Die dorp Vryheid in KwaZulu-Natal is reeds sedert Vrydag sonder water as gevolg van vandalistiese dade deur stakende munisipale werkers.
Die Vryheid Herald het Vrydag berig stakende werkers van die Abaqulusi-munisipaliteit het die dorp se hoofwatertoevoerpype saboteer deur dit stukkend te slaan.
“Op die Vryheidkoppie, waar die dorp se wateropgaardamme is, het stakende werkers die hooftoevoerpyp wat water van die Klipfontein- en Bloemveld-suiweringstasie gelei, stukkend geslaan. Die opgaardamme verskaf water aan Vryheid, Bhekuzulu en Lakeside,” berig die Vryheid Herald.
Volgens die koerant het die werkers ook die direkte toevoerpyp na Vryheid stukkend geslaan, wat tot gevolg het dat geen water in of uit die dorp kan vloei nie. Lees meer hier.
ʼn Munisipale werker wat die munisipaliteit se telefoon na-ure beman, het Saterdagoggend aan Maroela Media bevestig hulle het verneem dat stakende werkers die pype beskadig het. Die beampte het geweier om sy naam bekend te maak of om die munisipaliteit se woordvoerder se selfoonnommer te verskaf. Hy het wel gesê hulle is meegedeel dat watertoevoer Saterdag teen 17:00 herstel sal wees. Die beampte het gesê die woordvoerder sal eers Maandag beskikbaar wees om kommentaar te lewer.
Breek…Afbreek…Vernietig en so kan ek aangaan is die nuwe “Hunky Dory” in die land…Wat n grap.