Wagte dood wat kragkabels beveilig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Twee wagte wat ʼn kabeldiefstalbrandpunt in Johannesburg beveilig het, is Donderdagaand dood nadat hulle deur ʼn onbekende aantal mans oorrompel is.

Dit kom net ʼn dag nadat veiligheidswagte naby Melrose deur gewapende mans aangehou is. City Power het die afgelope paar maande gewapende sekuriteit by sy verskeie installasies verhoog weens die toename in diefstal en vandalisme.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê die wagte het kort voor hul dood ʼn vragmotor vol gebrande koperkabels van ondergrondse tonnels na die stad se bergingsfasiliteit in Booysens begelei. Die stad se ondergrondse tonnels het vroeër vandeesweek aan die brand geraak en van die infrastruktuur is gevolglik beskadig.

Die wagte het om 22:00 by ʼn kiosk in Carrstraat stilgehou. Daar word gedurig by dié winkel ingebreek om toegang tot die tonnels, en dus koperkabels, te verkry.

“Hulle het die winkel geïnspekteer en na hul voertuig teruggekeer om ʼn kort veiligheidsverslag te skryf,” sê Mangena.

“Dit is egter toe dat gewapende mans aan die bestuurder- sowel as die passasierskant verskyn en albei wagte doodgeskiet het.”

Die verdagtes het die liggame van die wagte uit die voertuig gehaal en een vuurwapen gebuit. Dit is nie bekend of die boosdoeners enige koperkabels gebuit het nie.

Die polisie is ontbied en meer as 10 gebruikte patrone is op die toneel aangetref. ʼn Ondersoek na die moorde is reeds van stapel gestuur.

“Die jongste moorde wys net hoe brutaal en gevaarlik die kabeldiewe geword het,” sê hy.

“Dit bevestig ook ons teorie dat kabeldiefstal verband hou met georganiseerde misdaad wat nie net deur gewone mense gepleeg word nie, maar deur swaargewapende bendes wat toegerus is met die nodige hulpbronne.”

Lede van ʼn gekontrakteerde veiligheidsmaatskappy is ook Woensdag by die Cydna-substasie naby Melrose deur gewapende mans aangehou.

Hoewel hulle ongedeerd van die voorval afgekom het, is 12 koperkabels van die substasie gesteel.

City Power se waarnemende uitvoerende hoof, Tshifularo Mashava, het haar meegevoel met die families van die twee sekuriteitsbeamptes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Hoe verklasr Cele dat onder sy bestuur misdaad in die
Buite beheer is..

Hugo ·

Waarom stel hulle nie grensvegter Bolhuis en sy troepe aan om dit te beveilig nie

Jr ·

Dit beteken net dood eenvoudig dat die vuur in die tonnels oorspronklik aspris aan die brand gesteek was sodat hulle die kabels kon kry as hulle vervoer was. Dra hierdie land en infrastruktuur weg stuk vir stuk. Gaan aan tot daar niks oor is nie!

casper ·

Maar natuurlik – dit was bekend vanaf die begin van die pret !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.