Vierpoot-terapeute laat eksamenstres wegsmelt

(Foto: Verskaf)

Namate akademiese druk toeneem – veral met die eindjaareksamens wat vandeesweek afgeskop het – is die Universiteit van Pretoria (UP) so reg soos ʼn roer om studente se eksamenstres te laat verdwyn, en die oplossing behels meer stertswaai (en minder handboek).

Studies toon dat slegs vyf minute se knuffel met ʼn hond stres kan verminder en mense kan help om te ontspan. Touch Our Pets Therapy Dogs (TOP Dogs) het kragte met Tuks se Departement Biblioteekdienste (DLS) saamgesnoer om ʼn toevlugsoord van ontspanning vir studente te midde van die eksamenchaos te skep.

“Ons dra die welstand van ons studente op die hart. Ons weet hoe stresvol eksamens kan wees en ons wil studente ondersteun, nie net met biblioteekhulpbronne, ruimtes en kundige personeellede nie, maar ook met inisiatiewe soos hierdie wat hulle die geleentheid bied om te ontspan,” sê Elsabe Olivier, assistentdirekteur van bemarking en gehalteversekering by die DLS.

Sy sê TOP Dogs se doelwit is om vertroosting en kameraadskap te versprei, insluitend aan diegene by hospitale, sorgfasiliteite en skole. Die terapiehonde word sorgvuldig gekeur en opgelei om emosionele ondersteuning te bied.

(Foto: Verskaf)

“Dié inisiatief, wat reeds in 2019 van stapel gestuur is, is uiters gewild onder studente terwyl hulle vir hul eksamens voorberei,” sê Olivier.

Sy sê ʼn studie wat die DLS uitgevoer het, toon dat interaksie met honde studente se stresvlakke verminder, hulle kalmeer en hul emosionele welstand verbeter.

(Foto: Verskaf)

“Dit het getuig van entoesiastiese deelname van ʼn wye verskeidenheid van studente, wat die ‘pootsitiewe’ energie gretig in die semester se laaste been aangegryp het.

“Die geleentheid het hoofsaaklik voorgraadse studente gelok, wat 57% van die deelnemers uitmaak, met noemenswaardige verteenwoordiging van nagraadse studente, akademiese fakulteit- en professionele personeellede.”

Katya Patterson, ʼn honneursstudent wat tans haar voorstel vir ʼn meestersgraad in sielkunde voltooi deur die welstand van studente deur interaksie met diere te ondersoek, sê sy ondersteun die positiewe inisiatief.

“Baie studente kan nie bekostig om toegang tot geestelike ondersteuning te kry nie. Hierdie vierpotige terapeute help dus om die gaping te vul vir diegene wat nie die hulp kan kry wat hulle nodig het nie – veral nou met die jaareindmoegheid en eksamendruk,” sê Patterson.

“Ek het dit so baie geniet,” sê Khono Mbaki, ʼn BSc Biochemie-student met mensfisiologie as hoofvak.

“Ek het so ontspanne gevoel terwyl ek met die vierpoot-terapeute kon kuier, tot só ʼn mate dat ek selfs vir ʼn rukkie vergeet het dat ek ʼn student is.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Pragtige storie !
Met ‘n hond- of kat voet in jou hand, verdwyn hierdie wêreld se probleme. Diere is goed en vol liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.