Vrou moet R500 losprys vir hond betaal

Lisette Lombard (45) moes R500 betaal om haar Jack Russel, Jolie, terug te kry nadat dié glo tydens ʼn uitstappie by Tafelberg “ontvoer” is. (Foto: Verskaf)

ʼn Sakejoernalis van Kaapstad moes Saterdag R500 opdok om haar 12 jaar oue Jack Russel, Jolie, terug te kry nadat dié glo tydens ʼn uitstappie by Tafelberg “ontvoer” is.

Lisette Lombard (45) sê sy en Jolie het tussen 12:00 en 13:00 deur die bosse in die omgewing van die Rhodes-gedenkteken gestap toe haar troeteldier skielik skoonveld was. Die hond was nie aan ʼn leiband vasgemaak nie.

“Sy was so 20 meter agter my. Ek het om ʼn draai gegaan en omgekyk om te sien waar sy is. Ek het aangeneem sy ruik aan plantjies soos sy gewoonlik doen, maar toe ek haar soek, kon ek haar nêrens kry nie.”

Sowat vier ure later het Lombard ʼn oproep van ʼn man gekry wat Jolie “gevind” het. Sy sê die vermeende ontvoerder het haar kontakbesonderhede op die etiket aan Jolie se halsband gevind.

“Ek was so bly iemand het my hondjie gekry en ek het dadelik gevra waar ek hulle kan ontmoet.

“Die man het gesê hy gaan my nie sê waar my hondjie is tot dat ek nie sê hoeveel ek bereid is om te betaal nie. Ek was heeltemal stomgeslaan.”

Lombard sê sy kon die man nie mooi hoor nie, en het toe maar ʼn SMS-boodskap gestuur waarin sy R500 vir die terugbesorging van haar hond aangebied het.

“Dis ongewoon om geld te eis wanneer jy iemand se hond opgespoor het. Wat anders is dit as afpersing?”

Lombard en die man het eindelik ooreengekom om mekaar by die Blue Route-winkelkompleks in Tokai te ontmoet nadat lede van die Kirstenbosch-polisiestasie haar bygestaan het.

“ʼn Polisiebeampte het die man gebel en gemaak asof hy my man is. Die man [vermeende ontvoerder] het toe ingestem om ons by Blue Route te ontmoet.

“Die polisie het die ontmoeting in ʼn ongemerkte voertuig dopgehou om te verseker dat ek en Jolie veilig is.”

Jolie kort nadat sy teruggevind is. (Foto: Verskaf)

Lombard sê vier mans het in ʼn wit Mazda Etude by die winkelkompleks opgedaag, waar een van die mans uitgeklim en haar genader het.

“Die man het ʼn gebreekte bottel half weggesteek in sy hand vasgehou. Hy het gesê ek moet eers die geld gee voor hy my hondjie sal oorhandig.”

Lombard sê sy was angsbevange, veral omdat sy nie vir Jolie in die kar kon sien nie.

“Ek het die geld oorhandig en die motor het nader gery – vir my het dit gelyk of hulle gereedmaak om weg te jaag. Ek was baie bekommerd dat hulle weer met my hondjie gaan wegry en daarom het ek saam met hom tot by die Mazda geloop.

“Ek was so verlig toe hy my hondjie uithaal en vir my gee. Sy het ʼn blou tou om haar halsband gehad wat baie styf vasgemaak was. Ek kon sien sy is verbouereerd. Sy was ook baie dors en het sommer twee bakke water opgedrink.”

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê ’n verslag van die betrokke polisiebeampte dui daarop dat daar nie ʼn misdaad plaasgevind het nie.

Potelwa kon egter nie dadelik bevestig of honde-ontvoerings ʼn algemene verskynsel in die omgewing is nie.

“Ek is vas oortuig dat hulle my hondjie doelbewus gevang het om my af te pers. Alles was so verdag,” sê Lombard.

