Voortvlugtige 34 jaar ná moord gevonnis

(Argieffoto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Altesame 34 jaar ná die moord op ʼn aktivis van die United Democratic Front (UDF), is sy moordenaar skuldig bevind en gevonnis.

Siphelele Nxumalo was op 2 Februarie 1989 op die pad toe Wesley Matiri Madonsela (53) en sy makkers hom genader het. Hulle het skote op Nxumalo gevuur en gevlug.

Volgens die destydse verslag van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) is Nxumalo vermoor deur lede van die Chesterville A-Team tydens die politieke konflik tussen die UDF en ondersteuners van Inkatha.

ʼn Saak van moord is daardie tyd by die Cato Manor-polisiestasie aanhangig gemaak en Madonsela is in hegtenis geneem, sê brig. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Valke. Hy het gevolglik in die hof verskyn en borgtog is aan hom toegestaan.

“Hy het daarna verdwyn en glo landuit gevlug. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en die saakdossier is gebêre. Madonsela was sedertdien voortvlugtig en het nooit voor die WVK verskyn nie,” sê sy.

In Julie vanjaar het lede van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Durban vir Madonsela opgespoor. Die ondersoekspan hanteer spesifiek WVK-verwante sake in die provinsie. Dit is nie bekend waar Madonsela eindelik opgespoor is nie.

Hy is nou in die Durbanse streekhof skuldig bevind en ʼn vonnis van tien jaar vir die moord op Nxumalo opgelê.

Die nasionale hoof van die Valke, lt.genl. Godfrey Ledwaba, het die ondersoek- en vervolgingspan vir hul werk geloof en diegene bedank wat steeds sonder ophou aan lank uitstaande sake werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blikke ·

Ek dink hy was 19 jaar oud tydens die skietery, en nou 34 jaar later is hy 53 jaar oud.

FM ·

Maroela
Volgens par. 2 en 3 is Nxumalo vermoor en par. 6 is hy lewrnd gevind en dan skuldig aan sy eie moord ???

Sune van Heerden ·

Dagsê FM
Dankie vir jou boodskap.
Ons vra om verskoning vir die flater. Die berig is gewysig.
Groetnis
Suné

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.