Vlieënier sterf: ‘Sy laaste vlug het vertrek’

Ernie en Marise Marais. (Foto: Verskaf)

Ernie Marais (66) van Boksburg aan die Oos-Rand se skielike dood oor die naweek het nog nie by sy geliefdes ingesink nie. Hy was ʼn geesdriftige vlieënier, graag in die lug.

“Dit is asof hy gaan vlieg het en ons wag net vir hom om terug te kom,” vertel sy skoondogter Aïda Wessels. “Maar sy laaste vlug het vertrek. Hy het nou sy eindbestemming bereik.”

Marais, ’n lugbespuitingsvlieënier met meer as 40 jaar se ervaring, is Saterdag dood nadat die ligte vliegtuig waarmee hy gevlieg het langs ’n vliegveld in Ermelo in Mpumalanga neergestort het.

“Hy het probeer land,” verduidelik Wessels. “Die mis was te dig op die aanloopbaan en hy is deur ’n heining. Hy het die aanloopbaan heeltemal gemis.”

Die presiese besonderhede rondom die ongeluk is nog nie aan die familie duidelik nie.

Ernie en Marise Marais. (Foto: Verskaf)

Marais was Saterdagoggend vanaf Bethlehem in die Vrystaat na Malawi onderweg. Hy was veronderstel om via Mbombela in Mpumalanga te vlieg, maar het op Ermelo probeer land.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar hy moes op Ermelo land,” vertel Wessels.

Die familie vermoed weersomstandighede kon moontlik ’n rol gespeel het in Marais se besluit om sy roete te wysig.

Maroela Media het vroeër berig Marais is met die nooddienste se aankoms op die toneel dood verklaar. Hy was die enigste insittende van die vliegtuig.

“Hy was ’n amazing vlieënier gewees,” vertel sy skoondogter.

“Hy was altyd vriendelik en bereid om te help. Hy sou ook enigiets vir sy familie doen.’

Marais word oorleef deur sy vrou, Marise, drie kinders en vier kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

electricmango ·

Vlieg hoog en rus in vrede, baan breker, yster, jy was altyd vry van die aarde se wreedhede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.