Vol skole se taalbeleid ‘veilig’ – Lesufi

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het vandag op ʼn vraag van die VF Plus tydens ʼn sitting van die Gautengse wetgewer bevestig dat skole wat vol is se taalbeleid gerespekteer sal word.

“Hierdie bevestiging van Lesufi kom natuurlik in weerwil van sy eie poging om Afrikaanse skole wat vol is te dwing om anderstalige leerders in te neem soos met die welbekende Hoërskool Overvaal-geval,” sê adv. Anton Alberts, leier van die VF Plus in Gauteng.

Volgens Lesufi word 1 333 skole uit die 2 300 in Gauteng wat nog plek het vir leerders nie ten volle benut nie. “Dit is die mening van die VF Plus dat Lesufi ʼn verpligting het om te sorg dat skole optimaal gebruik word alvorens Afrikaanse skole gedwing word om anderstalige moedertaalsprekende leerders in te neem.”

Lesufi het ook aangedui dat alle leerders vir die 2020-skooljaar geplaas is. Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum, sê egter baie ouers is hoogs ontevrede met dié plasings. Verskeie ouers wat betyds aansoek gedoen het om plek in Gautengse skole het gekla dat hul kinders nie by skole etlike meters van hul huise geplaas is nie. In sommige gevalle is leerders in ander skole geplaas as waar hul broers of susters skoolgaan.

Maroela Media het ook Sondag berig oor ouers in Danville wie se kinders in skole in Tuine geplaas is omdat daar nie genoeg plek is vir Afrikaanse kinders in Danville nie. Dié ouers kan nie die petrolgeld bekostig om hul kinders daagliks na dié skole aan te ry nie.

Die Gautengse departement van onderwys het aan Maroela Media gesê hulle gaan nie dié ouers se petrolgeld betaal nie, aangesien Laerskool Westerlig in Danville plek het vir dié kinders. Dié skool het egter aan Maroela Media gesê dat hulle ongeveer 50 Afrikaanse leerders vanjaar moes wegwys, aangesien hulle reeds 43 gr. 1-leerders in ʼn klas moet onderrig.

Buys sê die SOS sal nou ʼn brief aan die departement rig waarin hulle versoek dat ʼn ekstra onderwyser aan Laerskool Westerlig beskikbaar gestel word, sodat hulle hierdie kinders kan inneem.

“Die VF Plus sal sorg dat moedertaalonderrig in skole beskerm word en dat bestaande skole ten volle benut word sonder om druk op moedertaalonderrig te plaas,” sê Alberts.

“Dit beteken dat selfs skole wat ten volle na Engels oorgeskakel het, in die toekoms vir Afrikaans kan plek maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

B ·

Hoekom is net 100% vol veilig?
Maw bv 98% moet dan 2% akkomodeer sou die skool ‘amper’ vol wees. Bisar.
Hoekom nie die kernpersentasie sê bv 70% maak?

Chris van Heerden ·

Die geskiedenis het bewys ons kan jou nie glo nie.

Kapelaan Koos ·

Kyk, ek woon in die Wes-Kaap en ons het genadiglik nie dieselfde probleme met skole se taalbeleid hier nie. My voorstel aan my Transvaalse broers en susters is bloot dat hulle moet aandring op Afrikaanse onderrig waar ookal hul kinders geplaas word. Dit is immers wat sekere anderes doen, waarom nie ons ook nie. As jul kinders in ‘n Engelse skool geplaas word, eis dat hulle in Afrikaans onderrig word, anders weier julle om enige skoolfonds te betaal. Laat jul geld die praatwerk doen as julle basiese regte julle ontneem word. Reël ook protesoptogte ten gunste van moedertaalonderrig by dié skole. Maak die lewe vir daai Lesufi belhamel so moeilik moontlik.

John ·

Lesufi lief aandag. Stem hy regtig vir die ANC of vir die BLF? Dit is die grootste gedoente sedert WO1 om leerders op die rol te plaas. En dan koop ouers skoolklere om te hoor, daar was ‘n fout… weer ‘n fout.

Koos ·

Ek weet nie hoekom kla lesers oor Lesoevie nie. In ‘n pragtige Afrikaanse skool tussen Pretoria en Lydenburg ontstaan ‘n leë hoofpos. Van orals is daar aansoeke. Ook van Wes.-Rand. Plaaslike leraar op raad maak groot gewag van tekorte van plaaslike aansoekers en loot land op kandidaat uit weste. Snaaks genoeg was skool in weste in kort tyd nie meer net Afrikaans nie. Tans is die Afrikaanse skool in die middel se aansoeke vir nuwe jaar in 2 tale.

Sarel ·

Sy enigste kwalifikasie wat hom in sy pos hou is sy haat vir Afrikaans.

Charlie ·

Kapelaan Koos,
Ek het al lankal aan so n skuif gedink.

Soort van.”What is good for the goose (Engelssprekendes) is good for the gander
( Afrikaanssprekendes).

Op die manier dal P L se vlerkies dalk net bietjie geknip kan word.
n Ander opsie is voorheen Afrikaans sprekende skole los te maak van enige vorm van staatsondersteuning en te assosieer met geakrediteerde buitelandse skole.in terme van eksamenuitslae.
Dan sal Panayadi Lesufi geen seggenskap meer hê nie en kan onderrig in Afrlikaans voortgaan.

Stuiwer ·

Genadiglik het my kind by ons skool van keuse plek gekry vir Gr 1. Maar, het ek gedink, sou hy nie plek kry nie laai ek hom ieder geval by die skool af in Januarie. Hy is dan geregistreer by ander skool, and let it be. Na so paar maande “verwissel”hy van skool.

Hans ·

Wonder net waarom al die afrikaans sprekende kerke nie kan saamstaan en vervoerhulp aan die hulpbehoewende afrikaanssprekende kinders aan die Danville ens gemeenskappe kan verleen nie. Vra maar net

Db ·

@Hans. Die kerke in Danville sal dit nie doen om die hulpbehoewende afrikaanssprekende kinders te help nie want hulle is te besig om die ander te help. Weet waarvan ek praak want bly self in Danville

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.