Voormalige hoof van IRV sterf

transformasie-grondwethof-john-kane-berman

John Kane-Berman, die voormalige hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge. (Foto: Reint Dykema)

John Kane-Berman, die voormalige hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), is in die ouderdom van 76 dood. Die IRV het Donderdag in ’n verklaring gesê dat Kane-Berman ná ’n kort siekte gesterf het. Die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

Die IRV het Kane-Berman as ’n “jare lange pilaar van Suid-Afrikaanse liberalisme” beskryf, asook ’n skerp ontleder, begaafde skrywer en vaardige bestuurder.

Kane-Berman, wat in 1946 in Johanneburg gebore is, het as student aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Oxford-universiteit in Engeland studeer, waar hy ’n Rhodes-beurshouer was. Hy het sy loopbaan in joernalistiek in die 1960’s afgeskop en is in 1983 as die hoof van die IRV aangestel, ’n pos wat hy tot 2014 beklee het.

Die IRV sê Kane-Berman se werk het altyd getuig van sy “onwrikbare verbintenis tot vryheid”.

“Sy dood beroof Suid-Afrika se intellektuele toneel van een van sy mees insiggewende, moedige en gerespekteerde deelnemers. Hy sal veral baie gemis word deur sy kollegas en oudkollegas by die IRV.”

Die Solidariteit Beweging het sy medelye met Kane-Berman se naasbestaandes Donderdag in ’n verklaring betuig.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê verskeie instellings in dié Beweging het gereeld met Kane-Berman kontak gehad, en dat sy mening en insette uiters waardevol was en altyd hoë aansien geniet het.

“Kane-Berman sal onthou word daarvoor dat hy sy lewe daaraan gewy het om teen staats- en magsvergrype te veg, wat van onskatbare waarde was,” het Buys gesê.

Sakeliga het ook Kane-Berman se dood betreur en gesê dat hulle hom “met waardering en respek” sal onthou.

“Sakeliga het met vrug gebruik gemaak van Kane-Berman se insigte en werk by die IRV en het die voorreg gehad om hom sedert 2011 by verskeie geleenthede as spreker te ontvang.

“By Kane-Berman kon ’n mens staatmaak op insiggewende en goedgeformuleerde maatskaplike ontleding wat nie deur politieke giere of vlietende regeringsvisies en -planne meegesleur was nie. In die loop van etlike dekades, vóór en ná 1994, het hy standvastig sy afstand van die politiek gehandhaaf en die IRV se posisie as ’n onafhanklike instituut, wat onafhanklike denke en hervorming onderneem het, verseker,” het dié organisasie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Hartseer nuus. Baie jammer om te hoor. Hy sal beslis gemis word.
John Kane-Berman se artikels in Politicsweb was ‘n hoogtepunt, altyd insiggewend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.