Was brand by parlement ‘georkestreerde voorval’?

Zandile Christmas Mafe word daarvan beskuldig dat hy die verwoestende brand by die parlementêre kompleks gestig het. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Die DA is bekommerd dat daar dalk meer as een verdagte agter verlede jaar se verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad sit. Die opposisieparty sê dis tyd dat die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) betrokke raak.

Dit volg nadat verskeie skermgrepe van kringtelevisiebeeldmateriaal van die parlement voor, tydens en ná die brand vroeër vandeesweek by die Wes-Kaapse hooggeregshof in die saak teen Zandile Mafe ingedien is, berig News24.

Die skermgrepe – waarin daar gesien kan word hoe die vermeende brandstigter ure lank in die parlementêre kompleks ronddwaal voordat hy eindelik ʼn brand stig – bied ʼn skokkende tydlyn van gebeure wat tot die brand gelei het.

“Dit is duidelik dat die betrokke individu vir meer as 24 uur vrylik binne die gebied rondbeweeg het sonder om raakgesien te word. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die bestaande veiligheidsmaatreëls en die moontlike betrokkenheid van ander by hierdie doelbewuste daad,” sê Dianne Kohler-Barnard, DA-LP.

Kohler-Barnard sê die foto’s wat lyk asof Mafe oor die foon praat, is veral kommerwekkend aangesien dit moontlike kommunikasie met ʼn eksterne party voorstel. “Dit alleen is genoeg bewyse om ʼn deeglike ondersoek te regverdig na wie anders betrokke was by hierdie aanval op ons demokratiese instelling.

“Ons doen ʼn beroep op ʼn dringende ingryping deur die SSA om ʼn omvattende ondersoek te doen.”

Kohler-Barnard sê dit is uiters belangrik om vas te stel of Mafe se foon deur die ondersoekers ontleed is en, indien nie, hoekom nie. “Om die ontleding van sy foon te bevestig of te ontken, is noodsaaklik om die volle omvang van hierdie voorval te verstaan. Die moontlikheid van ʼn toesmeerdery moet deursigtig aangeraak word.”

Maroela Media het vroeër berig Mafe, die man wat daarvan beskuldig word dat hy die brand op 2 Januarie  gestig het, is vandeesweek ongeskik bevind om verhoor te word.

Kohler-Barnard meen selfs mense met geestesgesondheidsuitdagings kan deur ander beïnvloed en ingespan word. “Die bewering dat hierdie daad georkestreer is, ontken nie die belangrikheid daarvan om diegene met direkte betrokkenheid aanspreeklik te hou nie.

“Die DA eis ʼn deeglike ondersoek deur die SSA. Dit is noodsaaklik om ons fokus te verskuif van die individu na die breër konteks van wat blyk ʼn doelbewuste en gekoördineerde daad, wat lyk soos terrorisme, op die parlementsgebou te wees. Die werklike skuldiges gebruik dalk die aandag op Mafe om sodanige ondersoek vry te spring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Die konsep van terloops is nie deel van anargisme nie. En deel van die klug is om ‘n handpop te kry om mal te speel in die hof.

annie ·

Ek het ook die idee dit was ‘n georkastreerde aksie wat redelike beplanning en insig van die omgewing en posisies van wat waar is en hoe dit werk en wat buite werking was. Dié ou was daar rond maar beslis nie die king pin nie. Die feit dat buitestaanders dit moet vra en dat daar nie aanvanklik gereken is dat dit baie beplanning gevra het nie, laat mens wonder of kundiges in staatsintelligensie nie dalk ‘n vinger in die pie mag hê nie.

Jaco ·

Vreemde saak dié: ek sou gedink het die persoon wat die parlementsgebou aan die brand sou steek is ‘n reaksionêre wit rassistiese man vol apartheid en teen “transformasie”. Maar daar is die brandstigter toe sowaar een van die ANC se eie “our people”. Hoe dan nou?

JohanEtz ·

Die gesegde ONLY IN SA is op meeste gebeure in ons eens vermoëmde land van toepassing.
Sou ñ parlement in enige ander land brand, was die skuldiges al verhoor en tereggestel vir terrorisme.

Martie ·

Ek sê weer, skisofrenie is ‘n chroniese toestand wat met medikasie beheer word soos diabetes en hoe bloeddruk. Miljoene woon en werk saam en tussen jou. Is sy regsverteenwoordiger nie dieselfde man wat die OB teen duisende ‘n dag verdedig het nie?

George ·

@JohanEtz, nee wat jy kan se in enige 3de wereld land. Nie uniek aan SA nie.

Shakespeare ·

TOEGESMEER. Ons kan spog met die slimste kriminele in die wêreld van die Presidensie tot voetvlak. 3de Hoogste kriminele in Afrika. Welgedaan ANC/EFF.

domheks ·

Die mense wat die saak ondersoek het? was hulle nie BAIE NALATIG nie? Maar nee, 2+2=5.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.