Voormalige Mej. SA in Kaapse ongeluk beseer

Cindy Nell-Roberts. (Foto: Verskaf)

Cindy Nell-Roberts, ʼn voormalige Mej. Suid-Afrika, was een van diegene wat in Kaapstad beseer is toe die bestuurder van ’n swaar vragmotor Dinsdagoggend beheer oor sy voertuig verloor het, teen verskeie motors gebots en uiteindelik omgeslaan het.

Nell-Roberts se persoonlike assistent het aan Maroela Media bevestig dat sy op pad na die Media24-gebou in Kaapstad was toe die vragmotor by Kloofnekweg in Kaapstad afgejaag en ander voertuie van agter af gestamp het.

Maroela Media het vroeër berig dat die vragmotorbestuurder geringe beserings opgedoen het, en vier ander persone in die ongeluk beseer is.

“Cindy kan nie presies onthou wat gebeur het nie, maar dit het gevoel asof die vragmotor haar motor saamgesleep het voordat dit buite beheer begin getol het,” sê haar assistent.

“Sy het haar kop teen die vensters gekap en al die motor se lugsakke het ontplooi.”

Nell-Roberts vermoed sy was vir ʼn oomblik nie by haar bewussyn nie, maar onthou die reuk van brandstof het haar paniekerig gemaak. Sy het daarna uit die passasierskant van haar motor ontsnap.

Clive Roberts, Nell-Roberts se man, is deur ʼn kennis wat die ongeluk sien gebeur het, ontbied. Hy was byna onmiddellik op die toneel en het Nell-Roberts self hospitaal toe geneem.

Sy is daar vir kop- en armbeserings behandel.

“Sy is oukei, maar probeer nog die skok daarvan verwerk. Sy is nog baie emosioneel.”

Hoewel haar motor, ʼn Range Rover, afgeskryf is, skryf sy haar oorlewing aan dié voertuig toe.

“Die motor wat ná hare getref is, het deur die lug gevlieg en gerol.”

Nell-Roberts is dankbaar vir diegene wat uitgereik het na haar ná die ongeluk.

“Soen jou geliefdes elke oggend en sê vir hulle jy is lief vir hulle. ʼn Vragmotor kan jou letterlik uit die bloute tref. Moenie oor die klein goed in jou lewe stres nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wondermaarnet ·

Sjoe, dit moes ‘n groot skok gewees het. Ek is bly sy is ok.

Hannelie ·

So bly sy is nie ernstig beseer nie. Sterkte aan die ander bestuurders ook.

Seder op die horison ·

Ek wil net sê dat dit nie te danke was aan die voertuig wat jy bestuur het nie, maar n Almagtige God wat jou nog n kans gegee het

Duck ·

Ek bly sè en ek gee nie om wat die trok eienaars/bestuurders sè nie, ‘n trok bly ‘n “death trap” op ons paaie, kyk maar na die statestieke, elke damn ongeluk is ‘n trok betrokke op ons deurpaaie, nie eens die taxi’s maak so baie mense dood nie! Sodra daar ‘n trok betrokke is, bly die sterfte syfers hoog, byna geen beserings word gerapporteer nie. Nodeloos om te sè, iemand moet èrens begin om die onverskillige trok bestuurders vas te vat, ontslae te raak, lisensies te onttrek. Trok bestuurders wat 24 ure op die paaie bestuur om die eienaars se sakke vol te maak en om hul werk te behou as bestuurders, ja, ek ken die storie agter die storie! En laastens, nie eens om te praat van die onpadvaardige trokke nie! Ek kry hul elke nag op die pad en ek werk gedurende die nag, so ek praat van ondervinding.

Jacques ·

Jy is erg oningelig. Het jy al opgelet hoe pateties sekere motoriste bestuur. Hulle is in baie gevalle die oorsaak van ongwlukke maar die lafaards jaag weg en die trok drywer kry die skuld vir die ongeluk. Wees dankbaar vir die ordentlike trok drywers. Sonder hulle is jy kaal, honger en huisloos.

Ronél ·

Dat iets soos ‘n voertuig die eer moet kry vir ‘n gespaarde lewe?!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.