Wat steek agter ANC-regering se spanningsvolle verhouding met Israel?

Israel en Palestina se vlae in Jerusalem, die hoofstad van die land (Foto: ANP XTRA LEX VAN LIESHOUT)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het verlede week hul uitnodiging aan Israelse rugbyklub Tel Aviv Heat, om aan die Mzansi Challenge deel te neem, onttrek. Volgens Saru doen hy hierdie stappe om te verhoed dat Israel se deelname aan die kompetisie ʼn bron van verdeling word.

Die VF+ meen Saru se besluit toon doodeenvoudig politieke gedienstigheid teenoor die ANC. Volgens die party het die ANC met sy anti-Israel-sentimente veel eerder die sweep geklap met Saru wat gedweë spring.

Dié besluit plaas die spanningsvolle aard van die verhouding tussen Suid-Afrika en Israel weer in die kollig.

SA-regering se houding jeens Israel

Die voortslepende konflik tussen Israel en die Palestyne gaan gepaard met groot diplomatieke veredelingslyne op die internasionale verhoog. Die wortel van verdeling wesende die magstryd oor die beheer van grond asook die status van Jerusalem as heilige stad vir beide Israelies en Palestyne.

ʼn Spanningsvolle verhouding word grootliks sedert die val van die apartheidsregering deur die ANC-regering met Israel gehandhaaf. Waar die apartheidsregering ʼn veel meer pro-Israel-standpunt ingeneem het, bevind die ANC-regering hulself grootliks teen dié staat gekant.

Die ANC-regering huldig die mening dat dié Joodse staat ʼn moderne apartheidstaat is wat Palestyne op soortgelyke wyse onderdruk as wat swart mense tydens Suid-Afrika se apartheid onderdruk is. Hulle teenstand teen Israel vloei dus hoofsaaklik voort uit hul persoonlike renons in enige politieke opset wat hulle aan apartheid herinner.

Hierdie is duidelik te bespeur uit die geleidelike statusverlaging van Israel as staat oor die afgelope paar jaar.

‘n Palestynse man hou ‘n Palestynse vlag tydens konflik met Israeliese magte naby die grens tussen Israel en die Gasastrook (Foto: MAJDI FATHI / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Suid-Afrika het in 2018 so ver gegaan as om hul ambassadeur uit Tel Aviv te onttrek na ʼn 2017 ANC-beleidsbesluit in die verband. Hierdeur het die Suid-Afrikaanse regering enersyds die legitimiteit van Israel, soos wat dit tans bestaan, misken en andersyds die noodsaaklikheid van Palestynse vryheid beklemtoon.

In Desember 2022 het minister van internasionale betrekking en samewerking, Naledi Pandor, beklemtoon dat Suid-Afrika sy verhouding met Palestina in 2023 gaan versterk. Volgens Pandor kan die Suid-Afrikaanse regering nie “normale” verhoudinge met Israel handhaaf tot daar ʼn vrye Palestina gevestig is nie

“Die voortdurende flagrante misbruik van die menseregte van Palestyne plaas ʼn morele verantwoordelikheid op Suid-Afrika om op te tree. Suid-Afrika is dus in die proses om ʼn omvattende Suid-Afrikaanse Inisiatief oor Palestina (SAIP) te konseptualiseer om die Palestynse saak te ondersteun en te konsolideer, internasionale konsensus te bou en ons verhoudings met Israel te herkalibreer.”

Suid-Afrika ondersteun die sogenaamde tweestaatoplossing vir Palestina en Jerusalem – ʼn oplossing waarin beide Jode sowel as Palestyne oor hulself in soewereine state kan regeer.

Ter nadere bespeuring van die geskiedenis van die Israel-Palestynse konflik bestaan daar egter vrae oor die Palestyne self se verbintenis tot ʼn tweestaatoplossing.

Vooruitsigte van Israel-Arabiese-vrede

Sedert die 1970’s is talle pogings van stapel gestuur om Israel se verhoudings met Arabiese buurstate te probeer normaliseer. Hierdie sluit in, maar is nie beperk nie tot, normalisering van verhoudinge met die Palestyne in Israel self.

“Die belangrikste redes waarom volhoubare vrede [met Palestyne] tot nou toe nie moontlik was nie, is die verdeeldheid onder die Palestyne, die politieke agendas van verskeie rolspelers aan beide kante van die stryd, enkele blykbaar onversoenbare geskilpunte oor die beheer van belangrike stukkies grond in veral die ooste van Jerusalem en dele van die Wesoewer, en die afgelope 27 jaar die opkoms van Hamas, ʼn terreurgroep wat deesdae die Gasastrook regeer,” verduidelik Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging.

