Vrou gevonnis oor onwettige leerlinglisensies

hof-hamer

Argieffoto

ʼn Verkeersbeampte van die uMngeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het ʼn opgeskorte vonnis gekry vir haar betrokkenheid by die uitreik van leerlinglisensies op bedrieglike wyse.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), het gesê Thandazile Judith Shelembe is Maandag in die Durbanse handelsmisdaadhof tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R9 000 gevonnis.

Shelembe is tot ʼn verdere vier jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy in die tydperk nie aan diefstal of bedrog skuldig bevind word nie. Sy moet ook drie jaar korrektiewe toesig uitdien.

Shelembe sal 16 uur per maand gemeenskapsdiens moet verrig vir die eerste 24 maande van die vonnis. Sy mag geen alkohol of dwelms gebruik tydens haar vonnis nie.

Shelembe, ʼn administratiewe klerk, is op 5 Junie deur lede van die RTMC se teenkorrupsie-eenheid en die Valke in Howick in hegtenis geneem. Haar inhegtenisneming het gevolg nadat ses toetssentrumbeamptes en nege leerlinglisensie-aansoekers in Maart verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklag van bedrog.

Volgens Zwane het Shelembe nege aanklagte van bedrog in die gesig gestaar nadat sy die inligting van aansoekers op die eNatis-stelsel ingevoer het sonder dat die aansoekers hul aansoeke voltooi het.

Sy het ook vals oogtoetsresultate ingedien en afsprake gemaak in die afwesigheid van die aansoekers.

Shelembe het reeds vroeër uit haar pos bedank en het verlede maand skuldig gepleit op die aanklagte teen haar.

“Die RTMC verwelkom die vonnis en hoop dit sal ʼn boodskap stuur dat misdaad rampspoedige gevolge het,” het Zwane gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Martin ·

Hulle moet op Akasia se toets sentrum ook toe slaan, net so korrup

Ek wonder ·

Ek wonder nou net wat van al die mense wat reeds dood of beseer is agv die lisensies wat aan mense uitgereik is wat nie kan bestuur nie. Hoekom word dit nie in ag geneem wanneer iemand gearresteer word vir die onwettige uitreiking van lisensies nie?

Oom Doug ·

ek wonder, soos oor die jaare is Al bewys die vonnis is afhanklik van vel kleur, did al.

Liekie ·

Ek hoop regtig waar dat die NEGE-leerlinglisensie-aansoekers se “vals” lisensies ook teruggetrek is EN dat hulle beslis beboet en vervolg word. Wraggies moes hulle ook daarvan geweet het as hulle nie dan nie eers opgedaag het vir die toetse nie !!
Dis skrikwekkend om te sien hoe bestuur die “Learner-drivers” op die pad ALLEEN in ‘n voertuig…kruie en stol…. indien hulle alleen bestuur moet hul mos dan al ‘n geldige lisensie hê en REEDS goed kan bestuur..??
Sorry – ek vra maar net !!! ???

AJB ·

Dis hoekom dit so op ons paaie gaan. Mense het nie ondervinding nie. Ken nie die padreels nie en is nie verdraagsaam op die paaie nie. Voertuie is nie padwaardig nie. Dit gaan in toekoms nog erger gaan want daar is elke jaar al meer voertuie op die paaie.

Linda J ·

Hoop al die ongeldige lisensies wat alreeds uitgereik is, is sumier terug getrek en dat daai skelms ook aan die pen gaan ry. Die persoon is nie die enigste een nie, daar is nog baie van hulle wat onwettige lisensies, leerlinglisensies en onpadwaardige voertuie ook padwaardige sertifikate gee. Ons is gladnie meer veilig op die paaie nie veral nie as die taxis sommer lekker in die aankomende verkeer mag ry nie.

Maljan ·

Tog blyk sy nog large and in charge te wees in diens van die munisipaliteit.

Jordaan ·

Belaglike ligte vonnis – sy het waarskynlik baie meer as R9000 “verdien” deur haar onwettige aktiwiteite en is nou eintlik maar skotvry,, buiten so bietjie gemeenskapsdiens.

WMirabilis. ·

Daar behoort van hierdie vrou ‘n voorbeeld gemaak te word. Sy behoort sonder enige parool vir ewig agter tralies weggebêre te word. Hoe sal ons weet hoeveel ongelukke het nie al plaasgevind as gevolg van haar bedrog nie.

Jeremia ·

Enige Jan Rap en sy maat bestuur deesdae – verkieslik met delfoon in die hand. Bestuurslisensies word soos Smarties verkoop – direk of indirek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.