Waterkrisis ‘veel erger’ as kragprobleme

Kenners waarsku die land se waterinfrastruktuur moet dringend opgeknap word. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika se waterprobleme is selfs groter as die land se veelbesproke kragkrisis en die land benodig nagenoeg R900 miljard om watersekerheid oor die lang termyn te verseker.

Benoit le Roy, hoof van die Suid-Afrikaanse Waterkamer, waarsku egter dat die land kwalik kan bekostig om langer met die opknapping van kritieke waterinfrastruktuur te sloer.

Die waterprobleme het die afgelope week opnuut duidelik geword toe Pretoria en Johannesburg se metrorade albei streng waterbeperkings moes instel en die krane in talle van die Goudstad se woonbuurte opgedroog het.

Rand Water het vroeër aangekondig dat fase 2-waterbeperkings ingestel moet word. Hoë temperature het die afgelope paar dae tot verhoogde watergebruik in die provinsie gelei, voortgesette beurtkrag het pompstasies tot stilstand gedwing en een van Rand Water se suiweringsaanlegte het boonop uitgeskop.

Le Roy verwys daarna as die perfekte storm. En hoewel daar geen droogte is nie, bly die krane leeg.

Bufferkapasiteit belangrik

Rand Water besig met herstelwerk aan een van sy pypleidings. (Foto: Rand Water/Twitter)

Wanneer stede ontwerp word, is die gebruik dat reservoirs genoeg water moet kan hou (die bufferkapasiteit) om voorraad vir twee dae of 48 uur lank te verseker. Indien daar dus ʼn kragonderbreking is of instandhoudingswerk gedoen moet word, het die stad rofweg twee dae om dit gedoen te kry, verduidelik Le Roy.

Wat die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika gebeur, is dat die bevolkingsgetalle toegeneem het, maar nie die reservoirkapasiteit nie.

“Ons het nie ʼn 48 uur-bufferkapasiteit nie,” sê Le Roy. “Nooit nie.”

Prof. Anthony Turton, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Sentrum vir Omgewingsbestuur, sê ook die probleem lê vierkant by infrastruktuur wat besig is om ineen te stort.

Hy sê die rede waarom daar geen water in sommige van Johannesburg se krane was nie, is omdat die stad bepaalde grootmaatopgaarkapasiteit in die verskaffingsgebied het. Dit word in ʼn reservoir en dan in ʼn watertoring gehou. Die reservoir gee stoorkapasiteit en die toring gee genoeg druk om water na verbruikers te herlei.

Weens beurtkrag kan die pompe egter nie werk nie en alles begin opdroog. Hoewel dit nie ʼn nuwe verskynsel is nie, het die lang tydperke waarbinne beurtkrag deesdae toegepas word, nou ʼn al hoe groter tol begin eis.

“Ons is besig om ʼn drempel oor te steek. Ons gaan ondervind dat groot stede oor Suid-Afrika heen probleme begin ondervind, mits Eskom die staantyd stabiliseer.”

Die waterinfrastruktuur is boonop nie ontwerp om leeg te staan of teen ʼn lae vlak bedryf te word nie – soos wat nou dikwels gebeur.

“Wanneer die stelsel droog loop, vervang lug die water. Wanneer dit weer begin opvul, word die lug saamgepers en kry jy skokgolwe wat ʼn bars op die swakste plek sal veroorsaak,” verduidelik Le Roy.

Boonop wil jy die stelsel so gou moontlik weer vol water kry, maar Le Roy sê tans is dit haas onmoontlik om dit op só ʼn groot skaal as wat nodig is, behoorlik te doen.

“Jy kan nog ʼn plan met kerse of sonkrag maak, maar sonder water is daar niks wat jy kan doen nie.”

Le Roy sê in ʼn stedelike opset is dit ook bykans onmoontlik om van die formele waternetwerk af te kom, soos wat met alternatiewe kragopwekking gebeur.

Sowat 70% van water wat ʼn stad inkom, verlaat dit boonop as rioolvuil en dit is nog ʼn rede waarom die stelsel dringend reggeruk moet word.

Rioolvuil het egter nie ʼn “bufferkapasiteit” van 48 uur nie en moet dadelik weggelei word, sê Le Roy. “Indien die situasie nie dringend beter bestuur word nie, kan rioolvuil in die strate begin afstroom.”

Stelsel lek soos ʼn sif

Lê die antwoord vir die probleem dus in veel meer spaarsame watergebruik onder verbruikers, soortgelyk aan die spaarsame gebruik van krag?

