Vier dood, klomp vermis ná swaar reën China tref

Dié lugfoto wat Maandag geneem is wys hoe die strate van Qingyuan oorstroom het. (Foto: CNS / AFP).

Vier mense is dood en nog tien word vermis, ná vloede die suidelike streke van China Maandag getref het.

Volgens China se staatsmedia moes nog duisende mense uit oorstroomde gebiede na veiligheid geneem word.

Swaar reën het verlede week oor China se Guangdong-provinsie begin uitsak, wat daartoe gelei het dat die watervlakke van die riviere begin styg. Volgens die plaaslike media kan dié vloede van só ʼn aard wees dat dit “slegs eenmaal per eeu beleef word”.

Dié streek is een van China se belangrike vervaardigingsprovinsies en huisves ongeveer 127 miljoen mense.

Drie mense is reeds as dood in Zhaoqing aangemeld, terwyl ʼn vierde persoon in Xinhua gesterf het.

Nog tien mense word steeds vermis en reddingspogings is aan die gang, het die staatsbeheerde nuusagentskap Xinhua berig.

In die dorp Jiangwan is ses mense beseer met nog talle ander wat vasgekeer is tydens grondverskuiwings wat Sondag deur die swaar reën veroorsaak is.

Meer as 110 000 mense is reeds reg oor Guangdong na veiligheid geneem. Amper die helfte van hulle was afkomstig van die streek se noordelike stad Qingyuan, wat naby die oewer van die Bei-rivier geleë is.

Die openbare uitsaaier CCTV het foto’s gepubliseer wat wys hoe huise aan die waterkant van die rivier deur ʼn muur van modder meegesleur is, terwyl mense by ʼn deurdrenkte openbare sportpark probeer skuiling vind het.

Nog swaar reën word voorspel met die meteorologiese owerhede in die land wat swaar donderstorms en stormsterk winde verwag langs Guangdong se kus. Dié gedeelte grens ook aan Hongkong en die stad Shenzhen.

ʼn Geel waarskuwing is ook uitgereik aan Guangdong se naburige streke, insluitend dele van Fujian, Guizhou en Guangxi. Die nasionale meteorologiese sentrum in China het gesê die streke sal ook deur die swaar reëns geraak word. Vloedlyne van tot 5,8 meter bo die waarskuwingsperk by die Pearl-rivier, word teen laat Maandag verwag.

“Daar word verwag dat die swaarste impak van die vloede deur die dag sal voort duur tot die aand,” is voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Word van die geboue gesloop na so n stort reen behalwe die huise wat deur modderstorting meegesleur is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.