Vyf in hof vir moord op Raymond Papapavlou

Simone Papapavlou en Patricia Lee Smith word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Simone se man te vermoor (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Limpopo-plaasvoorman Raymond Papapavlou (28) se vrou, Simone, en haar destydse beweerde minnares, Patricia Lee Smith, se verhoor is Maandag opnuut uitgestel.

Simone en Patricia het vlugtig saam met drie ander beskuldigdes, Paulina Mamalope Mafatle, Calvin Tseka en Mafula Phillip Manchidi, in die hooggeregshof in Polokwane verskyn in verband met die moord op Raymond.

Al vyf verdagtes is vroeër al op borgtog vrygelaat.

Familielede van Simone en Patricia het oudergewoonte saam met hulle buite die hofsaal gewag. Patricia het ʼn nekdoek oor haar mond en neus getrek. Simone was netjies geklee in ʼn wit baadjie en haar gesig was gegrimeer.

Die twee vroue word deur onderskeidelik adv. Pottie Potgieter en adv. Johann Gaum verteenwoordig. Die verhoor was veronderstel om vandag te begin, maar die staat was nie gereed om voort te gaan nie.

Patricia Lee Smith en SImone Papapavlou was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens regter Marisa Naudé-Odendaal is daar uitstaande inligting in die saakdossier en word daar nog op nagenoeg 33 verklarings gewag. Boonop was adv. André van der Kooi, staatsaanklaer, nie Maandag in die hof nie omdat hy hospitaalbehandeling ontvang.

Naudé-Odendaal het gesê die nodige dokumente en inligting moet teen 18 Augustus gereed wees sodat die verhoor kan voortgaan.

Die saak is tot 27 September uitgestel.

Die beskuldigdes van links: Patricia Lee Smith, Simone Papapavlou, Paulina Mamalope Mafatle, Calvin Tseka en Mafula Phillip Manchidi (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Dit is al byna drie jaar sedert Raymond se moord en die verhoor is nou twee keer in die afgelope twee jaar uitgestel.

Raymond se liggaam is in Oktober 2020 in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal in Limpopo aangetref is.

Patricia was aanvanklik die enigste aangekeerde in die saak, met Simone wat maande later in hegtenis geneem.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Raymond te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Simone voer aan haar man het die aand van sy dood op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers geslaap terwyl sy in die sitkamer televisie gekyk het.

Volgens haar het sy ’n skaduwee in die huis gesien waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee afgevuur.

Dit sou egter later in die landdroshof op Groblersdal blyk dat daar vyf maande voor die moord glo rotgif op Raymond se braaibroodjie gegooi is.

Die ondersoekbeampte, ao. Debbie van Zyl, het tydens Simone se borgtogaansoek in 2021 getuig dat sy en Patricia vir Raymond wou “uithaal” omdat hy na bewering in die pad van hul liefdesverhouding gestaan het.

Van Zyl het ook aangevoer dat geld nie as motief vir die moord uitgeskakel kan word nie, aangesien Raymond voor sy dood twee lewenspolisse uitgeneem en Simone die begunstigde gemaak het.

Paulina Mamalope Mafatle, Calvin Tseka en Mafula Phillip Manchidi is ook vir die moord op Raymond Papapavlou in hegtenis geneem [Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die beskuldigdes van links: Patricia Lee Smith, Simone Papapavlou, Paulina Mamalope Mafatle, Calvin Tseka en Mafula Phillip Manchidi (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Mafatle en Tseka, ʼn ma en seun, is in Augustus verlede jaar in verband met die moord in hegtenis geneem.

Van der Kooi het in November verlede jaar in die hof aangedui dat daar moontlik nog inhegtenisnemings kan plaasvind, waarna Manchidi vasgetrek is.

Dié drie word daarvan beskuldig dat hulle ook ’n aandeel in Raymond se moord gehad het.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harry ·

This nonsense of people hiding their faces in court needs to come to an end! Courtrooms are open to the public so we can see justice being done, so why are the defendants allowed to hide from the public?

Delia ·

Borgtog???besoeke aan haarsalonne en skoonheidsterapeute gaan maar net aan. Vir hulle 5 gaan die lewe aan. Die vermoorde bly steeds vermoor. Ek verstaan nie borgtog storie….

Delia ·

Yes…was actually a retorical question. Do not understand why some stay in jail awaiting trial and others not. I suppose we just have to trust the judicial system and processes.

Veldblom ·

Drie jaar gelede al vermoor en nog nagenoeg 33 verklarings uitstaande . Hoe is dit moontlik ?

ChrisO ·

As mens gaan kyk na die hoeveelheid sake per speurder is dit heel moontlik!

Lillian ·

En nou skielik is hulle vreemdelinge vir mekaar…. Sit kierts regop en maak of hulle mekaar gladnie ken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.