Weerdiens waarsku teen donderstorms, reën

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Verskeie waarskuwings teen reën en donderstorms geld Saterdag oor dele van die land.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir reën in groot dele van KwaZulu-Natal uitgereik waar wydverspreide buie en donderbuie vandag heeldag voorspel word.

Verskeie motorongelukke is reeds vanoggend weens die nat toestande aangemeld.

Beduidende hoeveelhede reën is vir vanoggend oor die suidoostelike dele verwag voordat dit na verwagting teen laatoggend na die noordelike dele van KwaZulu-Natal sal versprei. Reënval van meer as 40 mm kan in sommige dele verwag word.

ʼn Geel vlak 4-waarskuwing vir donderstorms in Mpumalanga, veral die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, is intussen ook uitgereik. Dié waarskuwing geld van 11:00 tot 23:00 wanneer swaar reën in die platorand en laeveld van Mpumalanga verwag word.

“Reënval van 40 tot 60 mm is op plekke moontlik en kan binne ʼn kort tydperk val. Dit kan lei tot oorstromings van paaie, brûe en formele en informele nedersettings. Rukwinde kan ook met hierdie storms gepaardgaan,” waarsku die weerdiens.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir donderstorms is ook vir dele van Mpumalanga, waaronder die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit, asook die sentrale en suidelike dele van Limpopo uitgereik.

Dié waarskuwing geld van 12:00 tot 23:00 met tekens van tussen 20 en 30 mm reën. Die reën gaan waarskynlik ook binne ʼn kort tydperk uitsak wat gelokaliseerde oorstromings tot gevolg kan hê – veral in gebiede wat onlangs reën gehad het.

Teen 15:00 sal ʼn geel vlak 2-waarskuwing teen donderstorms ook in die suide en suidoostelike dele van Limpopo geld. Dit sluit in die Mopani- en Sekhukhune-distriksmunisipaliteit.

Reën van 20 tot 30 mm sal vermoedelik vanaf laatmiddag hiér uitsak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.