Video: Van dodelike draadstrik tot juweel-pragstuk

WAARSKUWING: Die artikel bevat grafiese inhoud en beeldmateriaal en kan sommige lesers ontstel.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

In die hande van ʼn stroper word ʼn stuk draad gebruik om dood te maak. Dieselfde stuk draad, in die hande van twee sibbe van Hoedspruit in Limpopo, maak die mooiste juweliersware.

Lilly en Troy Otto, stigters van die organisasie Down to the Wire, het hul kreatiwiteit gekombineer om iets wat soveel seer en verwoesting saai, in ʼn waardevolle en bruikbare versamelitem te verander.

Lilly sê strikke is ʼn wydverspreide en ernstige probleem wat jaarliks die dood van ​​miljoene diere wêreldwyd op die wreedste denkbare manier veroorsaak. Dit is boonop ʼn uiters doeltreffende metode wat min moeite van die stroper vereis, maar ʼn groot bedreiging vir verskeie wildspesies inhou.

“Indien wild kan ontsnap – wat volgens verskeie kenners selde gebeur – oorleef hulle nie sommer sonder menslike ingryping nie en sterf hulle dikwels weens die ernstige beserings wat hulle in die verstrikking opgedoen het.

“Hulle sterf ʼn stadige en pynlike dood,” verduidelik Lilly.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Down to the Wire is geïnspireer deur die gebrek aan bewustheid oor strikke in die algemeen en die uitwerking wat dit op die natuurlewe het.

Volgens Lilly streef hulle daarna om strikke in iets inspirerend, bruikbaar en mooi te omskep; iets wat hoop vir die natuur simboliseer en bewustheid oor die kritieke onderwerp kweek.

“Al ons produkte is uniek en handgemaak en is deur ons wonderlike diere in Suid-Afrika geïnspireer. Ons doelwit is om soveel mense moontlik oor die negatiewe impak wat strikke vir ons natuurlewe inhou, in te lig.

“Ons wil hoop skep waar daar nie is nie; ons wil onskuldige diere wat deur strikke bedreig word van ʼn wrede dood red.”

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Lilly sê sy en Troy het nog altyd ʼn groot liefde vir diere en hulle wou graag ʼn manier vind om diere op ʼn unieke manier te help.

“My broer was besig met ʼn strikverwyderingsoperasie saam met ander teenstropery-eenhede toe hy op ʼn vlakvark in ʼn strik afkom. Hy kon sien hoe die dier gely het, hoe wreed sy dood is. Dit het sy hart gebreek, hy wou so graag iets doen om haar te help…

“Dit is toe dat ons droom vir Down to the Wire begin het,” sê Lilly.

“Toe ons organisasie dit regkry om die eerste dier red, het die gogga behoorlik gebyt. Ons wou daarna net nog diere red. Ons wil regtig ʼn verskil in diere se lewe maak.”

Down to the Wire gebruik strikke – wat deur teenstropery-eenhede aan hulle verskaf word – om juweliersware te skep. Die pryse van items in die reeks juwele wissel van R80 tot R300.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Die geld wat ons met die juwele insamel, word dan weer aan teenstroopeenhede en veeartse geskenk om diere wat in strikke gevang word, te behandel,” sê Lilly.

“Teenstropingseenhede doen hulle bes om hierdie doodslokvalle uit ons wildgebiede te verwyder, maar sodra dit verwyder is, dien die strikke geen doel nie. Daarom het ons besluit om alternatiewe maniere te vind om iets wat so vernietigend is, te verander in iets wat hoop simboliseer, ” sê Lilly.

“Ons streef daarna om bewustheid oor hierdie kritieke onderwerp te skep. Ons streef om strikke in unieke, handgemaakte juwele te verander wat as ʼn simbool van lewe gesien kan word.

“Enige dier wat deur verstrikking geraak word, mag nie sonder hulp gelaat word nie, ongeag hul grootte of bedreigde status,” sê Lilly.

“Wie sou ooit kon dink dat iets wat soveel verwoesting saai, in iets so mooi omskep kan word?”

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Cathy Troskie, medestigter van Phalaborwa Natural Heritage Foundation (PNHF), ʼn teenstropery-eenheid sonder winsbejag, sê onwettige wildstroping is ʼn jarelange probleem en een van die gewildste maniere om te stroop, is deur die gebruik van draadstrikke.

“Down to the Wire pak hierdie bedreigings van ons kosbare natuurlewe. Hulle maak ons werk baie makliker en bied nou al geruime tyd ondersteuning in verskeie operasies.

“Hulle kom nie altyd saam op strikverwyderingsoperasies nie omdat hulle regtig baie besig is, maar wat fondse betref, het hulle nog altyd gehelp.

“As daar byvoorbeeld ʼn olifant in ʼn strik is, moet ʼn helikopter gehuur word en veeartskoste moet gedek word. ʼn Enkele operasie kan tot R40 000 kos,” sê Cathy.

(Foto: Verskaf)

“Ons hou hulle gereeld op hoogte van die operasies waarmee ons besig is en hulle reik dan ook na ander organisasies uit om die koste te help dra.

“Hulle speel regtig ʼn groot rol in ons bedrywighede; vir ons is Down to the Wire uiters waardevol.”

Down to the Wire bied ook klasse aan waar belangstellendes die kuns – om juwele uit strikke te maak – self kan aanleer.

“As jy iets betekenisvol, opwindend en inspirerend wil doen, hoef jy nie verder te soek nie. Dit is ʼn mengsel van avontuur, opvoeding en die stryd om ons wildlewe te red,” sê Lilly.

“Jy sal leer om jou eie reeks strikdraadkuns en juweliersware te ontwerp en te skep. Jou unieke styl en smaak sal deur jou items weerspieël word en die opbrengs uit die verkoop van jou unieke items sal gebruik word om diere te red.

“Só maak ons ʼn werklike verskil in natuurbewaring.”

Kyk hier na Down to the Wire se juweliersware wat uit draadstrikke gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman L ·

Dit is beslis ‘n wonderlike manier om ‘n ernstige probleem te help beveg. Ek wonder net hoe verhoed hulle dat die juwele roes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.