Vytjie Mentor sterf

Vytjie Mentor. (Argieffoto: ANA)

Die voormalige ANC-LP en staatskapingfluitjieblaser Vytjie Mentor is ná ʼn lang siekbed dood.

Die 58-jarige Mentor was sedert 2020, met ActionSA se totstandkoming, ʼn lid van dié party. Herman Mashaba, president van ActionSA, het Dinsdagoggend gesê Mentor is reeds geruime tyd siek en was maande lank in die hospitaal.

“Ons moenie vergeet dat Vytjie Mentor die eerste was om wat ons ‘staatskaping’ noem aan die groot klok te hang nie,” sê Mashaba.

Mentor was van 2002 tot 2014 ʼn parlementslid voor sy by ActionSA in die Wes-Kaap aangesluit het. Sy het weens gesondheidsprobleme in Junie vanjaar die tuig neergelê as die party se voorsitter in die provinsie.

Volgens die party het sy ʼn sentrale rol gespeel in die stigting en uitbreiding van die party in die Wes-Kaap.

Sy was een van die eerste politici wat voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het en het onder andere aangevoer dat die Gupta-familie haar ʼn kabinetspos aangebied het.

“Sy was ʼn ware patriot wat haar land gedien het, selfs te midde van kritiek,” sê Mashaba.

“Ons hou Vytjie se familie en vriende in ons gedagtes en gebede en vra dat haar geliefdes die privaatheid gegun word om te rou.”

Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA, het Mentor as een van Suid-Afrika se grootste stryders bestempel.

In huldeblyke op sosiale media is Mentor geloof vir die rol wat sy gespeel het om die omvang van staatskaping te help onthul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koos ·

Ek salueer jou Vytjie, rus in vrede en dankie dat jy die regte ding gedoen het.

Samuel ·

Vytjie, jy sal onthou word vir die moed wat jy gehad om korrupsie bloot te lê. Rus in vrede

Lillian ·

Rus in vrede Ma Vytjie, ons land het meer mense soos jy nodig om dié land reg te ruk.

VannieBaai ·

En nou sal sy nooit sien dat haar onthulling die moeite werd was nie…….RIV

Wondermaarnet ·

RIV. Jy was ‘n heldin en het nie geskroom om die waarheid te praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.