VN-hof gee ‘beredeneerde, maar politieke’ uitspraak

Israel se regspan in die Internasionale Geregshof. (Foto: AFP)

Kenners meen die internasionale geregshof se uitspraak verlede Vrydag, dat Israel stappe moet doen om te verseker volksmoord word nie gepleeg nie, is nie so duidelik ʼn “oorwinning” vir Suid-Afrika nie, al was die ANC vinnig om dit as sodanig te vier.

Die uitspraak was in reaksie op ʼn versoek deur Suid-Afrika om Israel se optrede teen Hamas in Gaza, as volksmoord te verklaar en ʼn onmiddellike skietstilstand te vra. ʼn Skietstilstand is egter nié deur die hof beveel nie.

Beredeneerde uitspraak

Prof. Koos Malan, konstitusionele juris verbonde aan Sakeliga se sentrum vir konstitusionele dinamika, meen die hof het eintlik ʼn “taamlik beredeneerde en ewewigtige uitspraak gegee”.

Terselfdertyd het die hof natuurlik ook ʼn politieke uitspraak gegee, deurdat hy daarin kon slaag om sy eie integriteit te beskerm, verduidelik Malan.

“As die hof ʼn uitspraak sou gee wat Israel totaal en al verneder, sou hy die risiko loop om sy eie integriteit in gedrang te bring.”

Omdat die hof egter nie Israel beveel het om sy oorlogspoging te staak nie, het hy Israel nie te veel te na gekom nie.

“Andersins sou dit Suid-Afrika, oftewel die ANC, net te veel laat wen.”

Prof. André Thomashausen, emeritusprofessor in internasionale reg by Unisa, meen ook die uitspraak is eintlik baie goed vir Israel.

“Die belangrikste van die sewe bevele wat gegee is, is wat die hof nié sê nie – wat ʼn bevel vir oombliklike skietstilstand is. Die hof stel bloot die mees voor die hand liggende, naamlik dat Israel en sy soldate nie volksmoord en volksmoorddade moet pleeg nie. Dan beveel die hof ook dat Israel alles in sy vermoë doen om die aanstigting van haatspraak te keer, en die voortsetting van humanitêre hulpverlening, waarmee niemand, ook nie Israel, verskil nie.”

Die Israelse regering kan dalk daarby baat om in al hulle uitsprake en reaksies op die bevel, hierdie in gedagte te hou, sê Thomashausen.

Soewereiniteit onaangeraak

Malan meen ook alles wat die hof Israel beveel het om te doen, is dinge wat Israel reeds doen.

“Geen onafhanklike instansie of liggaam is ook aangewys om toesig te hou om seker te maak Israel bly by die uitspraak nie.

“In daardie opsig was dit ook ʼn politieke uitspraak, omdat Israel per implikasie nie by die uitvoering van die uitspraak verneder word nie.”

Op die ou end het Israel dus die diskresie op welke wyse hy uitvoering wil gee aan die uitspraak, wat beteken sy soewereiniteit word eintlik onaangeraak gelaat.

Die hof het Israel wel gelas om ʼn maand na die uitspraak na die Wêreldhof te rapporteer oor watter stappe hy doen om uitvoering aan die hofbevel te gee. ʼn Verdere maand na dié rapportering kan Suid-Afrika as applikant in die saak weer hierop reageer.

Thomashausen meen dié aksie gaan egter net tot verdere gekibbel ly.

“Oor ʼn maand gaan Israel bloot verslag doen dat hulle wel aan die bevel voldoen. Daarna gaan Suid-Afrika waarskynlik weer bewyse tot die teendeel probeer lewer. Op die ou end verander daar eintlik nie veel nie.”

Ware bedoelings

In hierdie opsig het Suid-Afrika eintlik glad nie gekry wat hulle wou uit die saak nie, sê Malan.

“Suid-Afrika wou eerstens ʼn bevinding van volksmoord hê en tweedens, ten voordeel van Hamas, ʼn staking van Israel se oorlogsoptrede kry.”

Hiermee het Suid-Afrika volgens Malan heeltemal misluk.

