Vordering gemaak in jong man se onopgeloste moordsaak

Ben van der Westhuizen (24). Foto: Verskaf

Bykans sewe jaar ná die raaiselagtige moord op Ben van der Westhuizen (24) van Vryheid is daar steeds niemand in hegtenis geneem nie.

Ben se gesin is egter hoopvol dat geregtigheid wel eendag sal geskied nadat ’n nuwe ondersoekspan betrokke geraak het en sedertdien moontlike verdagtes geïdentifiseer het. Die polisie het aanvanklik gedink dat Ben verongeluk het nadat sy liggaam en sy motorfiets op 21 Desember 2013 oorkant die boeresaal naby Bhekuzulu aangetref is. ’n Nadoodse ondersoek op versoek van die familie het egter later getoon dat hy vermoor is.

Daar kon egter destyds nie hond haaraf gemaak word wat die omstandighede rakende die moord betref nie. Die saak sou dus afgesluit word toe die dossier bykans vier jaar ná die moord onder kapt. Attie Engelbrecht se aandag gekom het.

Engelbrecht, die ondersoekbeampte in die saak, het aan Maroela Media bevestig dat sy taakspan die ondersoek in 2017 vrywillig oorgeneem het.

“Min het ek geweet wat op my wag. Dit was ’n gemors. Die toneel is destyds nie deeglik verwerk nie aangesien dit aanvanklik as ’n motorongeluk beskou is. Die motorfiets is byvoorbeeld nooit ingeneem sodat DNS-toetse op die motorfiets gedoen kon word nie. Ons het eintlik niks gehad om mee te werk nie.”

Tog het die taakspan die afgelope drie jaar tientalle mense in verband met die voorval ondervra en sedertdien vordering in die saak gemaak.

“As ek vir jou sê ons het 30 mense ondervra, dan is dit min. Ons het heel waarskynlik eerder al byna 60 mense ondervra. Ons het al die hele KwaZulu-Natal deurkruis en van Vryheid tot die Kaap gery met dié ondersoek.”

’n Vrou is al in aanhouding geneem vir ondervraging hoewel sy later weer vrygelaat is weens ’n tekort aan bewyse.

Die taakspan het wel nou eindelik moontlike verdagtes geïdentifiseer en beoog om binnekort die saak met ’n staatsaanklaer te bespreek. “As die aanklaer die groen lig gee, gaan ons hierdie mense opsoek. Ons weet waar sommige van hulle is.”

Sou hierdie mense nié verantwoordelik wees vir die moord op Van der Westhuizen nie, dan is daar altyd ’n Plan B om die ondersoek in ’n ander rigting te stuur, verduidelik Engelbrecht.

Ben is in 2013 kort voor Kersfees op 21 Desember omstreeks 18:30 uit die huis. Sy gesin het al opgeskep toe hy aangedui het dat hy gou ’n draai moet ry. Sy ma, Erina, het hom gevra om eers te eet, maar hy het haar verseker dat hy gou terug sou wees. Hy is toe op sy motorfiets daar weg sonder om te sê waarheen hy gaan.

Die gesin het teen 22:00 die betrokke aand nog niks van Ben gehoor nie waarna Erina twee plaaslike veiligheidsmaatskappye gebel het.

’n Beampte van een van die maatskappye het Erina later teruggebel en vertel die polisie is by ʼn ongelukstoneel waarby ’n jong man en ’n motorfiets betrokke was.

Ben was reeds dood met haar ander kinders se aankoms op die toneel. Die polisie het aanvanklik gedink dit was ’n motorfietsongeluk, maar Erina se kinders het aan hulle uitgewys dat daar geen skade aan hul broer se motorfiets was nie. Sy beursie, selfoon, valhelm en die motorfietssleutels was ook vermis.

Daar is later deur middel van ’n nadoodse ondersoek vasgestel dat Ben dood is weens ’n hou met ’n stomp voorwerp teen die agterkant van sy kop. Daar word vermoed dat hy op ’n ander plek vermoor is en dat sy liggaam en motorfiets op die toneel gestort is.

