SA onttrek uitnodiging aan Israelse rugbyspan

Israel_vlag_argief

Argieffoto. (Foto: Ariel Schalit, AP)

Suid-Afrikaanse Rugby (Saru) het Vrydag aangekondig hy het ʼn uitnodiging aan die Israelse klub Tel Aviv Heat teruggetrek om in Maart aan ʼn kompetisie hier deel te neem.

Luidens ʼn persverklaring deur Saru Donderdag, sou Tel Aviv Heat saam met spanne van Spanje, Kenia, Namibië en Zimbabwe, asook ses Suid-Afrikaanse spanne aan die Mzanzi Challenge deelneem. Dit skop op 24 Maart af.

Skaars 24 uur later het Saru egter die Israelse klub ingelig dat die uitnodiging aan Israel onttrek is. ʼn Span van Mexiko sou glo dié span vervang.

Mark Alexander, president van Saru, sê die besluit is geneem “nadat ons na belangrike belangegroepe geluister het”.

“Ons het die besluit geneem om te verhoed dat die kompetisie ʼn bron van verdeeldheid word, ten spyte daarvan dat Israel ʼn lid van Wêreldrugby is.”

Volgens Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) is die verhouding tussen Suid-Afrika en Israel “stram”. “Daar is beperkte samewerking tussen Israel en Suid-Afrika.” Naledi Pandor, minister van Dirco, het ook al vantevore geen geheim daarvan gemaak dat die regering hom aan die kant van Palestina, met wie Israel dekades lank in ʼn bitter twis om grondgebied gewikkel is, skaar nie.

Nie alle Suid-Afrikaners stem egter saam met dié uitgangspunt nie.

Die organisasie South African Friends of Israel (Safi) het Vrydag gesê Saru kan sy kop in skaamte laat sak oor die besluit. “Dit is duidelik dat Saru geswig het voor die druk van pro-Palestina-groepe in Suid-Afrika. Dit is in direkte kontras met sy grondwet wat bepaal dat Saru ʼn nierassige, niepolitiese en demokratiese bedeling vir rugby in Suid-Afrika sal skep,” sê Safi.

“Israelse tegnologie en innovasie verskaf stabiele watertoevoer aan meer as ʼn miljoen mense in landelike dele van Suid-Afrika, maar ons kan hulle nie eens vir ʼn rugbywedstryd nooi nie.”

Safi oorweeg nou stappe teen Saru.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkies ·

Politieke inmengery is die hoof rede rede van die verkrummeling van alles in die land. Is Alexander nou ‘n politikus of rugby baas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.