“Direk na die uitspraak het [Naledi Pandor, minister van buitelandse sake] gesê die internasionale geregshof se uitspraak impliseer dat Israel nie die bevel kan uitvoer sónder ʼn skietstilstand nie. Dit is ʼn infame leuen.”

Dit wys wat hulle eintlike oogmerk was en hoe teleurgesteld hulle eintlik in die uitspraak is, verduidelik Malan.

“Minder as 24 uur na die uitspraak het Ronald Lamola ook te kenne gegee hy gaan voortgaan om voor die Internasionale Strafhof sekere individue in die Israelse regering aan te kla van oorlogsmisdade.

“Waardeur hy natuurlik die vyandskap tussen Suid-Afrika, die ANC meer bepaald, en Israel die hoogte laat inskiet én sy eensgesindheid met Hamas en Iran onderstreep.”

Reputasie ly wel skade

Suid-Afrika se teleurstelling ten spyt, hou die uitspraak wel nadelige gevolge vir Israel in, meen Malan.

“Die hof kon slegs die huidige uitspraak gee op grond van ʼn aanduiding van moontlike dade van volksmoord.”

Malan meen dit rig Israel groot reputasieskade aan, wat betref sy verhoudinge met sy grootste bondgenote in die VSA en Brittanje.

“As ʼn bepaalde moondheid homself skuldig maak aan ʼn misdryf soos volksmoord, is ʼn hulpverlener uiteindelik medepligtig,” sê Malan.

“Israel het óók reputasieskade gely weens die uitsprake wat die hof gemaak het oor strydlustige houdings wat in Israel se regering gehandhaaf word.

“Dit suggereer dat ʼn mens te make het met ʼn klomp mense in die Israelse kabinet wat smag na volksmoord. Dit is natuurlik ook voordelig vir die ANC namens Suid-Afrika, want hy kan pronk en voorgee dat hy inderdaad suksesvol was.”

Aartsvyande gemaak

Malan meen hierdie saak benadruk weereens dat Suid-Afrika oor die afgelope 30 jaar nog nooit sulke slegte verhoudinge met enige ander staat gehad as wat hy tans met Israel het nie.

“Terselfdertyd het hy ook die VSA en Wes-Europa die harnas ingejaag. Daar is ʼn duidelik verskil tussen die wyse waarop Suid-Afrika se Brics-bondgenote optree, teenoor die wyse waarop Suid-Afrika optree.

“Daar onstaan dus ʼn afstand tussen Suid-Afrika en sy bondgenote, wat spruit uit die feit dat die ANC die hele Brics-groepering eintlik verkeerd takseer. Hy sien dit as ʼn absolute eensgesinde anti-Westerse bondgenootskap, wat glad nie die geval is nie.”

Uiteindelik vervreem Suid-Afrika in hierdie “beeldpoetsmissies” bondgenote aan alkante van die spektrum, sonder om ʼn noemenswaardige bydrae tot die internasionale reg óf vredesoplossings te lewer.

Magtelose VN

Thomashausen meen die hele saak is op die keper beskou eintlik net hartseer.

“Dit bewys weer eens die VN se onvermoë om in te gryp by die gebruik van geweld. So word die gebruik van militêre mag die nuwe normaal in ons huidige internasionale orde, met die VN wat dit nie kan keer nie.”

Die wêreldhof moet juis vandag (Vrydag) uitsluitsel gee oor of hy jurisdiksie het om te beslis oor ʼn saak wat Oekraïne teen Rusland gebring het. Dié saak is reeds in Februarie 2022 voor die hof gebring, na aanleiding van Rusland se uitspraak dat sy inval van Oekraïne plaasgevind het in ʼn poging om beweerde volksmoord te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Althes ·

Ek wonder en ek is nie ñ politikus nie, maar die SA regering se politieke bedmaatjies (lande) is in oorloë en ekonomiese uitdagings vasgevang. As SA spiere bult op internasionale arena (het hul werklik ñ sterk land) agter hulle?

domheks ·

@Althes – geen sterk land agterhulle nie. Hulle dink ons weermag is die sterkste …

