Vrystaatse paaie verkrummel weens groot reën

Die paaie verkrummel in Bethlehem (Foto: Verskaf)

Die swaar reën wat die afgelope maand in die Vrystaat geval en in sommige dorpe selfs oorstromings veroorsaak het, het ernstige skade aan talle paaie in dié provinsie aangerig. Verskeie paaie en brûe het verspoel of is nou onbegaanbaar vir motoriste.

Vrystaat Landbou (VL) het gewaarsku dat die Vrystaat se padinfrastruktuur in ʼn uiters swak toestand is en het ʼn dringende brief aan die provinsiale departement van polisie, paaie en vervoer gerig en gevra dat dringende stappe gedoen moet word om paaie vir noodsaaklike toegang te herstel.

Volgens die landbouorganisasie is die paaie in die Vrystaat die afgelope paar jaar kwalik in stand gehou en die onlangse verkrummeling daarvan weens die erge reën is ʼn bewys dat die belangrike infrastruktuur, wat nodig is vir voortgesette ekonomiese bedrywighede in landelike gebiede, besig is om ineen te stort.

“Boere sal dit toenemend moeilik vind om produkte na markte te vervoer. Daarbenewens plaas die verhoogde stremming van beweeglikheid die lewe en lewensbestaan van gemeenskappe in gevaar. Baie arm mense het byvoorbeeld nie toegang tot mediese sorg nie en plaaswerkers vind dit ook toenemend uitdagend om na en van hulle werk te reis,” sê Francois Wilken, VL-president.

“Indien die situasie nie aandag kry nie, sal plaasbewoners soos pensioenarisse en skoolkinders nie toegang tot dienste kan kry nie; taxi’s weier lankal om hierdie paaie te gebruik en klinieke en ambulanse sal nie toegang tot plase kan kry om chroniese medisyne af te lewer en ernstig siek pasiënte te vervoer nie. Dit maak alles inbreuk op die basiese menseregte van ons landelike burgers.”

Slaggate in Bethlehem (Foto: Verskaf)

Wilken sê boere het reeds begin om sekere paaie te herstel, maar benodig finansiële en materiële steun om verdere rampspoed af te weer.

“Daar is ʼn dringende versoek vir die beskikbaarstelling van toerusting soos padskrapers en veeldoelige laaigrawe aangesien die staat se verouderde geel vloot basies buite werking is weens swak instandhouding. Verder is materiaal soos bitumen of teer, beton, kasduikerpype en diesel vir boere se toerusting wat die herstelwerk doen, nodig.”

‘n Pad heeltemal verspoel in Heilbron (Foto: Verskaf)

Volgens Wilken finaliseer VL ʼn interne plan om die swak toestand van paaie te probeer verbeter. Hy sê indien daar nie aandag aan padinfrastruktuur gegee word nie, sal VL-lede gedwing word om paaie te herstel waar toegang van kritieke belang is. As ʼn onmiddellike stap win VL intussen die mening van regs- en ander kenners in oor wat burgers en ander instellings kan doen om paaie te begin herstel.

“In Maart 2019, ná die oorstromings naby Rouxville in die Mohokare-munisipaliteit, het dit drie maande geneem om die plaaslike raad sover te kry om ʼn plaaslike noodtoestand te verklaar om sodoende finansiering van die departement vir paaie beskikbaar te stel om onbegaanbare paaie te herstel. Tans, byna twee jaar later en met die verklaring van ʼn noodtoestand, is hierdie paaie steeds nie behoorlik herstel nie.

“Met swaar reënbuie sal die bietjie gruis wat op die paaie oorbly, wegspoel en die paaie lewensgevaarlik vir reisigers word. Dit gaan selfs duurder word om hierdie paaie te herstel. Om hierdie rede doen VL ’n beroep op politieke hoofde om die afkondiging van ʼn noodtoestand te bespoedig en hulpbronne beskikbaar te stel om ons landelike bewoners by te staan.”

Die gebiede wat die ergste deur oorstromingskade geraak is, sluit in Bultfontein, Hoopstad, Parys, Vredefort, Viljoenskroon, Heilbron, Bothaville, Wesselsbron, Kroonstad, Steynsrus, Reitz, Lindley, Bethlehem, Fouriesburg, Slabberts, Paul Roux, Clarens, Ficksburg, Marquard, Senekal, Harrismith en Kestell.

Isoldé Laesecke, ʼn gemeenskapsleier van Bethlehem, sê as inwoner is sy al raadop oor die slegte paaie op die dorp wat nie net onrybaar is nie, maar ook ʼn groot uitwerking op plaaslike sakeondernemings het.

Inwoners en boere spring in om self die slaggate in Bethlehem reg te maak (Foto: Verskaf)

“Sakeondernemings is die hartklop van enige dorp en op die oomblik ly ondernemings hieronder. Die paaie maak die aflewering en vervoer van goedere bykans onmoontlik,” sê Laesecke.

“Die paaie is ook gevaarlik en beskadig ons voertuie.”

Laesecke sê hulle het al telkemale aan die plaaslike munisipaliteit se deur gaan klop, maar kry geen terugvoer oor hoe die probleem getakel gaan word nie.

Inwoners en boere van die omgewing het intussen ingespring om self die slaggate reg te maak.

“Die slaggate op die dorp kom al vir jare. Hoewel reën ʼn rol speel in die verkrummeling van ons paaie, is dit nie alleen verantwoordelik daarvoor nie. Ons paaie word al vir jare nie onderhou nie.”

