Voorgestelde wysigings aan onteieningswet ‘kortsigtig’ – TLU

(Argieffoto: pixabay)

Die landbouorganisasie TLU SA stel voor dat die voorgestelde wysiging van die bestaande Onteieningswet herskryf moet word sodat onteiening van eiendom slegs kan plaasvind wanneer dit benodig word vir die ontwikkeling van infrastruktuur, en dan slegs teen markverwante pryse en vir die openbare doel.

Die organisasie het vandeesweek amptelik kommentaar gelewer teen die wysiging van die omstrede wet.

“Hierdie wetswysiging is waarskynlik die mees kortsigtige stuk wetgewing wat al ooit ter tafel gelê is. Dit kanselleer enige moontlikheid om Suid-Afrika se ekonomie te herstel. Die regering moet markkragte respekteer en eiendomsreg erken as die fondament vir ekonomiese groei,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

Die organisasie se kommentaar beklemtoon dat die “vae bewoording van die wysiging die weg baan vir die regering om enige eiendom onder die voorwendsel van openbare belang sonder vergoeding te onteien”.

Volgens Geldenhuys moet wetgewing daarvoor voorsiening maak dat grond vir infrastruktuurontwikkeling, wat dan in openbare belang is, onteien kan word.

“Maar die bestaande eienaar moet dan in so ʼn mate vergoed word dat hy of sy die bestaande onderneming bloot in ʼn ander omgewing voortsit. Wanneer openbare belang so wyd en vaag soos in hierdie voorgestelde wysiging beskryf word, kan pensioene, huise en beleggings ook sonder enige vergoeding afgeneem word.”

Die DA deel dié kommer en het vroeër gesê die wetsontwerp gaan Suid-Afrikaners se eiendomsreg ernstig beïnvloed – dermate dat dit nie in die huidige formaat aan die regering toevertrou word nie.

Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, sê ook die wetsontwerp bevat afdelings wat bepaal dat alle soorte eiendom in Suid-Afrika onteien kan word, nie net dié van grondeienaars of boere nie.

Die organisasie Vrystaat Landbou (VL) het vantevore ook al gewaarsku daar word verkeerdelik aanvaar dat slegs landbougrond die teiken is van onteiening sonder vergoeding. VL glo egter dat die voorgestelde wet private eiendomsreg in die algemeen gaan aftakel.

Geldenhuys sê die land het dringend buitelandse beleggings nodig om te herstel, maar meen geen belegger gaan dit oorweeg om in ʼn land te belê waar eiendom voor die voet onteien kan word nie.

“Ons wil dit duidelik stel: Indien die voorgestelde wetswysiging in werking gestel word, sal dit katastrofies vir die land en alle Suid-Afrikaners wees.”

Mense kan nog tot die einde van die maand kommentaar lewer oor die voorgestelde wetswysiging en talle organisasies het reeds gevra dat mense hul teenkanting daarteen uitspreek.

Die wetsontwerp in sy huidige formaat is beskikbaar op die parlement se webblad by parliament.gov.za. Om kommentaar te lewer moet ʼn insetvorm voltooi word, wat by https://forms.gle/UqG2TXTBNzhsy45i8beskikbaar is. Kommentaar kan saam met die vorm per e-pos ingedien word by [email protected]. Kommentaar kan ook per WhatsApp gestuur word na 060 550 9848.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

So gaan dit as jy met kommuniste onderhandel hoekom is TLU nou bekommerd

annie ·

CR se grootste liefde en betrokkenheid is vrouesake hoewel ons ‘n minister het wat goeie geld ontvang om haar daarmee te bemoei. Sy verwysing na regstellende aksie en landbouregte vir vroue, laat mens wonder watter planne hy smee wat die buiteland se koppe gaan swaai om sulke grondgrype te aanvaar.

Hoekom ·

As die regering net wil kom vat dan is dit nie meer my regering nie. Dan kan ek maak en breek soos ek wil.

Hulle kan maar kom probeer vat, ek is gereed.

Hou maar aan onderhandel….

Werner ·

Stem 100%.As ons niks doen wanneer hulle ons goed kom vat nie moet ons nie kla nie.Of ons dit wil weet of nie hulle gaan hulle nie aan ons steur nie en die wet deurvoer

Pappa Beer ·

Blatante en openlike diefstal. Dis al wat dit is, geen mooi praatjies of slim stories nie, dis DIEFSTAL!

Persheks Adri ·

Hierdie is snert! Hoekom kan hulle nie gaan werk vir hulle goed soos ons nie? Ons werk vir wat ons wil hê ons kry NIKS vir mahala soos our people nie gggmmmfff! Die res van my kommentaar sal ek liewer nie hier plaas nie die slegte goed sal my hoor in al my menings op hulle petisies

Althes ·

Skend dit nie ons menseregte nie?
Wil ANC dieselfde pad loop as Zimbabwe regering wat wit boere moet vergoed?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.