Visser van rotse afgeslaan

(Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Vrydag ontbied nadat ʼn visserman van die rotse by Klein Voëlklip naby Heroldsbaai afgeslaan is.

Verskeie nooddienste, die polisie en ambulansdienste het op die oproep gereageer en by hul aankoms op die toneel onmiddellik na die 26-jarige man van George begin soek.

“Vriende van die vermiste man het aan die NSRI bevestig dat hulle staan en visvang het toe ʼn groot golf oor die man geslaan en hom die see in gesleep het. Hy het toe in die water in verdwyn,” het Mike Vonk, woordvoerder van die NSRI in Wildernis, gesê.

Die polisie se duikeenheid het naderhand help soek, maar ná ʼn uitgebreide en omvattende soektog kon die man nie opgespoor word nie.

“Polisieduikers en lede van die NSRI het die soektog Saterdag voortgesit, maar kon teen laatmiddag steeds geen teken van die man vind nie.”

Die polisie ondersoek die saak. Die soektog aan land en ter see duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Dit is net ongelooflik hoe Voëlklip mense se lewens eis. Dit is asof daar ‘n onheil skuil in die gebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.