JohanR ·

Lyk my as ou Naledi Pandor nou dag by dag nie gelukkig is met Israel daan wil sy terug hardloop Wereld Hof toe en neel en kla. Ou Naledi Israel is ‘n maand gegee om aan die vereistes te werk. Kan ek voorstel Naledi val Israel aan met ons magte, duikbote en vliegtuie?

piet ·

Israel se reputasie het baie skade gely. Niemand het hulle vantevore so voor die hof gedaag nie en die morele gronde wat hulle altyd voorhou a.g.v die holocaust is besig om te verbrokkel weens hul jare lange vergrype op Palestynse grondgebied. Die wereld is besig om Israel in ‘n ander lig te sien.

Casper ·

JohanR ek het lanklaas so lekker gelag.Vliegtuie,duikbote en magte.Die enigste duikbote is ministers met parrapote aan.In watter land gaan hulle basisse vestig en waar gaan hulle petrol kry vir die ek dink 8 vliegtuie en 4 naaldekokers.As Israel ons moet vat sal dit hoogstens ‘n week duur dan hensop ons magte want hulle gaan hardloop soos cheetahs met bruin agter op hulle broeke en dit gaan nie stof wees nie.Ja Israel was aan die wenkant met Pandoer en Lamola wat vir ons lieg.

piet ·

Die blote feit dat AL die regters van ander lande (behalwe Uganda) saamgestem het dat daar voldoende gronde is dat Israel moontlik skuldig is aan volksmoord en dat die saak moet voortgaan is ‘n groot slag vir Israel. Israel se reputasie het ‘n groot duik gekry.

hpven ·

Naledi Pandor en die ANC, lees asseblief stadig met aandag, kry dan iemand wat mondeliks dit stadig vir julle kan verduidelik! Net dan verstaan julle dalk wat werklik gesê is!

annie ·

Ek verskil van Piet. Vir diegene wat nie die Bybel lees nie wil dit voorkom of die Jode eers in 1948 in Israel aangeland het en dit nou teen hul hou en ook daarop sinspeel dat die migrante wat hul as die antieke Filistyne wil voordoen, deur na hulself as Palistyne te verwys, dieselfde antieke groep uit Dawid se tydvak is. Teen die tyd dat Christus op aarde was het die sg Filistyne nie meer bestaan nie en die grondgebied was nie meer verdeel nie. Om die geskiedenis te verdraai en dit teen Israel te wil gebruik is om vals feite te verkoop. Leuens word nooit waarhede nie.

Andre ·

…het Lamola en Pandora al gekyk na aftree – moontlikhede in Irán?
Terwyl hulle nou vir die spul werk, kan hulle dalk ‘n klein villa losslaan, soos Zuma in Dubai gedoen het!

Republikein in die Wes Kaap ·

piet, Jode beheer die grootste firmas in die wêreld, insluitend wapenvervaardigers, mediagroepe, IT maatskappye en Hollywood. Hulle besluit wat is goed, reg en sleg. Jode het die Amerikaanse kongres in die sakkie. Israel maak SA binne ‘n dag toe. Glo nie hulle is gepla oor reputasie nie. Die werklike wêreld is nie ‘n gewildheidskompetisie nie.

Marina ·

Wens die ANC was so besorgd oor sy eie landsburgers wat elke dag vermoor word? Charity starts at home.

Cherokee ·

‘Omdat die hof egter nie Israel beveel het om sy oorlogspoging te staak nie…’
Voordat ek verder lees, laat my eers hièrdie van my gemoed af kry. Israel is verdomp nie besig met ‘n ‘oorlogspoging’ (belowe julle weet nie wat ‘n ‘poging’ is nie!) maar hulle voer ‘n geslaagde oorlogsdaad! Hulle voer oorlog! So stop om voor te gee dat dit ‘n poging is.
Nou sal ek verder lees.

Cherokee ·

Ek het ‘n briefie gestuur aan die Jode, en mooi verduidelik dat dit nie die Boere is wat hulle takseer, maar die pikstele. Dat òns handeklap wanneer die Joodse span ‘n drie druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.