Walliese raadslid bedank oor hy nié beroemde Banksy is

William Gannon het bedank oor bewerings dat hy die straatkunstenaar Banksy is – ‘n aantyging wat hy ten sterkste ontken. (Foto: Facebook)

ʼn Walliese wyksraadslid het noodgedwonge bedank weens hardnekkige gerugte dat hy die wêreldbekende straatkunstenaar Banksy is. Dit is ʼn bewering wat hy ten sterkste ontken.

William Gannon, ʼn Pembroke Dock-raadslid, sê die “belaglike” bewerings is op verskeie sosialemediaplatforms gemaak. BBC berig hy sê in sy bedankingsbrief die bewerings “ondermyn my vermoë om die werk van ʼn wyksraadslid” te doen.

Gannon is nou al so keelvol vir die gerugte – wat talle mense boonop glo – dat hy ʼn kenteken laat maak het wat lui “I am not Banksy” in ʼn poging om enige verwarring uit te skakel.

Volgens hom verwag mense van hom om te bewys wie hy nié is nie – en dat dit ʼn haas onmoontlike ding is om te doen. Hy sal nou sy werk as gemeenskapskunstenaar voortsit. Hy beoefen sy kuns, soortgelyk aan dié van die beroemde Banksy, al 40 jaar lank in naastenby dieselfde omgewing.

Gannon het aan WalesOnline gesê hy wil egter nie hê die bewerings moet die dorpsraad se goeie naam in die gedrang bring nie.

Luidens die berig is Gannon en sy gesin in hul huis geteister en is hy onderwerp aan verskeie persoonlike aanvalle op sosialemediabladsye. Die polisie ondersoek glo klagtes daaroor.

Gannon dra deesdae ‘n borsspeld wat lui dat hy nie Banksy is nie. (Foto: Facebook)

Die dorp het nie sy eie Banksy-werk nie en Gannon sê die kunstenaar is meer as welkom om Pembroke Dock te besoek en ʼn kunswerk agter te laat “waarvan almal hou”.

“Banksy is ʼn baie verantwoordelike kunstenaar. Verbeel jou wat dit vir ons toerisme sal doen,” het hy volgens BBC gesê.

Banksy se bekende “Slave Labour”-kunswerk.

Die Bristol-gebaseerde Banksy se identiteit is steeds onbekend en sy kunswerke word vir reusebedrae geld verkoop. Dit sorg ook dikwels vir omstredenheid, met sommige mense wat sy kunswerke, wat oënskynlik sommer oornag op plekke verskyn, wil verkoop. Ander besmeer weer sy werk.

Banksy se straatkuns geniet geweldige groot aanhang en hy dryf graag die spot met diegene in magsposisies, of lewer sosiale kommentaar oor politieke of aktuele kwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Britanje moet maar net kyk watter kunstenaars lekker groot bedrae geld ontvang wat ooreenstem met die pryse wat vir Banksy se kunswerke betaal word en die geheim is uit. Follow the money.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.