Vier hoës ná byna dekade in hof vir tenderbedrog

Sybil Ngcobo, Mmakgosi Mosupi, Valdis Romaano en Obakeng Mookeletsi (Foto: Itumeleng English, ANA)

Vier voormalige senior staatsamptenare is Donderdag in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof borgtog toegestaan vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn tenderbedrogspul in die Gautengse departement van gesondheid. Die saak word al sedert Februarie 2007 deur die Valke ondersoek.

Sybil Ngcobo, voormalige departementshoof en rekeningkundige beampte, Mmakgosi Mosupi, voormalige hoof van inligtingskommunikasie en -tegnologie, Valdis Romaano, voormalige hoof van voorsieningskettingbestuur, en Obakeng Mookeletsi, voormalige adjunkdirekteur vir uitvoerende ondersteuning, word aangekla van korrupsie en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê Mosupi, Romaano en Mookeletsi is op borgtog van R25 000 elk vrygelaat, terwyl Ngcobo op borgtog van R8 000 vrygelaat is.

Volgens Ngwema het die departement in 2008 ʼn tenderproses vir ʼn nuwe gesondheidsinligtingstelsel en ʼn elektroniese stelsel vir menslike hulpbronne goedgekeur. Die toeken van die tender was onderworpe aan die goedkeuring van die Gautengse tesourie.

Die beraamde koste vir dié nuwe stelsels het saam ongeveer R630 miljoen beloop.

Die tender is aan Baoki Consortium toegeken teen ʼn koste van meer as R1 miljard. Die maatskappy 3P Consulting is aangestel om die onderskeie kontrakte namens die departement te hanteer en in Maart 2008 is ʼn diensooreenkoms tussen die departement en Baoki onderteken.

Op 23 Mei 2008 het Mosupi en Mookeletsi saam met die verteenwoordigers van Baoki Consortium ʼn veranderingsbevel geteken en die tender aangepas sodat dié maatskappy ook onder meer kragopwekkers, meubels, rekenaars en spyseniering ten bedrae van R13,3 miljoen kon verskaf.

“Hierdie dienste wat volgens die veranderingsbevel bygevoeg is, hou nie verband met die oorspronklike tender wat onderteken is nie. Die veranderingsbevel moes die dienste in ʼn afsonderlike tender gespesifiseer het,” sê Ngwema.

Die verskaffer van die meubels, soos uiteengesit in die veranderingsbevel, was Ukwakha Design (Edms.) Bpk. Die eienaar van dié maatskappy, John Richard Payne, was ook een van die direkteure van 3P Consulting (Edms.) Bpk., die maatskappy wat die tenderkontrakte namens die departement hanteer het.

Die departement is op 27 Oktober 2008 in kennis gestel dat hy nie die kontrakte aan Baoki kan toeken nie weens ʼn gebrek aan geld.

“Ten spyte hiervan het Ngcobo, Mosupi en Romaano op 3 November die finale kontrakte met Baoki onderteken.”

Nog ʼn veranderingsbevel is op 26 November 2008 ingedien en Mosupi het aanbeveel dat ’n kontrak aan TLC Africa VSAT Solution (TLC Africa) toegeken word. ’n Bevel is egter in Januarie 2009 onderteken wat Baoki toegelaat het om die diens te verskaf.

ʼn Diensooreenkoms is toe verder tussen die maatskappy Life Channel en AMETHYST, deel van die Baoki-konsortium, onderteken. Die ooreenkoms is later die jaar gekanselleer.

“Dit word beweer dat Life Channel se direkteur, Phil Austin, vir Mosupi se familie betaal het om in Londen vakansie te gaan hou. Die reis is glo deur 3P Consulting gefasiliteer.”

Dit word verder beweer dat AMETHYST verskeie kere groot bedrae geld ten bedrae van R300 000 in Mookeletsi se persoonlike bankrekening inbetaal het.

“Payne en sy maatskappy het ook na bewering betaal vir die opknapping van Romaano se huis ter waarde van R952 358.”

Lasbriewe vir die inhegtenisneming van Payne en Austin kon nog nie uitgevoer nie aangesien hulle in die buiteland is.

Die vier beskuldigdes sal na verwagting weer op 3 Desember in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dup ·

Afrika is bekend(berug) vir sy korrupte stelsels en die betaling van omkoopgeld aan staatsamptenare.Suid Afrika is deesdae n leier op hierdie gebied en miljarde rande het al in kaders,vriende en families se sakke beland.Steeds gaan ons regering net voort asof niks verkeerd is nie.

Juffrou ·

Ja lekker. Slim vang sy baas. Vir ń dekade lank lekker hoog geleef én gedink niemand sal ooit uitvind nie!

Tsek! ·

Moenounie n goeie argument met feite kom deurmekaar maak nie…. ????

Schalk ·

Nou wat ek nie kan verstaan nie is hoekom die ander sake teen politikuste so lank snoer?

JohanR ·

Hoes! Net omdat daar staan “senior staatsamptenare” is hulle hoes? Bheki Cele is ‘n hoe, NDZ is ‘n hoe, Jacob Regop Zuma is ‘n hoe, Ace Magashule is ‘n hoe. As die 4 voor die hof staan dan kan ons se daar is hoes in die hof!

Androclus ·

Watse senior staatsamptenare,hulle is ‘n klomp skelms dis wat hulle is.

Androclus ·

Na byna 10 jaar,PASOP !. Het seker gedink hulle is vergete al.Die wiel vat sy tyd,maar draai,draai hy verseker.

Jaco ·

Aag dit is te lekker. Maak nie saak wat gebeur hulle het lekker geleef vir 10 jaar. So al wat gepas sal wees is n straf van 10 jaar.

Martie Smartie ·

13 jaar om ‘n betreklik eenvoudige ondersoek te doen. Mooi so Hawks. Dis nou die ACTT vir jou – 13 jaar, Anti Corruption Task Team – swak!

Cornelius ·

Die ANC op sy beste, so korrup soos kan kom. Die vryheids stryd het nie om vryheid en gelykheid gegaan nie, maar om geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.