem ·

Ek koester bedenkinge oor die vrylating in die “natuur” van hierdie tipe diere… Hulle mag dalk beter af wees in ‘n dieretuin of sodanige veilige plek. Hulle is so maklike teiken vir die “poachers”

dalene ·

Hoop en bid hulle bly veilig. Dankie vir die baanbrekers werk julle.

Ida Kriel ·

Baie dankie MM vir hierdie pragtige dog emosioneel artikel. Vir almal wat betrokke is by hierdie redding van die twee renosters, kan ek maar net my dankbaarheid betuig en loof dat daar mense en instansies is wat hierdie prag diere vir ons help en versorg en kyk dat hul die beste veiligheid kan geniet. Julle is engele wat ons diere versorg, beskerm en finansieel ondersteun. Mag meer diere gehelp word en meer mense betrokke raak om hierdie onskuldige diere in ons natuur te beskerm en te help.

toy ·

Ek raak vreeslik geheg aan ‘n dier, dit sal vir my moeilik wees om hulle te laat gaan, ek sal so lief raak vir daai shrek ore en gesiggies.

Helene ·

Dankie aan almal betrokke dat hulle die paadjie saam gestap het met hierdie Tweetjies! Ek sou die vrylating nie aan die klok gehang het nie. Maar nou ja, te laat. Baie dankie vir julle wonderlike werk vir alle diere!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.