Weduwee nóg ʼn week agter tralies

Die landdroshof in Kempton Park. (Foto: Tania Heyns)

Caroline Ann Travers het Woensdag trane in die Kempton Park-streekhof afgevee nadat haar borgtogaansoek met ’n week uitgestel is.

Die borgtogaansoek sal boonop volgende week as skedule 5 geklassifiseer word, wat beteken dat die verdediging sal moet bewys dat hul kliënt se vrylating in die belang van geregtigheid is.

Travers (49) staan tereg op die moord op haar man, Gregor Travers, wat verlede maand ná ’n brand by hul huis in Norkem Park dood is.

Travers het vroeër in die hof erken dat sy die betrokke aand ’n “klein, beheersde” brand by hul huis gestig het. Sy ontken egter dat sy enige aandeel daarin gehad het dat haar man dié aand ernstige brandwonde opgedoen het – brandwonde waaraan hy dae later in die hospitaal beswyk het.

Gregor se weduwee voer aan hy het self die brandende huis ingehardloop.

Travers het vanoggend vlugtig in die beskuldigdebank verskyn voordat sy tydelik terug na die hof se aanhoudingselle gestuur is. Die staatsaanklaer het aangedui dat die verdediging ’n alternatiewe woonadres vir Travers sal moet verskaf aangesien sy weens die brand nie na haar huis sal kan terugkeer sou sy op borgtog vrygelaat word nie.

Travers was sigbaar geïrriteerd met die vertraging.

Die saak is later weer voor die hof geroep nadat die verdediging ’n alternatiewe adres verskaf het. Dié adres moet egter nou nagegaan word en die borgtogaansoek is tot volgende week uitgestel.

Gregor Travers (Foto: Verskaf)

Travers het tydens haar vorige hofverskyning aangevoer dat Gregor ’n volslae alkoholis was wat haar fisiek, emosioneel en geestelik mishandel het.

Volgens Travers was Gregor die aand dronk toe sy ’n “klein en beheersde brand” in die huis gestig het.

Die egpaar se huis in Norkem Park was in vlamme gehul toe die nooddiens op 12 Maart in die vroeë oggendure na die huis ontbied is.

“Die polisie op die toneel kan daarvan getuig dat my man ongedeerd buite die huis gestaan het toe ek in hegtenis geneem is. Ek het toe nie weer die [brandende] huis ingegaan of enigiets met my man te doen gehad nie,” het Travers tydens haar vorige verskyning vanuit die beskuldigdebank vertel. Sy het voorts aangevoer dat haar man daarna weer die huis ingehardloop en die noodlottige wonde opgedoen het.

Travers se weergawe is egter strydig met die inligting wat die polisie kort ná die voorval aan die publiek verskaf het. Volgens die polisie se aanvanklike verklaring het Travers op die toneel aan ’n vrou erken dat sy die brand gestig het en gesê sy hoop haar man brand dood.

Luidens die verklaring is petrol op die toneel gevind.

Travers ontken dit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Verstaan nie hoe hul nog borg kan toestaan aan moordenaars nie. Snaaks dat ‘n “klein beheerde” brand hom sy lewe gekos het en me het absoluut skotvry van die “klein beheerde” brand ontsnap. Hierdie kommunistiese wettelose land van ons ……………………………………

Koen ·

Dit het niks met die land te doen nie. Dis die mense wat so optree. Dis tyd dat elkeen verantwoordlikheid vat vir wat hy/sy doen.

Sandra ·

Sy het ‘n klein beheersde brand begin, ja, wat die hele huis afgebrand het en nogals bo op dit iemand se dood veroorsaak het, en nou is sy geirriteerd oor die borgtog uitgestel is.

My Mening ·

Ek hoop van harte geregtig geskied. Daar is hopeloos te veel mense wat wegkom, letterlik met moord.

Waarnemer ·

Die waarheid sal uitkom….wie weet,dalk het hierdie man se alkoholosme die arme vrou regtig sover gedryf of dalk het die man self in die brandende huis ingehardloop om sy laaste glas brandewyn en coke te probeer red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.