Video van straatresies op N1 maak stadsraad boos

Die bestuurder van die BMW is kritiek beseer nadat hy in die versperring op die N1 by Century City vasgejaag het. Foto: ER24

Die Kaapse verkeersafdeling sê hulle is bewus van die video wat in sosiale media versprei word van ʼn jaagtog op die N1 wat op ʼn botsing uitgeloop het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die voorval het kort ná middernag Maandagoggend plaasgevind toe die bestuurder van die blitsvinnige BMW M3 ernstig beseer is.

“Dié voorval is die jongste voorbeeld van die verwoesting wat onwettige straatrenne op ons strate aanrig,” sê Smith. “Die groep mense op die brug wat die voorval staan en verfilm het, is ewe kommerwekkend.”

Die BMW-bestuurder en ‘n motorfietsryer was blykbaar in ’n jaagtog betrokke. Foto: Skermskoot

Op die video van die voorval kan gesien word hoe ʼn motorfiets en ʼn motor teen ʼn ysingwekkende spoed op die snelweg aangejaag kom voordat die bestuurder van die motor blykbaar beheer oor die voertuig verloor en in ʼn ongeluk betrokke is. Stofwolke hang in die lug waar die wrak van die voertuig langs die pad tot stilstand gekom het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die 26-jarige bestuurder is kritiek beseer in die ongeluk oorkant Century City. “Ons paramedici en dié van Life Healthcare het net ná 01:00 op die toneel aangekom toe die brandweer reeds na die pasiënt omgesien het.”

Op die video kan gesien word hoe die BMW in die versperring vasjaag. Foto: Skermskoot

By nadere ondersoek het die paramedici vasgestel dat die man ernstige beserings aan sy bene en kop opgedoen het. Hy is van die ongelukstoneel af na die Life Vincent Palotti-hospitaal in Pinelands vir verdere behandeling gebring.

Smith sê die voorval is deel van ʼn voortdurende probleem waarmee Kaapstad se verkeersbeamptes week ná week te kampe het, veral die spookeenheid.

Gelukkig is niemand anders in dié geval beseer nie

“Gelukkig is niemand anders in dié geval beseer nie,” sê Smith, “maar daar was vantevore volop gevalle waar onskuldige mense met hul lewe moes boet vir ander se roekeloosheid en arrogansie.”

Smith sê al kan die Kaapse verkeersafdeling mense nie vervolg op grond van videomateriaal wat inwoners geneem het nie, kan die polisiediens die saak ondersoek. “Ons hoop hulle doen dit in dié geval.”

Die stadsraad het reeds met die nasionale vervolgingsgesag oor dié geval geskakel. “Hulle het laat weet hulle kan nie ʼn saak open of kennisgewings uitreik gegrond op lede van die publiek se verklarings nie,” sê Smith, “en dat net die SAPD die saak kan ondersoek en ook net nadat ʼn lid van die publiek gekla het.”

Intussen was lede van die spookpatrollie Sondag op die N2-uitwaarts betrokke in ʼn senutergende jaagtog met ʼn bestuurder wat byna 200 km/h gery het, sê Smith.

“Die bestuurder het verseg om stil te hou en toe tot die beamptes se verbasing midde-in die jaagtog plekke met sy passasier geruil. Toe eers het die voertuig afgetrek.”

Die oorspronklike bestuurder is in hegtenis geneem op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur asook dronkbestuur. Hy en sy passasier word albei van regsverydeling aangekla.

Smith sê die voortgesette wetteloosheid op die Kaapse paaie is “uiters teleurstellend”. Die verkeersafdeling het die afgelope week 123 verdagtes in hegtenis geneem en 1 793 boetes vir verskeie oortredings uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

IK ·

Vra my, ek het ‘n M3 gaan kielie op Zwartkops en dit is NIE speelgoed! 26 jaar oud en hy ry ‘n M3? Ja, nie onmoontlik maar doen ook eers en dink later.

Piet Pompies ·

Dit verg kennis en ervaring om ‘n motor tot sy uiterste te beproef. Die straatrenne wat die mense aan deelneem is uiters gevaarlik as mens in ag neem dit is op ‘n openbare pad. In baie gevalle beskik hierdie bestuurders oor min ervaring en is hulle motor kennis en ervaring heelwat minders as hul ego.
Sluit aan by ‘n motorsport klub, jy kan net soveel pret ervaar onder beheerde veilige toestande.

Karel ·

Glo maar dat daar daardie tyd van die nag drank betrokke is.

christa ·

kon dink dit kan net jongmense wees wat so onverantwoordelik kan wees. Ek wil glo dat as jy bietjie verantwoordelikheid het en iets tussen jou ore sal jy nie sulke dinge doen nie. Mans word mos nie groot nie, die speelgoed net duurder veral as hulle nie vir daardie speelgoed hoef te betaal nie.

sweiz ·

Waar was die wetstoepassers as daar nog so iets bestaan ,dit blyk almal pas net die perlemoen op as ek so kyk na die sukses wat daar behaal word.

Jurie Vermeulen ·

Hierdie straatrenne op daardie stuk pad vind al vir jare op Sondagaande plaas.

