Vyf vas vir Ermelo-boer se moord

(Argieffoto)

Vyf mans is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die moord op ʼn boer van Ermelo verlede jaar.

Jannie Weideman se lewelose liggaam is in Desember by sy huis aangetref. Weideman se vrou was glo ten tyde van die voorval op Middelburg nadat sy vroeër dorp toe is. Sy het die bure gebel en hulle gevra om ondersoek in te stel nadat haar man op geen van haar oproepe of boodskappe gereageer het nie.

Weideman se Toyota Hilux is tydens die voorval gebuit, asook ʼn vuurwapen en juweliersware ter waarde van meer as R300 000. Die voertuig is later verlate, sonder ʼn battery, gevind.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die polisie se ondersoekspan het onverpoos gewerk om die verdagtes in die moord op te spoor, en het vandeesweek daarin geslaag.

Drie verdagtes tussen 23 en 34 jaar oud is Maandag reeds vasgetrek. Slegs ure later is nog twee mans, onderskeidelik 35 en 37 jaar oud, in hegtenis geneem.

Ten tyde van die inhegtenisneming het die polisie op ʼn voertuig se battery afgekom wat vermoedelik tydens die plaasaanval uit Weideman se voertuig gesteel is.

“Beamptes het ook op vuurwapens beslag gelê wat vermoedelik tydens die plaasaanval gebruik is,” sê Mdhluli.

Nog ʼn vuurwapen is teruggevind wat in Mei 2022 in Piet Retief gesteel is. Die polisie stel tans vas of dié vuurwapen moontlik tydens die plaasaanval gebruik is.

Terwyl beamptes op die vuurwapens beslag gelê het, is Vusumuzi Mandlazi (39) en Robert Shabalala (49) ook in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Mandlazi en Shabalala het reeds in die hof verskyn.

Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat dié twee verdagtes by Weideman se moord betrokke is nie. Mdhluli sê terwyl die polisie ondersoek instel na Mandlazi en Shabalala se bewegings tydens die plaasaanval, bly hulle in aanhouding. Hulle sal op 15 Februarie weer in die hof verskyn.

Die vyf ander verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Ermelo-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney, polisiekommissaris van Mpumalanga, het die betrokke polisiebeamptes bedank dat hulle 24 uur per dag gewerk het om al die leidrade te verbind wat hulle na die verdagtes toe gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Ja Jannie het saam met my broer se vrou vir OTK in Bethal gewerk.My broer het hom beskryf as ‘n baie aangename man,altyd vriendelik en hulpvaardig.

christo ·

Daar is wél Polisielede wat hulle korrupte kollegas in die skande steek, deur voortreflike ondersoeke kan doen. Dit hang nou af of ‘n bevoegde aanklaer die saak suksesvol aan die hof voor te lê vir vervolging.

Gaitsigubib ·

Casper, jy vertel eintlik dat Jannie enige een van ons kon gewees het. Volgende kom hulle dalk vir my al het ek niks gedoen nie.

mattk ·

Hulle bly tans in aanhouding tot 15 Februarie waarna hulle moontlik op borgtog vry gelaat sal word.Sommige beamptes werk hulle sterte af om sake opgelos te kry terwyl die howe hul sterte afvee aan die harde werk.

electricmango ·

Iets klop nie, hoekom het hy hulle nie geskiet nie? Vir die boere wat elke dag baklei vir oorlewing moenie omkant gevang word nie, skiet eerste ploeg hulle in die lande in en wag geduldig vir nog n byt….

Niklaas ·

En al die aanvallers het ongedeerd daarvan afgekom en is springlewendig. Was die boer dan totaal ongewapen en dalks net glad nie paraat nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.