Vrou, kinders dood toe bus teen kar bots

Die motor het in die veld langs die pad gestaan. (Foto: Verskaf)

Drie mense, onder wie twee kinders, is Maandag in Gauteng dood nadat ʼn bus teen hul motor gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici omstreeks 06:50 ʼn bus in die middel van die R511 in Centurion aangetref, asook ʼn motor in die veld langs die pad.

ʼn Vrou en ʼn seun wat vermoedelik agt jaar oud is, het buite die motor gelê, terwyl ʼn sesjarige seun en twee vroue in die voertuig was. ʼn Ses maande oue baba is ook in die motor aangetref.

“Paramedici het die pasiënte ondersoek. Ongelukkig het die vrou en kind wat buite die motor gelê het reeds aan hul beserings beswyk. Hulle is op die toneel dood verklaar,” sê Meiring.

Die sesjarige binne die motor was in ʼn kritieke toestand. Ondanks die paramedici se pogings het die kind aan sy beserings beswyk. Hy is ook op die toneel dood verklaar.

Die twee vroue wat binne die motor was, het matige beserings opgedoen en is na die naaste hospitaal geneem vir verdere behandeling.

“Genadiglik het die ses maande oue baba geen beserings in die ongeluk opgedoen nie.”

Pendelaars in die bus het ook geen beserings opgedoen nie.

Plaaslike owerhede was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos10 ·

Busbestuurders (jammer as ek veralgemeen, maar dis my daaglikse observasies) is deur die taxi bedryf opgelei.

melaney ·

Jy is heeltemal reg. Taxi bestuurders wat indiens geneem word wat nie andersins werk kon kry nie.

Gerrie ·

Daar moes al lankal n verkeerslig aangebring gewees het,ek ry daardie pad die afgelope 26 jaar en het al baie by daardie t aansluiting gesien gebeur,wat nie beskryf kan word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.