Vier vas vir moord op 33-jarige vrou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Jason Rojas/Unsplash)

Vier verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn 33-jarige vrou Vrydag in Vanderbijlpark doodgeskiet is. Onder diegene wat in hegtenis geneem is, is ʼn mediese dokter – die eksman van die oorledene.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 08:00 na ʼn skietvoorval in Hendrik van Eck-boulevard in Vanderbijlpark ontbied.

“By hul aankoms op die toneel het die polisie ʼn vrou op die bestuurdersitplek van ʼn Nissan NP 200-bakkie aangetref. Sy het veelvuldige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die vrou geskiet is terwyl sy by ʼn verkeerslig gesit en wag het. Sy is na bewering deur verdagtes in ʼn Honda FRV-motorvoertuig geskiet.”

Masondo sê die polisie het onmiddellik ʼn taakspan saamgestel om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem. Die span bestaan ​​uit lede van die Sedibeng- distrik trio-taakspan, die taktiese reaksiespan, die K9-eenheid en provinsiale misdaadintelligensie.

“Die intelligensie-gedrewe ondersoek het die span na Kliprivier, Sebokeng, Sharpeville en Vereeniging gelei, waar vier verdagtes in hegtenis geneem is.

“Die polisie het ook die vuurwapen wat vermoedelik in die voorval gebruik is gevind en daarop beslag gelê, asook die voertuig wat tydens die misdaad gebruik is,” sê Masondo.

Lt.kol. Tommy Mthombeni, die provinsiale polisiekommissaris, het die polisie van die Sedibeng-distrik en provinsiale misdaadintelligensie aangeprys dat hulle die verdagtes so vinnig opgespoor en in hegtenis geneem het.

“Ek is tevrede met die wyse waarop die span hierdie ondersoek hanteer het en die vinnige reaksie om die verdagtes in hegtenis te neem. Geslagsgebaseerde geweld bly een van die topprioriteite van die polisie in Gauteng.”

Al vier verdagtes sal na verwagting Maandag op aanklag van moord in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.