Vrou sterf in seekoei-aanval by St. Lucia-meer

(Foto: iSimangaliso-vleilandpark/Facebook)

ʼn Vrou is dood toe sy deur ʼn seekoei aangeval is op die westelike oewer van die St. Lucia-meer in die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal.

Die voorval het vroeg Vrydagoggend net voor die brug wat na St. Lucia lei plaasgevind. Volgens die bestuur van die iSimangaliso-vleilandpark en Ezemvelo KZN Wildlife het drie individue, onder wie ʼn 59-jarige vrou, die vleiland wat ʼn habitat vir onder meer seekoeie en krokodille is betree.

Hulle wou glo sonder die nodige toestemming rietgras (incema) oes toe hulle deur ʼn seekoei aangeval is. Die 59-jarige vrou is dood in die aanval terwyl die ander twee individue ongedeerd daarvan afgekom het.

Volgens iSimangaliso en Ezemvelo word daar elke jaar met gemeenskappe in die omgewing geskakel wanneer die incema-seisoen in Mei begin ten einde die proses te verduidelik wat gevolg moet word vir die oes vir daardie seisoen. Dit sluit onder meer in om die gemeenskappe bewus te maak van die prosesse wat hulle moet volg om veilig te bly teen wilde diere. Daar word onder meer ʼn veldwagter toegeken om veiligheidsredes terwyl daar ook ʼn permit aan elke individu toegeken word waarop die datums van die oesseisoen en ander voorwaardes gestipuleer word.

Daar is vanjaar weer verskeie vergaderings gehou waarna daar besluit is dat die oesseisoen nie gaan plaasvind nie weens die hoë watervlak van die meer en omliggende vleilande wat tot gevolg het dat meer gevaarlike diere gelok word.

iSimangaliso en Ezemvelo het hul medelye met die oorlede se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Onbesmetlik ·

Die mense luister mos nie. Dink hulle is onaantasbaar in die wettelose land van die “toksiese heersers”. Toe misreken sy haar met die natuurwette. Sy is mos gewaarsku !!!!!

Swerwer ·

Ongelukkig ontbreek gehoor/bewaring/opvoeding by sommige inwoners en dink hul hul is verhewe bo die res van die landsburgers. Dit is beslis niemand anders se skuld as die wat aangeval is nie.

Anel ·

Wie nie hoor nie, moet maar voel, het my oupa altyd gesê. Hy was ‘n wyse man.

Hennie J ·

Ja en nou, weens hulle balhorigheid, sal die seekoei seker die doodstraf opgele word en dan sal hulle dit seker ook nog wil opvreet!!!

Perdeby ·

Wel sy het met haar eie lewe gewoeker, so geen simpatie nie.

vonslecht ·

Die probleem was die tyd van die dag, Die seekoeie by st lucia is heel rustig en loop snags deur die dorps strate waar hulle die soet kort gras eet van mense se grasperke af nou omdat hulle snags aktief is keer hulle vroeg oggend terug water toe as jy tussen n seekoei en sy water is gaan jy tweede kom,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.