Walus-parool: ‘Kameraad Hani weer vermoor’

Betogers Saterdag buite die Konstitusionele Hof. (Foto: ANC/Twitter)

“Kameraad Chris Hani is Maandag weer vermoor toe die aankondiging van Walus se vrylating gemaak is.”

Só het die Gautengse premier Panyaza Lesufi Saterdag buite die Konstitusionele Hof in Johannesburg gesê waar verskeie lede van die ANC, EFF en SAKP teen die vrylating van Janusz Walus, veroordeelde moordenaar van die voormalige SAKP-leier, betoog het.

Regter Raymond Zondo het Maandag gelas dat Walus binne tien dae op parool vrygelaat word.

Lesufi het vanmiddag ’n beroep op onder meer politieke partye gedoen om Walus onwelkom te laat voel wanneer hy na verwagting op parool vrygelaat word.

“Hy moet weet dat hy ons kwaad gemaak het en nooit daardie tronk in vrede sal verlaat nie.

Panyaza Lesufi Saterdag buite die Konstitusionele Hof. (Foto: ANC/Twitter)

“Selfs wanneer hy daardie tronk verlaat … moet hy weet Suid-Afrikaners is nie gelukkig nie,” het Lesufi later aan verslaggewers buite die hof gesê.

“Ons het die reg om die boodskap aan hom te stuur dat hy ons held vermoor het. Hy is ’n moordenaar, en hy moet dit weet.”

“Ek is natuurlik woedend,” het die betoger Lenin Mpesi aan AFP gesê. “Ek verstaan nie waarom daardie man, Walus, vrygelaat moet word nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het ook op sy beurt vroeër vandeesweek gesê die uitspraak is “teleurstellend”.

Zondo het tot die Hani-familie se skok Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, se besluit van 2020 om Walus se paroolaansoek opnuut af te keur, Maandag as irrasioneel verklaar en ter syde gestel.

Betogers Saterdag buite die Konstitusionele Hof. (Foto: ANC/Twitter)

Walus, ’n Poolse immigrant en volgens sy regspan die mens in Suid-Afrika wat nog die langste agter tralies is, is al sowat 28 jaar lank in aanhouding en het sedert 2011 reeds verskeie kere onsuksesvol aansoek gedoen om parool.

Walus het Hani in 1993 voor sy huis in Boksburg doodgeskiet. Hy en Clive Derby-Lewis is in dieselfde jaar albei die doodstraf vir die moord op Hani opgelê. Die vonnisse is later na lewenslange tronkstraf omgeskakel. Derby-Lewis is in 2015 op mediese parool vrygelaat en is in November 2016 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Nee Ramaphosa, wat teleurstellend is, is die feit dat jy n totale bakhand slapgat is wat te bly was dat Zuma se vonnis “verby” was. Lesufi, die dunk van jou is so laag dat dit nie eers die moeite werd is om kommentaar te lewer oor jou nie.

Pietertjie ·

Dink net hoeveel vermoorde boere word elke slag “weer vermoor” as hulle moordenaars vrygelaat word? Dis nou as die moordenaars in die eerste plek vasgetrek word…

Antie Sarie ·

Lesufi praat nie namens alle Suid Afrikaners nie. En Rampie moet eerder kyk na homself voor hy die woord “teleurstelend” gebruik. Hy is ook maar net n marionet van Britanje. Walus moet so gou moontlik die land verlaat. Anders is hy open season. Net jammer Pole het nie destyds n uitlewerings bevel kon kry.

Janine ·

Klomp narre. Bekommer julself eerder oor jul eie wat moor en verkrag, 5 jaar sit, en dan weer in gemeenskappe losgelaat word! Breindood, julle hele spul!

Treurwilger ·

M. a. w . selfs president Ramaphosa verstaan nie die werkinge van die regstelsel in ‘n demokrasie nie.
Dít is al wat uiters “teleurstellend” is hier.

Rooikopheks ·

Wanneer ek luister en lees oor “mense” en wat hulle kwyt raak, hoe haat gevul hul woorde is, kan ek net sê, die leegste blikke maak die meeste geraas. En ongelukkig is dit mense met bitter lae IK’s. Walus het sy straf lankal klaar uitgedien. Hoe durf sommige mense dreig in die openbaar dat hy nie veilig is om ontslaan te word nie. Is dit nie ook strafbaar nie?

Annelie ·

Regter Zondo het die regte besluit gemaak om hom vry te laat. Vergifnis kom almal toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.