Voormalige Transnet-hoës se bates, pensioen bevries

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en Transnet het vandeesweek ʼn bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal verkry om vyf luukse eiendomme en pensioenvoordele van twee voormalige Transnet‑hoës en hul eggenote te bevries.

Dit kom nadat ʼn ondersoek aan die lig gebring het dat die aankoop van die eiendomme glo deur omkoopgeld van Transnet se diensverskaffers bekom is.

Die bewaringsbevel verhoed Zakhele Lebelo en sy vrou Alletta Mokgoro Mabitsi, asook Phathutshedzo Brighton Mashamba en sy vrou Matlhodi Phillicia Mashamba om die eiendomme te verkoop, te verhuur, te skenk of aan iemand anders oor te dra.

Die SOE het ook daarin geslaag om die betrokkenes se pensioenuitbetalings te bevries en verdere uitbetalings deur die Transnet-aftreefonds te verbied. Die pensioenvoordele beloop ʼn bedrag van sowat R1,8 miljoen.

Lebelo het reeds in November 2018 bedank weens sy beweerde korrupte bedrywighede, terwyl Mashamba eers in Mei vanjaar uit sy pos geskors is.

Die SOE het in ʼn verklaring gesê dat hy en Transnet die Spesiale Tribunaal genader het na aanleiding van ʼn ondersoek wat bevind het dat die twee beskuldigdes na bewering onwettige finansiële voordele ten bedrae van sowat R10 miljoen van Transnet se diensverskaffers ontvang het.

Die betrokke diensverskaffers is Superfecta Trading 209 en BBDM Bros Advertising Agency.

Superfecta is vanaf 2016 ʼn verskaffer van elektriese en instandhoudingsdienste aan Transnet. Sy kontrak het tussen Februarie 2016 en Augustus 2018 tot gevolg gehad dat Transnet meer as R64 miljoen aan hom oorbetaal het.

BBDM het in 2015 ʼn langtermynhuurkontrak met Transnet se eiendomme-afdeling vir die Carlton Skyrink-gebou bekom. Kragtens sy huurkontrak met Transnet is BBDM vanaf Maart 2015 tot Junie 2018 toelaes ten bedrae van meer as R73 miljoen betaal om opknappingswerk aan die gebou te doen.

“Die bestuurders [Lebelo en Mashamba] het na bewering in hierdie tyd die onwettige finansiële voordele wat van die betrokke ondernemings gekry is, gebruik om luukse eiendomme namens trusts wat deur hulself en hul gades bestuur word, te bekom,” lui die SOE se verklaring.

“Daarom word die luukse eiendomme as opbrengs van onwettige aktiwiteite geag.”

Die SOE en Transnet het vandaar die aansoek om ʼn bewaringsbevel ingedien wat sal toesien dat die pensioenvoordele en die mans se eiendomme, wat in ʼn gegoede landgoed in onderskeidelik Rosebank en Dainfern geleë is, bevries bly hangende die uitkoms van siviele verrigtinge oor die beweerde aangeleentheid.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het die jongste verwikkeling verwelkom.

“Die bevel is ʼn voortsetting van die implementering van die SOE se ondersoekuitkomste om bates en finansiële verliese wat deur staatsinstellings gely is, te verhaal of verdere verliese te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wel gedaan maar hoekom loop Magashule, Zuma en ander politieke figure nog vry en bates word nie gevries nie? Dit is n duidelike dubbel standaard in die regstelsel.

Judy ·

En intussen het die pensionarisse nie elke dag kos of blyplek so min is die bietjie maandelikse pensioen

Kokerboom ·

Vir 27 jaar het die klomp skurke in tronke sit en beplan en in 27 jaar het hul alle infrastruktuur en wat kosbaar is verwoes!!!Ek het nie woorde om dit te beskryf so kwaad is ek! EN nogsteeds is die gemors aan bewind!!!!

Yvonne ·

Dan wonder ek hoeveel mense in al die korrupsie geraak is….die hele land en al sy mense…n skreiende skande

Nico ·

Dit is net weereens ‘n bewys van onbevoegdheid en swak kennis.

Veronika ·

Pestelensies, sit en vergryp hulle aan ons geld terwyl ons pensioene ons skaars kop bo water laat hou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.