Weerdiens waarsku oor winde, vloede

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat twee winterweerstelsels vandeesweek gelyktydig oor Suid-Afrika sal beweeg wat nie net met koue weersomstandighede gepaard sal gaan nie, maar ook swaar reën en moontlike vloede tot gevolg kan hê.

Die weerdiens het ook gewaarsku teen sterk winde wat padgebruikers in dele van die Vrystaat kan beïnvloed.

Die weerdiens het Woensdag reeds voorspel dat ’n kouefront teen Donderdagoggend die Wes-Kaap sal tref. Dit sal tot gevolg hê dat temperatuurdalings, sneeu, beduidende reënval en sterk winde van Donderdag af in groot gedeeltes van die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natalse kus verwag kan word.

Volgens Hannelee Doubell, woordvoerder van die weerdiens, kan wydverspreide reënval van 15 tot 35 mm en sterk winde oor die suidelike dele van die Wes-Kaap en die suidwestelike dele van die Oos-Kaap verwag word. Reënval van tussen 40 en 50 mm word ook langs die kus- en aangrensende bergstreke van die oostelike Tuinroete-distrik van die Wes-Kaap en die suidkus en aangrensende binneland van die Oos-Kaap voorspel. Dit kan moontlik tot plaaslike oorstromings lei.

Die weerdiens voorspel ook sneeu oor die Drakensberge, hoogliggende gebiede van die Vrystaat, die Oos- en die Wes-Kaap wat tot die naweek sal duur.

Die N3TC-tolkonsessie het Woensdagmiddag ʼn waarskuwing  aan padgebruikers uitgereik om van Donderdag tot Sondag versigtig te wees op die N3-tolpad, aangesien sneeu en sterk winde verwag word. Gebiede langs die N3-tolpad wat moontlik deur hierdie weerstoestande geraak sal word, sluit in die Dihlabeng-, Maluti a Phofung- en Phumelela-distrik in die Vrystaat.

Volgens die N3TC kan paaie en vervoer hierdeur geraak word en dit kan tot vertragings en verkeersopeenhopings lei.

“Motoriste word aangemoedig om eerder hul reisplanne uit te stel of hulself voor te berei op veeleisende padtoestande,” sê Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC. “Vervoer en logistieke operateurs, veral diegene met vee en bederfbare goedere, moet kennis neem dat padverkeer moontlik ontwrig kan word.

“As jy geen ander opsie het as om van die pad gebruik te maak nie, raai ons aan dat jy op hoogte bly van weerwaarskuwings en die moontlikheid van padsluitings. Die toestande kan moontlik vinnig verander. Bly dus selfs op hoogte terwyl jy reeds op die pad is. Pak ekstra komberse, kos en snoepgoed in jou motor indien jy dalk in ʼn lang sluiting vasgekeer word. Persone met mediese toestande moet ook seker maak dat hulle voldoende mediese voorraad en medikasie by hulle hou.”

Weersomstandighede kan ook tot kragonderbrekings lei en kommunikasiestelsels kan moontlik onder druk geplaas word. “Hou in gedagte dat jy dalk nie kontak sal kan maak met ander mense indien selfoon- en ander telekommunikasiedienste afgeskakel word nie.”

Die kouefront sal teen Vrydag in die rigting van Gauteng en Mpumalanga beweeg.

ʼn Afsnylaagdrukstelsel sal teen Vrydag oor die westelike dele van die binneland vorm. Dit sal ook reën- en donderbuie in die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die Vrystaat sowel as die noordelike en oostelike dele van die Oos-Kaap veroorsaak. Inwoners in hierdie gebiede kan tussen 30 en 40 mm reënval tussen Vrydag en Saterdag verwag.

Volgens Doubell word boere in die gebiede wat erge koue, sneeu en reën gaan ervaar, aangeraai om voorsorg te tref dat hul vee teen hierdie weersomstandighede beskut is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

En sal die shacks wat op die vloed lyne gebou is weer weg spoel en die regering en plaaslike organisasies weer voorsien?

Cherokee ·

Die laaste paragraaf is uiters belangrik. Sien om na jul diere ook.

Phillip ·

Gee glad nie om nie so lank die le damme kan vol kom en die droe plekke kan reen kry . ons kan die koue trotseer . Maar kan nie Reen maak nie

Hendrik Marthinus ·

Dit reen al die afgelope maand nogal al hoe Meer, veral die Oos Kaap.
Vandag reen dit rerig hard en aanhoudend, Hoop ons Lee dame kry nou behoorlike water.
Soms voel dit na al die reen dat die dame moes goeie reen gekry het.
Net om n dag of so daarna te hoor amper niks in opvangs gebiede.
Tog hoor jy so te se by die damme(Kouga) het die weerburo goeie reenval gemeet.
Voel regtig die dame het sambrele oor hulle.

marius ·

Wat van julle gaan op julle kniee van dankbaarheid ? Dis geen wonder hierdie plek is ‘n hool nie !

Irma ·

marius, ek wonder hoekom is daar afduimpies op hierdie baie belangrike en regverdige versoek van jou tot die mense in Suid-Afrika.? Jy se tereg geen wonder Suid-Afrika het in ‘n hool verander.

Anoniem ·

Ek het Maandag verby die Theewaterskloof dam gery, wat ‘n pragtige gesig om die dam weer vol te sien. Hoop die Karoo kan ook reën kry, want boerdery daar het plek plek feitlik tot stilstand gekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.