Sy foon is ook later met behulp van ’n private speurder opgespoor by ’n winkel wat herstelwerk aan selfone doen. Volgens die eienaar het iemand dit glo daar ingehandig.

Volgens Engelbrecht maak die swak ondersoekwerk destyds op die toneel dit moeilik om diegene op te spoor wat verantwoordelik is vir die moord.

“As hierdie ding reg gehanteer is, was dit makliker. Dit is ’n geweldig moeilike en tydsame ondersoek. Dit sloer ook omdat ons baie besig is.”

Engelbrecht is tans by verskeie ondersoeke, veral plaasaanvalle en -moorde, betrokke. Een van hierdie ondersoeke is dié van die onlangse moord op Glen en Vida Rafferty van Normandien.

“Ons wil bitter graag [Ben se familie] help om berusting te vind, maar omdat die saak ‘koud’ is, kan dit weens omstandighede nie altyd voorkeur kry nie.”

Erina sê op haar beurt aan Maroela Media dat haar gesin dankbaar is vir Engelbrecht en sy span se ondersoekwerk ten spyte daarvan dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

“Ons is baie gelukkig dat [Engelbrecht] oor ons pad gekom het. Ons het met die jare baie inligting bymekaargemaak en elke brokkie inligting aan hom oorhandig. Hy het ’n geweldige taak gehad om deur al daardie inligting te gaan.”

Erina is hoopvol dat die ondersoek eendag eindelik vrugte sal afwerp. Niks sal egter ooit haar kind kan terugbring nie.

“Dit sal Desember sewe jaar wees. Ons lewe het sedertdien ’n ander rigting ingeslaan. Of daar nou wel iemand in hegtenis geneem word of nie, dit [die moord] het ons hele lewe verander. Ek sien dit wanneer ek na my man en my ander twee kinders kyk.

“Dit is elke dag van jou lewe ’n emosionele stryd, maar ons twyfel nie dat geregtigheid gaan geskied nie.

“Dit sal ’n groot verligting wees indien iemand in hegtenis geneem word. Dit sal ’n las wees wat van ons afval. Dit is al wat ’n mens aan die lewe hou, dat dit gáán gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OW ·

So is daar engele orals op strategiese plekke geplaas om reg te laat geskied.Kapt Attie Engelbrecht is een van hulle.Baie sterkte aan die oorledene se familie.

Jaco ·

Swak ondersoek maar nou ja, dis mos maar hoe dit gaan in dié anti-wit SA: wanneer wit mense vermoor word, word dit af gemaak as:
-Dit was ‘n motorongeluk
¯Dis ‘n familielid of eks-geliefde wat dit gedoen het
-As die slagoffer wit is, is dit nie polities korrek om die ware moordenaars te soek en te vang nie
-Die oorsaak van dood is eintlik Corona
-Die slagoffer was mos maar net wit, so waarom nou moeite doen?
As jy wit is in SA, pas jouself dan BAIE GOED op en wees ALTÝD paraat, want as jy iets oorkom, gaan dié land se anti-wit owerhede NIE help nie.

ElizeK ·

Erina, ek kan en wil myself nie jul seer indink nie.
Baie baie sterkte aan jou en gesin.
Mag jul die antwoorde kry wat ek glo julle nodig het en verdien.

Dries ·

Dankie Kapt Engelbrecht. Sterkte met die ondersoek. Bly saak is weer “oop”.

Elmarie ·

Skande vir die laks spul wat eerste ondersoek moes doen. Ai… Ek hoop die ware skuldiges word opgespoor en vasgetrek en mag die familie berusting vind. Kan my nie indink hoe dit moet voel nie.

Moedeloos ·

Sterkte aan die familie. Hoop sommer die ondersoerspan van destyds word ook aangekla vir nalatigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.