Waarnemende OB stuit Mkhwebane se appèlaansoek

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die waarnemende Openbare Beskermer (OB), adv. Kholeka Gcaleka, het ʼn stokkie gesteek voor adv. Busisiwe Mkhwebane se aansoek om verlof tot appèl teen haar skorsing.

Mkhwebane spartel nou al geruime tyd om in haar pos te bly en haar nie te onderwerp aan parlementêre oorsig nie.

ʼn Parlementêre proses om Mkhwebane in ʼn staat van beskuldiging te plaas lê voor, terwyl pres. Cyril Ramaphosa die beleërde Mkhwebane op 9 Junie geskors het. Die Kaapstadse hooggeregshof het reeds Mkhwebane se aansoek om Ramaphosa te verhoed om haar te skors, sowel as vir die parlementêre proses teen haar om voort te gaan, van die hand gewys.

Sy het Maandag die hof gevra om teen die uitspraak te appelleer.

Die waarnemende OB sê egter in ʼn brief aan Mkhwebane en die ander respondente dat die regsfirma wat die aansoek namens Mkhwebane ingedien het – Seanego Attorneys – dit nie namens die kantoor van die OB gedoen het nie.

Gcaleka sê onder die omstandighede is die kantoor van die OB van voorneme om kennis te gee dat die aansoeke teruggetrek word.

Sy sê in die brief ook dat Seanego Attorneys en die regsverteenwoordigers nie gemagtig is om namens die kantoor van die openbare beskermer op te tree nie.

“In die geval dat adv. Mkhwebane in haar persoonlike hoedanigheid voortgaan met die aansoeke, of as die respondente voortgaan met die bevel wat hulle vra, sal die kantoor van die openbare beskermer hom berus by die besluit van die hof, tensy enige van die respondente voortgaan met ʼn kostebevel teen die kantoor,” lui Gcaleka se brief.

Sy vra ook die hof en die respondente om verskoning vir die ongerief wat die aansoeke veroorsaak het.

Ramaphosa het Mkhwebane geskors ʼn dag nadat sy aangekondig het dat haar kantoor gaan ondersoek instel na die verloop van gebeure ná die diefstal van miljoene dollar op Ramaphosa se wildsplaas Phala Phala in Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Waarnemer ·

En so word die skandes van die land se leiers weggesteek….deur afdankings van mense wie korrupsie wil onderdoek….wat van iemand dank sommer vir ou cyril en al sy kaders af?

JohanR ·

Herinner my om nooit Seanego Attorneys te gebruik nie. Miskien kan Seanego Attorneys vir ‘n R500000 loon by Standard Bank vir my vra nog voor ek gevra het!

Johann ·

Verstaan ek reg? Sy is nie by magte om van die OB se regsfirma(s) gebruik te maak nie? Beteken dit eintlik sy moet vir haar eie najaag om haar job te red betaal?

Lourens ·

Indien dit nie in opdrag van die OB gedoen is nie, is die OB ook nie verantwoordelik om die rekening te betaal nie. Inderwaarheid is hier dalk nou ‘n bykomende klag: misbruik van staatsbronne vir persoonlike gewin.
Dis tragies dat hierdie onbevoegde kader geskors is net omdat Cyril sy eie bas wou red, in plaas van om die regte redes.

My siening ·

Hierdie x ob kos die belasting betaler baie geld, stop haar nou en laat haar beursie oop maak en betaal. Sy het niemand sover beskerm nie net te na gekom! Kader van zuma!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.