Vyf mense verdrink in Noordwes

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Vyf mense het die afgelope naweek in Noordwes verdrink nadat groot dele van die land verlede week swaar reën, en in sekere gevalle, oorstromings ervaar het.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die jongste verdrinkings het die polisie opnuut bekommerd oor mense se kennis wat waterveiligheid betref.

Volgens Myburgh het die eerste verdrinking ʼn week gelede in Brits plaasgevind.

“Die liggaam van ʼn onbekende vrou is by Klipkop in die Krokodilrivier aangetref nadat sy glo in die rivier beland en verdrink het,” sê sy.

ʼn 15-jarige seun het die afgelope Saterdag in ʼn onverwante voorval ook verdrink. Sy liggaam is in ʼn dam langs ʼn skool in Koster gevind.

“ʼn Derde voorval is in Jouberton op dieselfde dag aangemeld, maar polisieduikers het eers die vrou se liggaam twee dae later gevind,” sê Myburgh.

“Die vrou is na bewering deur vloedwater meegesleur nadat sy ʼn stroom in Jagerspruit probeer oorsteek het.”

Die vierde liggaam wat deur polisieduikers gevind is, het teen Maandagmiddag reeds begin ontbind. Die onbekende persoon is in Boitekong by die Hexrivier aangetref.

Die vyfde verdrinkingslagoffer is Donderdagmiddag in Brits, ook in die Krokodilrivier, gevind ná ʼn uitgebreide soektog.

“Dit het die duikers, tesame met die gebruik van ʼn hommeltuig, drie dae geneem om die liggaam op te merk. Die liggaam is eindelik gevind nadat ʼn aantal krokodille in die water naby die liggaam sigbaar was.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het intussen sy bekommernis oor die talle verdrinkingsvoorvalle in die provinsie uitgespreek.

Hy het ook mense gemaan wat veral riviere of sterk strome probeer oorsteek om liefs eers die watertoestande te toets.

“As jy in ʼn vinnig vloeiende rivier vasgevang word, beweeg eers voete eerste sodat jy nie kopbeserings opdoen nie. Indien jy kan, probeer net so gou moontlik die kant bereik.”

Kwena het ook mense aangemoedig om nooit alleen na ʼn groot massa water te gaan nie en nie die water te betree tensy daar ʼn sterk swemmer in die omgewing is nie.

“Sou die nood ooit druk en jy nie in lewensreddingtegnieke opgelei is nie, gebruik enige voorwerp, soos ʼn leë koelboks, om iemand in nood by te staan.”

Inwoners van Noordwes moes verlede week behoorlik planne maak om selfs net van punt A tot B te kom toe die strate soos riviere gelyk het soos wat dit verspoel het.

Inwoners het die strate met kano’s aangedurf en ER24 moes by geleentheid ook met hul bootjies tot vele inwoners se redding kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.