WB-eindstryd dalk blaser Barnes se laaste toets

Die Britse skeidsregter Wayne Barnes op die veld in ‘n wedstryd tussen die Springbokke en Frankryk in November verlede jaar. (Foto: Jean Catuffe/DPPI/AFP)

Hy is ʼn man wat fluit terwyl hy werk. Maar Wayne Barnes, skeidsregter in die naweek se eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi, het verlede jaar oorweeg om dié einste fluitjie op te hang ná aanlyn boeliery en dreigemente waarby sy gesin ook ingesleep is.

Die vlaag kritiek en dreigemente het gevolg ná opmerkings op X (voorheen Twitter) deur SA Rugby se direkteur van rugby, Rassie Erasmus.

Die 44-jarige Engelsman het ondanks die herrie egter daarteen besluit om uit te tree en eerder net op sy suksesvolle regsloopbaan te fokus. Sondag sal hy in beheer wees van wat waarskynlik ʼn nuwe blaasrekord van 111 toetse – en waarskynlik Barnes se laaste – sal wees.

Barnes moet Saterdag beheer neem in die stryd tussen Erasmus se verdedigende kampioene, die Springbokke, en Nieu-Seeland – en die wenners in die titaniese eindstryd sal die Webb Ellis-trofee vir ʼn geskiedkundige vierde keer omhoog hou.

Erasmus se twiets oor Barnes se hantering van die wedstryd tussen Suid-Afrika en Frankryk in November verlede jaar (Frankryk het met 30-26 geseëvier) het aan die Suid-Afrikaner ʼn skorsing van twee wedstryde besorg, slegs weke nadat hy van ʼn jaar lange skorsing teruggekeer het vir ander uitlokkende twiets.

“Ek offer op, maar my gesin maak ook opofferings en jy dink tóg ‘ek het ʼn ander ordentlike werk waarheen ek kan gaan’,” het Barnes aan die podsending The Good, the Bad and The Rugby in Desember verlede jaar gesê.

“Ek is ʼn vennoot by ʼn regsfirma en hulle is gretig dat ek voltyds terugkeer.

“Natuurlik bevraagteken jy dit en daar is ʼn deurlopende gesprek met jou gesin.”

Barnes se vrou, Polly, is in daardie stadium met “seksuele geweld” gedreig en sy en die egpaar se kinders het doodsdreigemente ontvang.

“Ek het klomp goed die afgelope paar jaar gesien, maar die ontvang van regstreekse boodskappe van sogenaamde rugby-ondersteuners wat dreig om jou kinders dood te maak en jou huis af te brand met jou gesin daarbinne, net oor ʼn paar besluite op die veld, is ʼn nuwe laagtepunt vir my, my gesin en ʼn plaag vir die ganse spel,” het Polly Barnes getwiet.

Immer die koelkop advokaat, was selfs Barnes geskok deur die vlak en gewelddadigheid van die boodskappe.

“Wanneer jy 100 wedstryde agter die rug het, dink jy dat jy vir die meeste dinge kan voorberei.

“Jy kan nie dáárvoor voorberei nie.

“Ek gee nie om dat mense my vertoning kritiseer nie en as hulle my direk wil aanval, is dit hul keuse. Maar dit was nie net ʼn grens wat oorgesteek is nie. Jy kon nie eens meer die grens sien nie – dit is hoe ver dit gegaan het.”

‘Finansiële situasie’

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Barnes sê hy weet nie of Erasmus se twiets regstreeks verantwoordelik hiervoor was nie, maar hy het dit duidelik gemaak dat mense in senior posisies ʼn plig het om hul menings uit die openbare domein te hou.

Hy sê indien mense sien dat diegene in magsposisies, waar hulle veronderstel is om die waardes van die spel te handhaaf, skeidsregters openlik kritiseer, laat dit mense dink dat hulle dieselfde kan doen.

Barnes het as 15-jarige die eerste keer as skeidsregter opgetree by die skool waar hy later hoofseun sou word.

En sy lang rugbyloopbaan het vele gelukkige oomblikke ook.

Hy het in 2018 aan Rugby World vertel hoe twee spelers – Donnacha Ryan van Racing 92 en Leinster se Tadhg Furlong – hom en sy twee assistente ná afloop van die wedstryd in hul kleedkamer besoek het. Albei was in vrolike luim nadat die Ierse provinsie die Franse span met 15-12 in die finaal van die Europese beker verslaan het.

“Om ʼn speler in die wenspan en ʼn speler in die verloorspan in ons kleedkamer te sien, spreek boekdele vir die spel,” het Barnes gesê.

“Daar is ʼn lekker verhouding tussen ons almal en ons werk lekker saam – spelers, afrigters en skeidsregters.

“Ons kan praat oor hoe die spel verander en vooruitgaan.”

Barnes het nietemin in ʼn stadium oorweeg om sy regsloopbaan op te sê om op sy skeidsregterswerk te fokus.

“Weens die finansiële situasie was dit onvermydelik. Ek het lang tye by my werk as advokaat afgeneem en omdat ek vir myself gewerk het, moes iets bes gee,” het hy in 2007 aan rugby365.com gesê.

Skeidsregter Wayne Barnes en lynregters Matthew Carley (links) en Christoph Ridley (regs) stap vir die kwarteindstryd tussen Ierland en Nieu-Seeland op die veld van die Stade de France. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Hy kon uiteindelik tog ʼn balans vind en meen ook dat die een beroep die ander aanvul.

“As advokaat moet jy die sleutelfeite kan uitsoek, of jy nou verdedig of aankla,” het hy gesê.

“Dit gaan oor aandag aan detail en die kies van tersaaklike feite – dit kan oorgedra word.

“Die ontleding van regsteks is deel van albei beroepe; jy moet die wette ken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacobus ·

Solank hy net regverdig tot op die reels en kosekwent blaas gaan ek nie n probleem he nie. Sal maar moet sien.

Sarel ·

Britse Skeidsregter vir die Finaal en SA is betrokke.
Nie goeie nuus nie

Papsak ·

Wel ek hoop hierdie skeidsregter gaan regverdig wees die all blacks ken hulle plek maar weet nie so mooi van die bokke nie en Rassie moet hom ook gedra

Aai ·

Hy kan nie regverdig blaas as hy Rassie die skuld gee vir dreigemente ?Hy nie onpartydig.

Niklaas ·

Laat ons maar sien hoe hanteer hy die wedstryd. Ek is effe bekommerd oor die 50/50 beslissings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.