Weerdiens waarsku teen wind, brande dié naweek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Noord- en Wes-Kapenaars sal Sondagoggend met ’n kouefront begroet word.

Die kouefront sal na verwagting stormsterk winde in die Kaapse wynland en oostelike binneland van die Wes-Kaap tot die suidelike hoërliggende gebiede van Namakwa in die Noord-Kaap meebring en ’n geel vlak 2-waarskuwing vir dié gebiede sal Sondagmiddag geld.

Motoriste word voorts gewaarsku dat die wind bestuurstoestande op hoofroetes soos die N1 naby Worcester in die Wes-Kaap sal bemoeilik.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ook vir Sondag ’n geel vlak 3-waarskuwing vir stormsterk wind aan die kus van die Noord-Kaap, asook die wes-, suidwestelike en suidkus van die Wes-Kaap uitgereik.

Luidens dié waarskuwing word ’n kombinasie van wes- tot suidwestelike deinings van 4,0 m tot 5,0 m en sterk tot stormsterk noordwestelike tot westelike winde (65 km tot 75 km per uur) tussen Alexanderbaai en Plettenbergbaai vanaf Sondagoggend verwag.

Teen Maandag sal golwe suid van Saldanhabaai tot by Plettenbergbaai na verwagting 5,5 m tot 6 m hoog bereik. “Dié toestande sal bydra tot onstuimige seetoestande,” waarsku die weerdiens.

Brande

Die provinsiale rampbestuursentrum in Bloemfontein in die Vrystaat waarsku intussen ook teen uiters hoë brandgevaartoestande in dié provinsie vanaf Saterdag tot Sondag.

“Veldbrande breek maklik onder hierdie toestande uit en versprei vinnig,” lui die waarskuwing.

Vrystaters word aangeraai om die naweek geen vuurhoutjies, warm as of sigarette in die veld te gooi nie, terwyl brandbestryders aangemoedig word om brandbestrydingstoerusting gereed te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.