Voëlklip-tragedie: Ondersoek in ‘sensitiewe stadium’

Ettienne Scheepers, sy vrou, Heidi, en hul kinders.

Die polisie se ondersoek na die dood van Heidi Scheepers (35) en haar twee jong kinders nadat hul voertuig verlede jaar in die see by Voëlklip naby Heroldsbaai beland het, is “in ’n sensitiewe stadium”.

Só het kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, Dinsdag by navraag aan Maroela Media bevestig.

Scheepers en haar tweejarige seuntjie, Hugo, het volgens die nadoodse ondersoeke verdrink toe hul voertuig in Oktober in die see beland het. Die sesjarige Cozette se liggaam is nooit gevind nie.

Pojie het vanoggend verduidelik dat die ondersoek na Scheepers en die kinders se dood in dié stadium nog nie afgehandel is nie. Die ondersoek sal sodra dit afgehandel is na die direktoraat vir openbare vervolging verwys word wat op sy beurt sal besluit of iemand vervolg sal word of nie.

Die grootskaalse soektog na Heidi Scheepers en haar twee kinders is verlede jaar van stapel gestuur. (Foto: SA Polisie)

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn uitgebreide soektog is verlede jaar van stapel gestuur nadat Scheepers en haar kinders die betrokke dag in Oktober omstreeks 18:00 die laaste keer lewend in Heroldsbaai gesien is. Hulle het verby die gesin se winkel, die Heroldsbaai Kafee, gery.

Haar man, Ettienne, het sy gesin kort daarna as vermis aangemeld.

ʼn Grys Volkswagen Caravelle, soortgelyk aan die een waarmee Scheepers en haar twee kinders verdwyn het, is enkele dae later langs die rotse by Voëlklip gekry waarna Hugo se liggaam kort daarna in die see gevind is.

Heidi se liggaam is ’n paar dae later in die see by Heroldsbaai gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maryna ·

Ja nee, hierdie is ‘n snaakse storie. Ek hoop regtig dat wie ook al die skuldige is sommer vinnig vasgetrek word!

Nella ·

As iemand skuldig is, mag hy /sy vir hom/haar kry. Vir my is dit nie ‘n gewone selfmoord nie. Daar moet ‘n storie agter die storie wees.

Herman ·

Skynbaar is die man en sy prokureur baie sensitief oor suggesties van wie vir die beweerde moorde beskuldig kan word. Klink my nie die polisie het nou juis honderde verdagtes om te ondersoek nie.

Sarel ·

Ten mi ste gasn die ondersoek voort,maar wanneer dit so lank duur twyfek mens. Sterkte vir familie.

madels ·

Ek hoop regtig dat dit nie dis Ettienne nie. Hoe verskriklik sal dit nie wees nie :-(

Josh ·

Ek hoop ook nie so nie want toe die publiek hom destyds daarvan verdink het, wou hy mos prossedeer!

Niklaas ·

Ons sal dan later die volle waarheid hoor. My hart bloei vir die arme eggenoot en pa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.