Voormalige staatsaanklaer tronk toe ná dossiere verdwyn

(Argieffoto: Unsplash)

’n Voormalige staatsaanklaer van die Wes-Kaap is onlangs tronkstraf opgelê nadat hy twee polisiedossiere gesteel het.

Jonas Phosoko is Vrydag in die Bellville-landdroshof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van die diefstal van ’n dossier asook ’n poging tot dwarsboming van die gereg.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig Phosoko is onderskeidelik drie jaar tronkstraf opgelê vir diefstal en ’n verdere twee jaar vir poging tot dwarsboming van die gereg.

Dié aanklagte spruit uit gebeure wat in 2010 en 2011 plaasgevind het.

Volgens Ntabazalila is ’n verdagte in Junie 2010 in Bellville in hegtenis geneem nadat hy in besit van byna 30 kg se dagga betrap is. Phosoko het die dossier van die betrokke saak uit ’n kollega se kantoor verwyder.

“Die aanklaer in die saak het agtergekom dat die dossier vermis word en Phosoka daaroor uitgevra. Phosoko het egter ontken dat hy die dossier gevat het waarna dit later gerieflik in ’n ander hofsaal opgeduik het,” het Ntabazalila gesê.

Volgens Ntabazalila het die destydse senior staatsaanklaer die verdagte oor die vermiste dossier gepols waarna dit aan die lig gekom het dat hy en Phosoko in kontak met mekaar was.

In ʼn soortgelyke voorval is ʼn motoris in Januarie 2011 in hegtenis geneem nadat hy dronk bestuur het. Die verdagte is op borgtog vrygelaat en gewaarsku om later in die Bellville-landdroshof te verskyn.

Volgens Ntabazalila het die ondersoekbeampte in die saak die dossier na die hof gestuur en dit nooit terugontvang nie.

“Die polisie het ’n lasbrief bekom en dieselfde dag nog Phosoko se huis deursoek waar hulle die betrokke dossier gevind het,” het Ntabazalila gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Magda ·

Was die DA toe in beheer – GLO NIE – ANC alweer en nogsteeds.

Cherokee ·

Nie dat dit noodwendig anders sou gewees het as die DA in beheer was, nie.

Renee ·

Die dossier oor die tabak verbod wat reeds n’ week gelede was met spraak word voorbehou seker dieselfde pad geloop

Alexander ·

Hierdie geval is maar net die ore van die seekoeie. Daar is vele soortgelyke gevalle waar die korruptes nooit aan die pen ry nie. Tog dankbaar dat een skurk uitgevang is.

Willem ·

Dit is absoluut verstommend dat dit 10jaar geneem het om hom skuldig te laat bevind! Tien jaar – wat het hulle gehoop hy gaan intussen dood, of wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.