Vrou swaar gestraf ná moord op haar man

Mark Buttle en Analidia Dias Bella Dosantos

ʼn Vrou is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat sy en haar vriendin, met wie sy in ʼn verhouding was, saamgesweer het om haar man te vermoor nadat hul huwelik verbrokkel het en in ʼn poging om sy lewenspolis te bekom.

Analidia Dias Bella Dosantos (44) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis terwyl Charmaine Khumalo (48) 18 jaar tronkstraf opgelê is vir die moord op Mark Buttle. Hy is in Februarie 2018 in die Newlands-East-omgewing vermoor.

Teagan Brown, ʼn vriendin met wie Dosantos ʼn verhouding aangeknoop het nadat haar huwelik verbrokkel het, is dood voordat die verhoor begin het.

Buttle en Dosantos was getroud en tydens hul huwelik het Buttle lewensversekeringspolisse bekom waarvan Dosantos die begunstigde was. Hul huwelik het verbrokkel waarna Dosantos by Brown ingetrek het en hulle ʼn verhouding begin het.

Die twee vroue het beplan om Buttle te vermoor sodat Dosantos polisgeld kon eis. Hulle het die hulp van hul buurvrou, Khumalo, ingeroep.

Op die dag van die moord het Dosantos vir Buttle na die Newlands-East-omgewing gelok onder die voorwendsel dat sy hul huwelik wil red. Hulle het saam wyn gedrink en intiem verkeer. Buttle is kort hierna 53 keer met ʼn mes gesteek. Dosantos het toe na ’n nabygeleë huis gehardloop en beweer dat sy en haar man gekaap is.

Die drie vroue is in hegtenis geneem nadat daar tydens die polisie se ondersoek boodskappe op hul fone ontdek is wat hul met die moord verbind het.

Ter verswaring van vonnis het die staatsaanklaer ’n slagofferimpakverklaring aan die hof voorgelê wat deur Buttle se pa saamgestel is. In sy verklaring het Buttle se pa gesê dit is ʼn tragedie om ’n volwasse kind aan die dood af te staan. Hy het gesê dat sy vrou se gesondheid verswak het ná hul seun se dood.

Dosantos is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord en ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf op aanklag van regsverydeling. In die vonnisoplegging van Khumalo het die hof van die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf afgewyk en gesê dat sy nie die baasbrein van die moord was nie en dat sy met die polisie saamgewerk het na haar inhegtenisneming.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het die afhandeling van die saak verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

So kom die waarheid uit, alles draai om geld, geregtigheid het geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.