Slaggate in Bethlehem (Foto: Verskaf)

‘n Oorspoelde pad digby Heilbron (Foto: Verskaf)

Motoriste moet omtrent uitswaai vir slaggate in Bethlehem (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Dries ·

In Bethlehem was die strate alreeds so vol slaggate nog voor die reen.

Suzette ·

Dit is dieselfde in Bloemfontein en presies soos jy sê Dries – dit was al so nog voor die reën. Ons is stadig maar seker besig om weer terug te beweeg na grondpaaie – of nee wag die regering van die dag bou ‘n nuwe pad want van instandhouding is daar nie sprake nie, dan kan hulle roem op die bietjie wat hulle voorgee hulle “opgerig / gebou” het.

Niklaas ·

Dis nou erg. Nooit weer kla ek oor Lydenburg se paaie vol gate nie. Hierdie is baie slegter.

Samuel ·

Ja,ja. Die Vrystaatse regering het net ACE se voorbeeld van plundering gevolg en nou is daar nie geld vir infrastruktuur herstel nie.

pokkel ·

Noord Kaap ook… lyk my mens moet maar klein gate gou herstel anders spoel hul net groter en dieper… maar lyk asof die munisipale bestuurders met hul blink goed nog nie dit besef het…

Maggies ·

Die Boshof pad van Dealesville tot Boshof is ook verskriklik sleg. Daar nis plekke wat vreeslike diep gate het.

Franz ·

Dankie tog dat Jy dit noem,die pad is vrot,baie skade berokken op die pad.

Francois Le Cochon ·

Reen laat paaie verkrummel slegs as die onderlaag nie behoorlik waterdig gemaak is nie. Die boonste oppervlak is nie waterdig nie, en water moet verhoed word om deur te sypel in die grond, As dit wel gebeur, begin die pad verbrokkel. In die laaste 2 jaar is ‘n aansienlike aantal paaie in Kaapstad oor geteer. Al hierdie paaie het al klaar barste in waar reen na onder deursypel en modderwater na bo deursypel as dit reen. Dit beteken die padbouers het kortpad gevat en nie die onderlaag behoorlik waterdig gemaak nie. Op die ou ent is dit die Kaapstadse belastingbelater wat daaronder gaan ly.

Ronel ·

Dis NIE net agv die reën nie. Het lank voor al die reën al so gelyk. Alles behalwe slegte of geen instandhouding sal nou die skuld kry

Debbie ·

Sasolburg is in net so n haglike toestand. Bly al 5 jaar hier en paaie nog nie herstel en nog nie 1 keer n straat lig sien werk hier in ons area

Alet ·

Alles in hierdie land is ten gronde vanwee geen instandhouding nie. Regering dink mos alles is deur die feetjies oornag gedoen. Nou sit die hele regering en hulle spul amptenare wat veronderstel is om die werk te doen en wag en intussen moet jan publiek self sien en kom klaar. Maar jou pond vleis word elke maand gevat.

Dubbelloop ·

Die hele land se strate en paaie is in chaotiese toestand, party plekke ergers as ander. Geen dorp in ń plattelandse streek se strste is in goeie toestand nie. ń Groot skande wat die dag se regering aan ons land doen. Nooit ooit sal dit terug keer soos voor 1994 nie.

Sakkie ·

Nie net Vrystaat nie. Die HELE SUID AFRIKA verkrummel en is vernjetig !!!!!!!!!!!

Miskruier ·

Hier in Limpopo ook. Dit raak duur om kos na stede te vervoer.

Eish ·

Regstelling: Die paaie lyk nie so agv die reën nie. Dis nou werklik nie asof dit die enigste plek in die wereld is waar dit al ooit gereën het nie. Die paaie lyk so agv swak instandhouding of geen instandhouding en swak herstelwerk. As dit slegs reën is wat paaie so laat lyk hoekom lyk die res van die wereld nie so na tornados, tsunamies en vloede nie?

Baardman ·

Dis nie die reen se skuld nie, as die paaie instand gehou was, sou dit waarskynlik nie so verbrokkel het nie

Lorette ·

Kimberley loop ook deur agv reën, maar voor dit was bykans elke pad in Kimberley in baie swak toestand. Het vandag langs ‘n skool verby gery en was geskok om te sien hoe die pad lyk. Mens is veiliger op die sypaadjie. Die ironie is dat ek in ‘n huis langs daardie straat grootgeword het! Dit was ‘n uitstekende pad daardie jare, maar vandag moes ek sukkel om met my klein motortjie daar te beweeg! Maar nouja, ons Munisipaliteit is bankrot agv van diefstal en hengse salarisse vir die grootkoppe!

Cecilia ·

Dis skokkend hoe d paaie oor d algemeen lyk dwarsoor d land.
D regering wil mos als BBEEE en onbevoegde geld vrate aanstel met geen ondervinding om infrastruktuur te herstel nie.

4ntj13 ·

Dis Vrystaatse platteland. Ek wens media kan ook berig hoe dit gaan in Bloemfontein self. Talle van die paaie rondom my lyk vir jare al veel erger as sommige van hierdie foto’s. En, reën is verreweg nie die grootste oorsaak nie. Die vrot wys net beter as die water weg is en nog meer ondersteuning weggespoel het. Dit raak veral erg as enige reën mens boonop vaskeer omdat jy nie soos ryker bure 4×4’s het om die modder mee goed op te klits, nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.