“Ek wil hê mense moet bewus wees dat so iets kan gebeur. ʼn Mens moet uiters waaksaam wees en maar heeltyd jou hondjie in jou sig of aan ʼn leiband hou – al is dit hoe lekker vir hulle om vrylik te stap. Dis ʼn les wat ek nou geleer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Misky ·

Uitgeslape vaagsels en raak net by die dag meer “kreatief”. Ek is verstom oor van die dinge waarmee hulle vorendag kan kom om eerlike mense uit te buit.

TRP ·

Ek stem, as hulle maar die tyd en energie kan gebruik om iets uit te dink wat ‘n positiewe verskil kan maak sal dit dalk baie beter gaan in die land.

VaalDonkie ·

Jy is veronderstel om jou hond aan ‘n leiband te he in ‘n openbare plek.

Elinette ·

Ja, Vaaltyn, ons weet dit ook, maar soms maak mens jou woef los omdat jy veilig voel en weet jou woef is nie ‘n gevaar vir ander nie.

Kokerboom ·

Dis tipies Afrika. Wat was doel van Polisie teenwoordigheid en wat ‘n onsinnige verslag opmerking. Afpersing bly afpersing!!!

Misky ·

Dinge kon baie anders uitgedraai het en manier om haar te lok na onbekende area. Eerder veilig as jammer na die tyd.

Adelaide ·

Misdaad in SA is nou amptelik ‘n beroep – tyd dat hul belasting begin betaal.

Kokerboom ·

Ek stem. Koverte aksies deesdae lyk my meer betalend..gesien die aktiewe deelname. Dus betaal belasting. So ook dwelmbedryf en perlemoenstropers

battleaxe ·

Die misdadigers het mos geen gevoelens nie. Of dit nou ‘n hond of ‘n mens is. Solank as wat Hulle iemand kan afpers. Maar dis mos nie ‘n misdaad soos korrupsie nie nê?!

Sandra ·

Ek is bly Jolie is veilig. Verdomde skurke. En dan om nog met ‘n gebreekte bottel nader te kom. Ek kan nie verstaan hoekom die polisie dit nie sien as ontvoering nie. Al is dit ‘n hond. Wanneer raak hulle nie moeg om honde te ontvoer, en gaan dan oor na kinders. Hulle moes summier gearresteer word.

Harley Davidson ·

Natuurlik is dit n misdaad hy het betaling gevra alvorens hy die hond teruggee dit is uitbuiting maar hoe sal die polisie dit weet ek bedoel hulle pas nie eers die wet toe nie wat nog van die wet ken.

Keelvol ·

Om geld by iemand te eis in ruil om n hond terug te besorg is niks minder as afpersing nie. Veral as daar nooit van n beloning te sprake was nie. Dit is n KRIMINELE OORTREDING.

Hennie ·

Klink vir my eerder of die polisie daar was om seker te maak hulle mede Mafia kry die R500.

Martie Smartie ·

Extortion alternatief theft. In Engels. Vir die SAP lede wat nie weet nie

Anel ·

Onthou, dis werk. Die spul wat gearresteer word, moet stasie toe gevat word. ‘n Dossier moet oop gemaak word, die lot se eiendom moet opgeskryf word, hulle moet in die selregister op geteken word, hulle vingerafdrukke moet gevat word, en, en, en. Dis mos WERK en dan meng dit in met hulle PJ’ s!!!!

Wat op dees Aarde ·

Niks wat my meer brusend het as ‘n hond wat nie aan ‘n halsband vasgemaak is nie. Enige iets kan gebeur soos die arme hond wat onder ‘n kar beland ens.

Jeffrey ·

Daar is geen hoop meer vir hierdie land nie. Ons is omring deur baie siek mense.

JM ·

Dit was afpersing en die uitvaagsels is nie in hegtenis geneem nie?!!

Anoniem ·

Onder “ander” omstandighede sou Lisette die ontvoerde gewees het. Dankbaar die skurke het liewers net ń vinnige paar Rand gesoek sonder geweld. Dit kon soveel anders afgeloop het …

Saartjievandiebosveld ·

As dit nie ‘n misdaad is nie….Dan weet ek nou nie mooi nie..

Eugene ·

Van wanneer af is afpersing nie n misdaad nie? Wat maak dit saak of dit n hond of n kar of n mens is? Dus ndt die erns wat verskil maar dit bly misdaad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.