Vrystaters glo oor NGV geboelie

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Montseng Ts’lu, LUR van gesondheid in die Vrystaat, het toestemming gegee dat ʼn amptelike pamflet van die Vrystaat-regering versprei word waarin ondertekenaars aangemoedig word om die Nasionale Gesondheidsversekering-wetsontwerp (NGV-wetsontwerp) te ondersteun.

Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, het gesê dit is veral kommerwekkend dat die pamflet só bewoord is dat ondertekenaars namens alle lede van hul gemeenskappe en die provinsiale kabinet praat.

“Hierdie is duidelik ʼn ondermyning van die nasionale parlement se rol in die wetgewingsproses. Die Vrystaat-regering is welkom om hul kommentare op die NGV-wetsontwerp aan die parlement voor te lê, maar hulle mag nie gewone lede van die publiek mislei om petisies te onderteken nie. Dit is onvanpas en oneerlik,” het Gwarube gesê.

Die NGV-wetsontwerp dien tans voor die parlement en die openbaredeelnameproses vind in elke provinsie plaas as deel van die parlement se grondwetlike plig.

“Slegs die parlement kan die publiek se kommentare op hierdie wetsontwerp aanhoor en verwerk as deel van hul wetgewende proses. Die uitvoerende gesag vorm nie deel van die parlement se wetgewende proses nie, en moet hulself weerhou daarvan om openbare sentiment te probeer beïnvloed, asook om die publiek te mislei deur hulle te dwing om petisies te onderteken.”

Die DA het van betroubare bronne verneem dat gesondheidsorgwerkers by verskeie gesondheidsfasiliteite ook geboelie word om die LUR se petisie te onderteken. “Dit is uiters kommerwekkend dat die staat Suid-Afrikaners, en ook die betrokke gesondheidsorgwerkers, se vertroue op hierdie manier skend. Dit is ʼn uiters ongeoorloofde uitoefening van staatsmag,” het Gwarube bygevoeg.

Die DA sal formeel ʼn klag rig aan die minister van gesondheid, dr. Zweli Mhize, en hom uitdaag om onmiddellik te gelas dat die betrokke pamflette teruggeroep word. “Hy moet hierdie uiters problematiese optrede van die LUR en haar departement ten sterkste veroordeel. Die DA glo ook die voorsitter van die portefeuljekomitee van gesondheid, dr Sibongiseni Dhlomo, moet in die openbaar hierdie ondermyning van die parlement se proses veroordeel, en seker maak dat die betrokke pamflette uit sirkulasie geneem word voordat die openbare verhore in die Vrystaat afskop.”

Hy het gesê die ANC-regering en ANC-partystrukture sukkel duidelik met ʼn basiese begrip van die Grondwet en grondwetlike konsepte soos skeiding van magte, wat van kardinale belang is vir die daarstel van ʼn verantwoordbare regering en vir die regverdige behandeling van Suid-Afrikaners. “Die ANC is duidelik verbind daartoe om hierdie wetsontwerp ten alle koste deur te druk, en in die proses is hulle bereid om laag te daal en Suid-Afrikaners te mislei oor die oogmerke van die wetsontwerp.”

Die DA glo dat Suid-Afrika se gesondheidstelsel dringend hervorm moet word sodat die lewens van miljoene Suid-Afrikaners, tans verdoem tot ʼn verswakkende gesondheidstelsel, verbeter kan word. “Die DA steun onomwonde gratis gesondheidsorg vir almal, maar die NGV-wetsontwerp sal dit nie kan bewerkstellig nie. Dit gaan bloot miljarde rande van openbare fondse oorgee aan diegene met politieke bande, en niks doen om die gehalte van gesondheidsorg in Suid-Afrika te verbeter nie. Die DA sal om hierdie rede voortgaan om die NGV-wetsontwerp teen te staan. Ons moet waak teen die ANC se begeerte om die nasie te mislei en openbaredeelnameprosesse te ondermyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maljan ·

NGV sal gebeur. Dit is ANC inisiatief, hoe kan dit doodgebore word? Enige mense met n greintjie verstand kan sien dat dit nie haalbaar is nie. Maar elke meerderheidsmens dink n besoek aan n privaat hospitaal, is n vakansie in Dubai. Almal wil dit hê.

André-Chris ·

Maar in skole word boelies vasgevat want dis onaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.