Israelse eerste minister Ehud Barak, Amerikaanse president Bill Clinton, en Palestynse leier Jasser Arafat tydens gepoodge vredesonderhandeling by Camp David in 2000 (Foto: STEPHEN JAFFE / AFP FILES / AFP)

“In Julie 2000 het die Israelies en Palestyne met die bemiddeling van president Bill Clinton by Camp David in die VSA ontmoet. Israel was bereid om belangrike toegewings te maak, en op die punt toe die VSA oortuig was dat ʼn ooreenkoms bereik is, het die Palestyne onder leiding van Jasser Arafat egter geweier om daartoe in te stem. Clinton hou sedertdien vol dat die mislukking van die onderhandelinge voor die deur van Arafat gelê moet word en dat Arafat nooit werklik van plan was om tot ʼn ooreenkoms in te stem nie.

“Sedert die onderhandelinge in 2000 was daar nog pogings deur Clinton se opvolgers, sowel as deur die Verenigde Nasies, maar die verdeeldheid onder die Palestyne het toegeneem en geen konsensus bestaan meer oor wie vandag namens die Palestyne kan praat nie, omdat die Gasastrook deur Hamas en die Palestynse gebiede in die Wesoewer deur die Palestynse Owerheid beheer word,” sê Kleynhans.

Uit die jare van onsuksesvolle vredesonderhandelinge heen blyk dit al meer asof die Palestyne nie werklik opsoek is na ʼn tweestaatoplossing nie – minstens nie een waarin die Jode steeds beheer oor hul eie staat in die gebied mag behou nie. Verskeie toegewensgesinde onderhandelingspogings vanaf die Jode en derde partye is al oor die dekades heen deur die Palestyne van die hand gewys.

‘n Kaart van die streek (Foto: CIA Factbook)

“Vir die meeste Arabiese lande in die streek gaan dit oor die beskerming van die regte van mede-Arabiere, asook die behoud van beheer oor sogenaamde heilige gebiede soos dié in Oos-Jerusalem.

“Die meeste Arabiese lande wil egter ook sien dat die streek ekonomies vooruitgaan, en dit is waarskynlik die hoofrede waarom soveel Arabiese lande die afgelope tyd hul verhoudinge met Israel genormaliseer het,” verduidelik Kleynhans.

Hoewel volhoubare vrede tussen Israel en die Palestyne tot dusver nog nie behaal is nie, het Israel sedert die 1970’s groot vordering gemaak met normalisering van verhoudinge met Arabiese streeksgenote.

Die Abraham-akkoorde wat in 2020 onderteken is, het in ʼn historiese stap die verhoudinge tussen Israel, Bahrein en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) genormaliseer.

Die Abraham-akkoorde het verander hoe mense oor potensiële vrede in die Midde-Ooste dink. Eerder as Israel-Arabiese-konflik, is Israel-Palestynse-konflik die voortslepende uitdaging.

Geskiedenis van Israel-Palestynse-konflik

“Hoewel die gebied waar Israel, die Wesoewer en die Gasastrook vandag geleë is, oor die eeue heen deur Jode, Moslems en Christene bewoon is, is die meer onlangse konflik nie soveel ʼn historiese konflik nie, maar eerder ʼn moderne stryd om grondgebied en beheer van belangrike historiese en selfs heilige plekke,” verduidelik Kleynhans.

“Voordat Brittanje ná die Eerste Wêreldoorlog beheer oor die gebied gekry het, was dit deel van die Ottomaanse Ryk en is dit binne die Ottomaanse Ryk saam met die hedendaagse Sirië bestuur en beheer.

“Hoewel Jode reeds sedert die 1800’s stelselmatig na die gebied, hul historiese tuiste, begin emigreer het, was dit veral die Balfour-verklaring in 1917 deur die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, waarin die regering van die Verenigde Koninkryk hom tot die ontwikkeling van ʼn Joodse tuiste in die Palestynse gebied verbind het, wat tot ʼn groot instroming van Jode in die gebied aanleiding gegee het.

Palestyne loop oor die doodgetrekte gesig van voormalige Britse eerste minister Arthur Balfour. Dit is na hom wat die Balfour-verklaring vernoem is waarin die reg op ‘n Joodse tuisland deur die Britse regering ondersteun is (Foto: MAJDI FATHI / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

“Gedurende die 1920’s en 1930’s het hierdie instroming voortgeduur, en die Tweede Wêreldoorlog en Joodse volksmoord in Europa het tot die dringendheid hiervan bygedra,” sê Kleynhans.

Hierdie groot invloei blyk duidelik uit die bevolkingsgroei wat vanaf die laat 1880’s tot en met die 1920’s plaasgevind het. Dit is juis hierdie invloei van Jode wat bygedra het tot toenemende konflik in die gebied.