Fast and Ferdomp Stupid ·

Dis agv al hierdie jaag flieks wat die mense sit en kyk.
Fast and Furious.
Need for speed
Death race…..
Mense jaag onderdeur trokke. Speel chicken met mekaar net om op die nipperjie n “handbreak-turn” te maak en dan op 200km/h te “reverce”…
Klim deur vensters na ander voertuie… O en natuurlik nie verander van bestuurders terwyl daar op 200km/h gejaag word, tussen verkeer.
Nou dink elke dom jan rap en sy maat hulle kan dir ook doen!
Hierdie mense moet wakkerskrik!
Dit is REAL LIFE nie n movie nie

JJS ·

Tragies genoeg, het fast en furious se akteur homself gaan verongeluk deur te jaag op ‘n openbare pad… nog steeds luister sy aanhangers nie’

Hoe nou ·

JJS, ek is 100% oortuig jy is oningelig oor hoe Paul Walker aan sy einde gekom het. Hy het nie die Porsch bestuur waarin hulle verongeluk het nie. Ai….party mense lewer te graag kommentaar.

Piet Snot ·

Paul Walker het nie die Porsche bestuur nie; sy maatjie het.
Die punt bly dieselfde.

Jaco ·

Sjoe, 26 met n m3? Ek soek ook n ryk pa of n regering tender. Ek het self toe ek 18 was onwettige resies gery met my eerste kar wat ek opgehou het, dit was nou nie n m3 nie maar wel vinniger as baie m3’s ;).
Maar iets het gebeur tussen my ore sedert dan, ek ry selde oor 125 ( wanneer ek iemand verby gaan). Ek cruise nou heel eerder waar ek wil wees

juba ·

Jaco, ek weet nie waarom het daar nog niks tussen my ore gebeur nie, ek is n pensioenaris met n RS4 Audi en n 1000cc superfiets, en ek sukkel vreeslik om my regter voet en hand te beheer. (ex spietkop)

Phil ·

Ek dink dit het tyd geword dat alle mense wat aangekla word of n biete kry vir roekelose en nalatige bestuur se informasie op n lys geplaas word waar versekerings maatskappye jan gaan kyk en dan sommer hierdie persone se versekering kanselleer of glad nie uitbetaal met n ongeluk nie. Dieselfde vir die pad ongelukfonds waarvoor ons almal betaal wanneer ons brandstof ingooi.

Stripes ·

Glo nie die versekering gaan uitbetaal nie want onwettige renne is deel van die uitsluitings. As hy daai BMW kan bekostig behoort dit nie ‘n probleem te wees om net ‘n nuwe een te gaan koop nie en kanse is goed dat dit pa se geld is. Wat my bekommerd laat is dat daar tydens die jaagtog ander voertuie ook op die pad was.

Danie van Zyl ·

Ek waardeer Mnr Smit se besorgdheid oor die veiligheid van die padgebruikers en ook sy verontwaardiging van die arrogansie van die oortreders. Ek sou graag wou he dat hy ook `n slag sy beamptes vra om op te hou om die “soft target” padgebruikers in die asgterstrate van Bellville te jag en `n slag moed bymekaarskraap en die taxi bestuurders wat openlik die verkeer in die hoofstraat blokeer met baie erger arrogansie as in sporadiese gebeure soos hierdie. Ek dink hy en sy beamptes het reeds die stryd met die taxi bestuurders verloor en ons soft targets moet opmaak hiervoor.

Naas Vermaak ·

100 % korrek…wou dit self nou kom skryf…gelukkig jou kommentaar gesien. Hierdie jaagrenne is gering binne die groter prentjie.

maggy ·

Kry net die agressiewe taxibestuurders van die pad af, dan sal dit al klaar beter gaan. Hierdie mense voel niks vir die lewens van hulle passasiers en ook niks vir hulle mede-padgebruikers nie (bygese ook nie eers vir enige voetgangers nie) want waar daar nie paaie is nie, daar maak hulle sommer paaie langs die pad.

Jacques ·

Soos ek gehoor het,het die outjie n hele paar fancy karre…n paar Nissan skylines,Bmw 135i Lumina Ss ens. Het dit op n video gesien.

Sê maar net ·

Jy’s reg Jacques, die hele familie besit ‘fancy’ motors. Nou boet hy vir sy ‘fancy’geid, nogsteeds in ‘n koma en albei bene verloor

Roger ·

Smith en sy DA-trawante sal hul huis in orde moet kry. Stel meer verkeersbeamptes aan en hou op om hul te gebruik as fondsinsamelaars vir Munispaliteite (dieselfde geld vir provinsiale verkeer) deur “sagte” oortreders te melk.

Johan ·

Ek het elders verneem die bustuurder is vanoggend breindood verklaar in die hospitaal agv sy beserings.

Lucy ·

Ek stem saam met almal hierbo dat street racing stop gesit moet word, maar niemand praat van die wit olifant in die kamer nie.
Hy (die bestuurder) sal dalk nie kan tronk toe gaan nie, maar nêrens op enige media word daar gepraat van die ander motor teen wie hy gejaag het nie, asook nie die motorfiets nie.
Almal is doodstil daaroor. Kyk weer mooi na die videos, daar is nog ‘n motor betrokke.

Jax ·

Weet jy!!!! Die wette kan maar hard neerkom op idiote wat dink pad-reëls is vir ander mense. Ek het geen simpatie met dom-onnosel mense nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.