Vroueslaner glo aangerand; kruip nou weg

Jaco Swart (Foto: Facebook)

Die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart kruip tans weg nadat hy na bewering verlede week aangerand is.

“Hy vrees vir sy lewe,” vertel sy prokureur, Enoch Nethanani. “Hy is selfs te bang om sy foon te antwoord.”

Nethanani sê sy kliënt het hom onlangs in ’n stemboodskap in kennis gestel dat hy verlede week in Gauteng aangerand is. Nethanani wou nie bekend maak presies waar die beweerde aanranding plaasgevind het nie. Hy het wel Maandag aan Maroela Media gesê sy kliënt is in ’n stadium in die kattebak van ’n motor geboender voordat hy later afgelaai is.

Swart het glo tydens die aanranding in ’n stadium sy bewussyn verloor.

“Hy weet glad nie wie hierdie mense is of hoeveel daar was nie. Hy het net stemme gehoor toe hy sy bewussyn herwin het. Die stemme het gesê hulle moet sy hande breek omdat hy vroue slaan.”

Nethanani sê sy kliënt kruip sedert die beweerde aanranding weg. Nie eers Nethanani weet glo waar sy kliënt is nie. Swart het tot op hede nog nie sy beweerde aanranding by die polisie aangemeld nie “want teen wie moet hy dit aanhangig maak,” wil Nethanani nou weet. “Hy weet nie wie hom aangerand het nie”.

Volgens Nethanani behoort die voorval by die Sinoville-polisiestasie aangemeld te word sou sy kliënt besluit om ’n saak aanhangig te maak.

“Hy het egter alle vertroue in dié polisiestasie verloor. Hy het al vantevore sake teen sy vrou by die polisiestasie aanhangig gemaak en die dossiere het weggeraak,” beweer Nethanani.

“Hy voel geïntimideerd en bedreig. Hy het aanvanklik net dreigemente ontvang. Toe word hy aangerand. Dit bewys dat mense hom leed wil aandoen en selfs wil doodmaak.

“Wat nou aan die gebeur is, is onwettig en teleurstellend,” meen Nethanani.

“Selfs al stem mense nie saam met dít wat hy gedoen nie, hy is steeds ’n mens met regte. Dit is nie reg wat nou aan die gebeur is nie. Ek sê nie hy het die reg gehad om sy vrou aan te rand nie. Maar mense maak nou dreigemente sonder dat hulle die omstandighede weet. “

Swart is vroeër vandeesweek skuldig bevind aan aanranding met die doel om sy vervreemde vrou, Nicoleen, ernstig te beseer. Hy is in die streekshof in Pretoria-Noord ’n boete van R20 000 opgelê sowel as drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Maroela Media het vroeër berig Swart het skuld beken op twee klagte nadat hy deur ’n onaanvegbare saak in die gesig gestaar is wat beeldmateriaal van sy gewelddadige misdrywe insluit.

Kringtelevisie-beeldmateriaal van hul sakeperseel wys hoe Swart sy vrou in 2018 slaan, stamp en skop. Sommige van hierdie wrede aanvalle het voor die egpaar se twee kinders plaasgevind.

Nog aanklagte van aanranding sowel as bedrog is sedert die vonnis teen Swart aanhangig gemaak.

Lees al Maroela Media se berigte oor Jaco Swart hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Clifford,net iets tot nadenke.My grou het my deur die gesig geklop veral as ons by vriende gekuier het.Sy het nie eers ‘n koppie gewas nie.Ek moes dit doen gras sny baddens oopmaak en huis skoon maak.Een aand het sy my met ‘n leë bottel oor die kop geslaan omdat ek nie vir haar wou koffie maak nie.Ek het skedelbreek opgedoen en 13 steke ontvang.Ek het besluit om te skei en haar so meegedeel.Ons het by vriende gaan braai toe slaan sy my met ‘n glas in die gesig en daar besluit ek,ek slaan haar binne in ‘n koma in.Vandag is sy die wonderlike vrou wat ‘n man voor kan vra maar ons is geskei en ek is getroud met ‘n fantastiese vrou.’n Swaard sny party keer twee kante toe maar hierdie vent moet sy straf kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.