“Gedurende 1947 het die Verenigde Nasies (VN) as oplossing vir die konflik voorgestel dat die gebied in twee aparte onafhanklike lande verdeel moes word, naamlik ʼn Joodse Israel en ʼn Palestynse staat vir die Arabiere (Moslems en Christene) wat ook in die gebied gewoon het.

“Die gebied wat in 1947 aan die Arabiere gegee sou word, is veel groter as die gebied waarop die Palestyne vandag woon. Arabiese lande het egter negatief op die VN se voorstel gereageer en het die gebied uit Egipte, Jordanië en Sirië binnegeval. Die Jode het die oorlog gewen en die Israeliese staat is gebore,” verduidelik Kleynhans.

In hul onafhanklikheidsverklaring van 1948 het Israel beklemtoon dat hy vrede wil bewaar met Arabiese streeksgenote op die basis van gelyke burgerskap en verteenwoordiging in Israel. Die onafhanklikheidsverklaring stipuleer verder ʼn hand van samewerking wat aan buurstate uitgereik word ter bevordering van die welstand van die ganse streek.

David Ben Gurion, die eerste eerste minister van Israel, lees die Israeliese onafhanklikheidsverklaring voor op 14 Mei 1948 (Foto: Zoltan Kluger/GPO via Getty Images)

Na onafhanklikheidsverklaring het Israel egter groot konflik met hul buurstate ervaar. Die huidige Gasastrook is deur Egipte geannekseer en Jordanië het dit oorgeneem wat nou bekendstaan as die Wesoewer. Hierdie dispuut het sentreer rondom ʼn behoud van Arabiese beheer in die gebied.

Dit is spesifiek in hierdie dispuutgebiede waar konflik en selfs oorlog veral sedert 1967 tussen Israel en die Palestyne plaasgevind het.

“Die stryd teen Israel en Joodse besetting het dus meer gegaan oor Arabiese beheer oor die gebied as oor die oprigting van ʼn Palestynse staat. Die oprigting van ʼn Palestynse staat is nooit deur Arabiese lande in die gebied voorgestel nie en het eers ná die Sesdaagse Oorlog tussen Israel en Egipte, Jordanië en Sirië in 1967 ʼn voorstel geword, wat ook deur Arabiese lande voorgestel en ondersteun is,” verduidelik Kleynhans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henk ·

Hier is die verbond wat die Here met Abraham , Isak en Jakob gesluit het en die volgende gesê ; Ek sal seën die wat jou seën en vervloek die wat jou vervloek , en die grense van Israel vasgestel .
Toe Ramaphosa verkies is as pres 2017 of 18 het ek gesê hier kom n ramp , in sy eerste toespraak het hy teen Israel gal afgegaan . Woorde en dade het gevolge .

hpven ·

Israel, om dit ligtens te stel, weet hoe om terroriste te hanteer. Voor 1994 wat was die ANC? Die antwoord ken ons almal. Voor 1994 was Israel ons broers in oorlog teen terrorisme. Die ANC vrees Israel.

Johannes ·

Hierdie verloop van die geskiedenis moet gekommunikeer word na die ANC, want hulle staar hulle blind teen appartheid.

My siening ·

Israel is n land wat nie deur anctjies afgeskrik word nie, maar die anctjies se tjommies rusland putin word nou lekker plat geskiet o as ons maar net 1% so n goeie weermag soos Isreal gehad het, kon ons dalk iets beteken het, maar nou het ons net paloekas!

Alta ·

Dis Tyd dat die ANC die bybel lees!Isreal is die HERE se oogappel!Dit sou baie beter in die land gegaan het as hul Isreal ondersteun het!!!!Die Here staf ons!!!!!!

Mariana ·

ANC het geen morele standaarde nie. Hulle steek altyd hul arms uit om diesulkes soos Palestina Rusland, China en Kuba aan te hang. Hoekom? Want hulle vereenselwig hulle idees oor die wêreld en mense daarin. Kyk maar net na die geskiedenis van hulle almal.

Schalk ·

Praat van dubbel standaarde, hulle het geen tyd vir Israel of Jode nie, maar is vinnig om geld vir n Engelse sokkerspan te gee wat aan n Jood behoort. Min tussen die ore!!!!

gatgogga ·

Die wit mense van Suid Afrika was Israel nog altyd goedgesind. Maar ek dink die DisChem debakel het skade berokken.

Jannie van Niekerk ·

Due ANC is ‘n terrorsite organiusasie ondersteun hulle die Palestynse terroriste en vergeet geriefliheidshalwe al die Jode wat huile tydens apartheid gehelp het,

Nettie ·

“Die Jode het die oorlog gewen en die Israeliese staat is gebore,” verduidelik Kleynhans.

Klink of dieselfde met die Palestyne gebeur het as met die Boere in Transvaal.
“Die Engelse het die oorlog gewen en die Unie van Suid Afrika is gebore.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.