Vyf vas oor KZN-boer se moord

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Trevor Murphy (55), Vrydag op sy plaas in Karkloof in die Howick-omgewing van KwaZulu-Natal.

Maroela Media het vroeër berig Murphy was die oggend omstreeks 02:00 in sy huis toe drie mans hom aangeval en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek het. Die aanvallers het ʼn selfoon, vuurwapen, televisiestel, kruideniersware en skootrekenaars gebuit voor hulle in sy voertuig van die toneel weggejaag het. Murphy is na ʼn hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê speurders van Howick, Pietermaritzburg-polisie se eenheid vir openbare orde en sekuriteitsbeamptes van Magma-sekuriteit, het Maandagoggend vroeg reageer op inligting dat Murphy se voertuig in Pietermaritzburg se sentrale sakedistrik opgemerk is. “Hulle het na die ligging gegaan en die voertuig met drie insittendes gewaar. Polisiebeamptes het die voertuig voorgekeer en ʼn soektog is uitgevoer.”

Naicker sê tydens die soektog het beamptes beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool en klere wat tydens die rooftog gesteel is. “Die drie verdagtes is dadelik in hegtenis geneem.”

Verdere ondersoek het die span na die Swapo- informele nedersetting gelei waar nog twee verdagtes in hegtenis geneem is. “Die polisie het ook beslag gelê op nog vermoedelik gesteelde items vir verdere ondersoek.”

Die vyf verdagtes, tussen 25 en 47 jaar oud, staan tereg op aanklag van moord en roof. Hulle sal binnekort in die Howick-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, het die vinnige inhegtenisnemings verwelkom. “Alhoewel ons treur oor dié gewelddadige moord in Howick, loof ons die span van die polisie en privaat sekuriteit wat onverpoosd gewerk het om die oortreders aan te keer. Ons hoop dit stuur ʼn duidelik boodskap aan oortreders van sulke gruwelike misdade dat die polisie nie sal rus totdat ons hulle agter tralies het nie.”

Chris Pappas, DA-lid van die provinsiale wetgewer, het vroeër gesê Murphy was ’n welbekende en geliefde boer in die Karkloof-gebied. Volgens hom is dit die tweede voorval in die gebied in die afgelope paar maande. “Dit is duidelik dat die SAPD hierdie gebied moet beskou as ’n potensiële brandpunt vir plaasverwante misdade en die nodige hulpbronne moet gebruik om ons boere en plaaswerkers te beskerm. Tot op hede het die provinsiale regering nog net lippediens gelewer rakende die veiligheid van landelike en boerderygemeenskappe.”

Guido Urlings, steundiensbestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het vroeër aan Maroela Media gesê daar was vanjaar reeds 13 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikke ·

Dis Baie hartseer…..ongelukkig moes Mnr. Murphy die hoogste prys betaal…..

Frank ·

Welgedaan SAP.
Nou moet ons liewe Regstelsel net vir ‘n slag sy werk begin doen.

Werner ·

Dit kan gedoen word mooi so SAPD Hou so aan en maak n verskil in die land????

Jack ·

Ek gee op oor die moorde. Jy maak n groot gemors van die land mnr ramaphosa.

Regverdigheid ·

Niks word gedoen hoeveel moet nog vermoor word?????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.