Vrou geskiet ná man haar glo probeer omry

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn Vrou is Maandagmiddag buite ʼn laerskool in KwaZulu-Natal geskiet nadat ʼn man, vermoedelik haar eggenoot, haar na bewering eers met sy voertuig probeer omry het.

Voorlopige inligting dui daarop dat die man met sy voertuig buite die skool in die omgewing van Westville, Durban, oor die vrou probeer ry het, maar toe teen ʼn betonheining vasgery het.

Die man het toe uit sy voertuig geklim, ʼn vuurwapen op die vrou gerig en verskeie skote afgevuur.

Die man het daarna op die vlug geslaan.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê verskeie ambulansdienste is omstreeks 14:30 na die laerskool in Berea-Wes ontbied.

Die gewonde vrou is by paramedici se aankoms op die toneel in ʼn ernstige toestand aangetref.

ALS Paramedics sê die vrou, vermoedelik in haar 60’s, het verskeie skietwonde aan haar bolyf gehad. Sy is inderhaas op die toneel gestabiliseer voordat sy in ’n kritieke dog stabiele toestand in ʼn ambulans na die Ahmed Al Khadi- private hospitaal gehaas is.

Hiér het ʼn traumaspan die vrou ingewag.

Van Reenen sê die polisie het vanmiddag op die voorval gereageer en sou na verwagting ondersoek instel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Onder spesifieke omstandighede mag jy, maar dit moet uit selfverdediging of noodweer wees.

Niklaas ·

Nou wonder ek net , het die SAPS eers vandag daarvan te hore gekom , en nie gister alreeds nie ? Hul het glo eers vandag begin reageer dan. En daar is nie baie gewapende mans , wat hul onwillig kan laat optree nie. Daars net een man wat die vuurwapen hanteer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.