“Mense moet oordeelkundig wees, maar die probleem lê nie by verbruikers nie. Dit lê by die verspreiders van die produk.”

Le Roy verwys daarna as “lekkende emmer-sindroom”: water wat weens fisieke lekplekke en administratiewe probleme uit die stelsel stroom.

Die situasie is in hierdie stadium só beroerd dat 41 liter uit elke 100 liter water wat Rand Water aan die Johannesburgse metro voorsien, weens lekplekke verdwyn – en dit is selfs vóór dit gewone verbruikers bereik.

Vier liter, of sowat 10% van hierdie 41 liter, gaan verlore weens diefstal, administrasiefoute en mense wat nie rekeninge ontvang nie. Die ander 90% (van die 41 liter) lek bloot uit Johannesburg se waterstelsel.

Le Roy sê hierdie syfer is drie keer hoër as die aanvaarde gemiddeld. Vir ʼn goed bestuurde stelsel staan die syfer op ʼn verlies van 5% en ʼn verlies van 15% van kapasiteit word as aanvaarbaar beskou vir ou infrastruktuur, soos dié wat Suid-Afrika het.

Miljarde nodig vir instandhouding

Anders as met kragopwekking is dit vir die meeste mense onmoontlik om aan hul eie waterbehoeftes te voorsien. (Foto: Maroela Media)

Johannesburg besit nagenoeg R123 miljard se water- en sanitasiebates – die stad se grootste belegging in infrastruktuur – maar dit word verinneweer.

“Ons doen nie herstelwerk nie, ons doen lapwerk,” waarsku Le Roy. “Jy kan ook nie ons infrastruktuur herstel nie, jy moet dit vervang.”

Volgens Suid-Afrika se watermeesterplan benodig die land sowat R900 miljard om watersekerheid te verseker. Om dit in perspektief te plaas: Dit is bykans dubbel soveel as die sukkelende Eskom se ganse skuldlas.

Pleks daarvan dat geld aan opknappingswerk bestee word, word dit onder meer in salarisse aan die land se duisende raadslede betaal terwyl talle werkers nie eens behoorlik opgelei is nie, sê Le Roy.

Boonop betaal sowat 59% van alle huishoudings in Suid-Afrika nié vir hul water nie.

“Hoe hou jy ʼn stelsel op daardie manier aan die gang?

“Hierdie moet ʼn ernstige wekroep wees; beurtkrag en beurtwater op dieselfde tyd. Met water is ons doppie geklink.”

Hy sê dit is belangrik dat burgers aktief begin om die regering aanspreeklik te hou en beter dienslewering te eis. Dit sluit in die behoorlike bestuur van waterinfrastruktuur.

“Die werklikheid is dat ons van die regering afhanklik is. Staatsamptenare is daar om vir ons te werk. Ons as Suid-Afrikaners moet die regering verantwoordelik hou. Ons is reeds diep in hierdie krisis en die situasie is benard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Nog n verhaal oor die vlak van beplanning en tekort aan intelligensie in die ANC.

Jacobus ·

Neem politiek uit plaaslike bestuur, dis nog een van die NP se “briljante” besluite, waarvan ons nou die vrot vrugte pluk. Hordes onopgeleide, werkloses en ongeletterdes word deur die ANC as raadslede aangestel, en hulle stel hul onopgeleide familie en vriende as werkers aan, volmaakte resep vir ondergang.

Republikein in die Wes Kaap ·

Absoluut. Politiek is ‘n euwel op plaaslike vlak.

Realis Thailand ·

Ek gee die land nog so twee jaar dan sal die mesne sien wat regte tekorte is
Gaan kyk maar by Zimbabwe en leer om soos hulle tekorte te oorkom

Republikein in die Wes Kaap ·

In sekere dele van die gemeenskap is dit reeds Zimbabwe. Die res van ons sal volg.

Realis Thailand ·

Ek het vir 20 jaar in die Wes Kaap gewoon en het nog steeds “gevlug”
My kinders woon nog steeds op Kleinmond behalwe my een kleinseun wie permanent in Sjina woon
Nou woon ek in salige vrede met geen misdaad en geen probleme met ander mense nie

Neestemmer ·

Nog ‘n sukses storie waar die ANC bobbejane baie suksesvol was om ons infrastruktuur te verwoes terwyl ons hulle ten duurste daarvoor betaal. Ons moet water spaar deur seker nie meer te bad nie, asof dit die oplossing gaan bring vir die lekke in die sisteem wat 41% verloor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.